Estimated reading time: 4 minutes
- Hoë-energie kuilvoer soos mieliekuilvoer bevat meer voedingswaarde as normale hooi.
- Kuilvoer is makliker verteerbaar as gevolg van die graankomponent.
- Dit is makliker om hooi te berg solank dit droog bly.
- Dit is meer arbeidsintensief om kuilvoer te produseer en te berg, maar kan beter voerdoeltreffendheid in die hand werk.
- In ’n voerkraal lê die geheim daarin om te bepaal wat jy vir elke energiebron gaan betaal en dan jou somme te maak om te sien of die voerkraal koste-doeltreffend bestuur word.
Die meeste rooivleis wat by die Suid-Afrikaanse verbruiker uitkom het ’n paadjie deur die voerkraal geloop. Dit is dikwels groot kommersiële voerkrale wat daarop fokus om jong diere aan te koop en vir die abattoir gereed te kry.
Voerkraalstelsels is veral nuttig omdat dit produksie verhoog (beeste groei vinniger), wat die totale koste van vleisproduksie verminder. Dit bied ook ’n beheerbare omgewing waarin diere se gesondheid, voeding en produksie akkuraat gemonitor kan word.
Kuilvoer is lonend
Vir Paul Gouws, die Sparta-groep se voerkraalbestuurder op Marquard, is kuilvoer ongetwyfeld ‘n manier om tot hierdie prosesse by te dra. Hoë-energie kuilvoer soos mieliekuilvoer bevat meer voedingswaarde as normale hooi en is smaakliker as hooi, wat die dier se voerinname verbeter. Gegewe huidige hooipryse, is kuilvoer boonop meer kostedoeltreffend as ander ruvoerbronne.
“Goeie kuilvoer het nie net hoë energiewaarde en ruvoerwaarde nie, maar voorsien die rantsoen ook van voginhoud wat weer help met stofbeheer en smaaklikheid.”
Hy sê kuilvoer en hooi is albei algemene voerkommoditeite, maar het sleutelverskille in terme van voedingswaarde, verteerbaarheid en bergingsvereistes. Dit dra alles by tot die uiteindelike winsfaktor.
Hooi is gewoonlik meer geskik vir kleinskaalse bedrywighede waar eenvoudige berging en laer vog verkies word, terwyl kuilvoer beter is vir hoë-opbrengs beesvleisafronding en intensiewe voerstelsels waar die voeding en energie werklik saak maak. Paul het ’n paar vergelykings tussen kuilvoer en hooi getref.
Voedingswaarde
- Kuilvoer het oor die algemeen ’n hoër voginhoud (40 tot 65%) en die voedingstowwe in die voere word beter bewaar, danksy die lae pH. Dit is as gevolg van organiese sure wat tydens fermentasie geproduseer word. Kuilvoer verskaf ook meer energie en is smaakliker as hooi.
- Hooi word gedroog tot ongeveer 10 tot 15% vog en het daarom ’n laer risiko van bederf, maar van die voedingstowwe kan verlore gaan as gevolg van die droging daarvan. Dit is hoër in veselinhoud, maar die energiefaktor is laer as by kuilvoer.
Goeie kuilvoer het nie net hoë energiewaarde en ruvoerwaarde nie, maar voorsien die rantsoen ook van voginhoud wat weer help met stofbeheer en smaaklikheid.
Verteerbaarheid en smaaklikheid
- Kuilvoer is makliker verteerbaar as gevolg van die graankomponent en diere verkies dit bo hooi.
- Hooi is minder smaaklik en kan by hoë-presterende diere energie-aanvulling vereis.
Berging en bewaring
- Dit is nie maklik om kuilvoer te berg nie. Dit vereis lugdigte berging soos bunkers, silo’s of kuilvoersakke en soms ook mikrobiese inokulante sodat dit behoorlik fermenteer. As dit aan lug blootgestel word, kan dit vinnig bederf.
- Dit is makliker om hooi te berg solank dit droog bly. As dit nat word, kan dit tot skimmel- en voedingsverliese lei.
Voedingsbestuur
- Om kuilvoer te gebruik is behoorlike bestuur noodsaaklik om bederf te voorkom. Hoër vog kan daartoe lei dat die diere minder