Tuesday, December 16, 2025

Smaaklike biltong-karkaskompetisie

Estimated reading time: 3 minutes

Kompetisie in die handel is oral baie straf. Om aan die voorpunt te bly, moet die bestuur van ondernemings buite die boks dink. Dit is presies wat die span van Excelsior Abattoir op Kuruman gedoen het met die biltong-karkaskompetisie wat Saterdag, 31 Mei 2025 ten einde geloop het toe die wenners by ‘n funksie aangewys is.

Dit is merkwaardig dat al die karkasse reeds voor die aanvang van die kompetisie aan slaghuise regoor die land verkoop is vir die maak van biltong. Vragmotors met koeltrokke het reeds in rye gestaan om die geslagte karkasse op te laai.

Sedert die aanvang van die kompetisie het die belangstelling onder veetelers elke jaar gegroei. Vanjaar het 413 deelnemers ingeskryf en die beste karkas moes uit 609 beeste gekies word.

“Ek was vanjaar op ’n stadium bang dat ek te min karkasse beskikbaar gaan hê vir die groot aanvraag,” gesels Rianes de Klerk, bestuurder van die abattoir, wat ook as die beoordelaar van die kompetisie opgetree het.

Biltongmark word onderskat

“Elke plaas het maar een of twee vet koeie wat verby haar produksietyd is. Hierdie diere is nie meer veel werd vir die produsent nie, maar die biltongmakers soek graag daardie lekker geelvet-beesvleis om biltong te maak. Die biltongmark is egter ’n mark wat onderskat word en word elke jaar groter. Daar word eintlik baie min gedoen om inligting rondom biltong en biltongvleis aan mense bekend te stel,” vertel hy glimlaggend.

Sowat vyf jaar gelede het abattoir begin om ’n biltong-karkaskompetisie te loods waar lekker vet beeste ingeskryf word. Hy sê die kompetisie word ook aangebied om boere die geleentheid te gee om by mekaar te kuier.

“Die karkas wat die beste ‘Suid-Afrikaanse biltong-standaard’ met ’n stewige stukkie geelvet aan het word as die wenkarkas uitgesonder,” verduidelik hy verder.

Kriteria vir ’n biltongkarkas

De Klerk noem ook dat die kriteria vir die beoordeling van die biltongkarkasse nie dieselfde is as die Samic-kriteria nie. “Samic bied ’n A-graadkompetisie aan terwyl ons in hierdie kompetisie kyk na die snitte waarvan jy biltong maak. Nog ’n kriterium is om te kyk na die grootste opbrengs wat jy uit daardie snitte gaan kry, asook die kleur en verspreiding van vet op daardie snitte. Hoe geler die vet, hoe beter die biltong. Wit vet smaak soos boerseep,” het hy tong in die kies bygevoeg.

Wenners vir 2025

Dit was geen maklike taak om die wenners uit hierdie groep te kies nie, maar twee telers uit die Vryburg-distrik het uiteindelik skouers geskuur om die wentrofee te ontvang. Willem Scholtz van die Scholtz Brangus Boerdery in die Louwna-gebied het vyf beeste vir die kompetisie ingeskryf en al vyf hierdie karkasse was onder die finaliste in die kompetisie. Hy het die enkel karkaswenner in die kompetisie gelewer. Die reserwe groepwenners is ook uit die Scholtz Brangus Boerdery se kudde.

  • Van links is Rianes de Klerk en Willem Scholtz van Louwna by sy wenkarkasse. Scholtz se Brangus-karkas is vanjaar weer as die enkel karkaswenner aangewys. Hy was verlede jaar ook as die wenner aangewys. Scholtz het ook die reserwe groep karkasse in die kompetisie vertoon.

Willie de Jager van die plaas Doornhaag in die Vryburg-distrik het die silwer (tweede plek) sowel as die brons (derde plek) enkel karkaswenners opgelewer. Sy groep van twee Santa Getrudis-koeie was die groepwenners tydens die kompetisie.

Excelsior Abattoir het al die boere, gaste, en belangstellendes op verversings en ’n heerlike middagete getrakteer by die André Kock Veilingskrale op Kuruman. Verskeie uitstallers het hul produkte vir boere hier ten toon gestel. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Related

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic) is just about carcass competitions, think again. The company’s primary...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar te boer. Sou hy hierdie doelwit wil bereik, moet sy...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies and non-biting flies. Face flies are also important disease vectors...