Tuesday, December 16, 2025

Mieliekuilvoer vir doeltreffende melkbeesvoeding

Estimated reading time: 6 minutes

Kuilvoer is gepreserveerde voer wat deur middel van fermentasie onder anaërobiese (suurstofvrye) toestande gemaak word.

Mieliekuilvoer word geproduseer deur die hele mielieplant in ’n spesifieke groeistadium met ’n kuilvoerkerwer af te sny, dit fyn te kerf en in lugdigte bunkers of silo’s te bêre waar melksuurbakterieë die suikers tot organiese sure fermenteer.

Hierdie proses preserveer die voer, terwyl die voedingswaarde daarvan grootliks behoue bly.

Mieliekuilvoer is uniek omdat dit energie (van stysel in die mieliegraan) met verteerbare vesel (van plantblare en stingels) kombineer. Só word fermenteerbare koolhidrate aan die rumenmikrobes verskaf, wat dit ’n gebalanseerde ruvoerbron vir melkkoeie maak.

Belangrike oorwegings

Kultivarkeuse: Goeie kuilvoer begin met die keuse van ’n geskikte mieliekultivar met goeie kuilvoermaakeienskappe, soos hoëopbrengs mieliebasters met beproefde kuilvoerprestasie, of basters met ’n hoë graan- en styselinhoud vir energie. Siektebestande kultivars beperk oesverliese, terwyl sekere kultivars langer groen bly en hul blaargehalte tydens volwassenheid behou. Vir optimale plaaslike aanpasbaarheid moet kultivars geselekteer word wat goed presteer onder die betrokke streek se klimaats- en groeitoestande.

Optimale plantpraktyke: Mielies moet teen die aanbevole plantestand en ryspasiëring vir die spesifieke omstandighede, afhangend van plaaslike grond-, vog- en klimaatstoestande asook droëland- of besproeiingsdoeleindes, geplant word. Gebalanseerde bemesting met veral stikstof, fosfaat en kalium is belangrik om hoë biomassa-opbrengste en -gehalte te bevorder. Toets die grond se pH gereeld en doen regstellings voor die plantseisoen. Mielies groei die beste in ’n grond-pH-reeks van 6 tot 7,2 (pH water). ’n Gebalanseerde pH is noodsaaklik vir die ontsluiting van voedingstowwe soos stikstof, fosfor, kalsium en magnesium, wat dit meer toeganklik vir die wortels maak.

Optimale oestyd: Die tydsberekening van oestyd is die belangrikste besluit in kuilvoerproduksie. Oes wanneer die mieliepitte op die half- tot driekwartmelklyn is. ’n Droëmateriaal (DM)-inhoud van ongeveer 35% is ideaal. Die DM-inhoud behoort met sowat 0,5% per dag toe te neem. Deur te vroeg te oes lei tot ’n lae styselinhoud en hoë logingsverliese van voedingstowwe, terwyl te laat oes moeilike kompaksie, swakker fermentasie en verlaagde verteerbaarheid kan veroorsaak.

Kerf en verwerking: Kerf mielies in lengtes van 8 tot 12mm om kompaksie en fermentasie te verbeter. Gebruik skerp lemme om ’n skoon snit te verseker. Handhaaf ’n eenvormige kerflengte vir beter kompaktering en uitsluiting van lug. Vergruis pitte tydens die kerfproses om styselbeskikbaarheid te verbeter.

Inokulante: Inokulante is mikrobiese bymiddels wat voordelige bakterieë, hoofsaaklik melksuurbakterieë, bevat wat ’n vinniger en meer stabiele fermentasieproses bevorder. Kuilvoerinokulante word tydens die kerfproses toegedien en verbeter mieliekuilvoer deur melksuurproduksie te versnel. Dit lei tot vinniger, meer doeltreffende fermentasie en pH-verlaging, wat preserveerbaarheid verbeter en verliese verminder. Hetero-fermentatiewe inokulante kan ook die aërobiese stabiliteit verbeter nadat ’n bunker oopgemaak is; dus minder giste en muf. In sommige gevalle verhoog dit die smaaklikheid, voerinname en verteerbaarheid van kuilvoer.

Vul en kompaksie: Vul bunkers of silo’s so vinnig as moontlik om blootstelling aan suurstof te beperk. Kompakteer dit deeglik om lug uit te skakel en sodoende anaërobiese fermentasie te verseker. Verseël met lugdigte plastiek en bedek die seil met grond, bande of sandsakke.

Fermentasie en berging: Laat ses weke toe vir behoorlike fermentasie voordat kuilvoer gevoer word. Kuilvoer moenie meer warm wees wanneer dit gevoer word nie. Sodra die bunker oopgemaak is, kan die kuilvoer daagliks in vertikale lae van minstens 10 tot 15cm verwyder word om bederf te voorkom. Hou die voorkant van die bunker reguit en skoon om aërobiese agteruitgang te beperk. Goedgemaakte kuilvoer kan vir jare met minimale voedingstofverliese gestoor word, mits blootstelling aan suurstof vermy word.

Só lyk goeie gehalte mieliekuilvoer

Hoë-gehalte mieliekuilvoer het eienskappe wat deur gereelde visuele inspeksie en laboratoriumontledings gemonitor moet word om akkurate rantsoensamestelling te verseker en melkkoeie se prestasie te verbeter:

  • Min of geen duidelike reuk. Melksuur, die dominante suur wat tydens gesonde fermentasie deur melksuurbakterieë geproduseer word, het amper geen reuk nie. Dit verlaag die pH van die kuilvoer, wat ’n suur omgewing skep en die groei van bederforganismes voorkom.
  • ’n Geelgroen kleur.
  • Ferm, goed-gekompakteerde tekstuur sonder muf.
  • pH-vlak tussen 3,8 en 4,2.
  • DM-inhoud van ongeveer 35%.
  • Ruproteïeninhoud van 7 tot 9% (DM-basis).
  • Neutraalbestande vesel (NDF) van 35 tot 45% (DM-basis).
  • Styselinhoud van 30 tot 35% (DM-basis).

Kuilvoer in die melkkoeidieet

Mieliekuilvoer is styselryk en ’n uitstekende energiebron vir hoë-potensiaal melkkoeie. Energie is belangrik vir melkproduksie, die instandhouding van liggaamskondisie en optimale reproduktiewe prestasie.

NDF in mieliekuilvoer stimuleer herkou en verhoog speekselproduksie, wat die rumen-pH reguleer en ’n gesonde mikrobiese populasie bevorder. Voldoende veselinname voorkom metaboliese steurnisse soos asidose.

Mieliekuilvoer het ’n relatiewe lae ruproteïeninhoud van 7 tot 9% en moet dus aangevul word met proteïenbronne soos sojaboonmeel, kanolameel of peulgewasse. Hoë styselverteerbaarheid in mieliekuilvoer verbeter voeromsetdoeltreffendheid, wat lei tot ’n hoër melkproduksie per kg DM wat ingeneem word.

Studies toon dat melkkoeie wat hoëgehalte mieliekuilvoer ontvang, oor die algemeen meer melk produseer weens verhoogde energie-inname, terwyl hul melkvetpersentasie weens die verteerbare vesel verbeter. Hul reproduktiewe prestasie verbeter ook as gevolg van beter liggaamskondisie.

Kuilvoer help met meer konstante melkproduksie in weidingstelsels, waar seisoenale wisseling andersins produksie sou verminder.

Mieliekuilvoer vorm dikwels die basisruvoer van ’n TGR of totaal gemengde rantsoen, wat algemeen 30 tot 60% van die rantsoen se DM uitmaak. Dit word gewoonlik gebalanseer met proteïen-aanvullings soos sojaboon-, katoen- of kanola-oliekoek; vitamiene en minerale soos kalsium, fosfor en magnesium; en ander ruvoere soos lusernhooi, grashooi of graskuilvoer.

Tabel 1: TGR vs weidingstelsels met mieliekuilvoer.

In weidingsgebaseerde stelsels dien mieliekuilvoer dikwels as ’n strategiese aanvulling. Gedurende droë seisoene of in die winter, wanneer weidingsgroei beperk is, help mieliekuilvoer om ruvoertekorte aan te vul en melkproduksie te handhaaf.

Kuilvoer kan ook as ’n buffervoer gebruik word wanneer weiding van swakker gehalte is en dien dan as ’n betroubare energiebron om die dieet te balanseer. In hoër-produserende kuddes verhoog dit die DM- en energie-inname wat weiding alleen kan verskaf.

Mieliekuilvoerproduksie het ’n paar uitdagings. Swak verseëling en onvoldoende kompaksie laat lug binne (aërobiese bederf), wat muf en mikotoksiene kan veroorsaak en skadelik vir beeste is.

Te laat oes of swak berging kan ook aansienlike voedingstofverliese van veral stysel en oplosbare koolhidrate veroorsaak. Dit is belangrik om te weet dat kuilvoer alleen nie aan melkkoeie se proteïenbehoeftes kan voldoen nie. Goeie aanvulling is noodsaaklik.

Mieliekuilvoer vorm ’n hoeksteen van melkbeesvoeding en bied ’n betroubare, energiedigte en kostedoeltreffende ruvoerbron. Vir melkboere is mieliekuilvoer meer as net voer – dit is ’n strategie vir volhoubare produksie en winsgewendheid. – Pieter Brönn, professionele natuurwetenskaplike, Feedtek

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Pieter by pieter@feedtek.co.za of besoek www.feedtek.co.za

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...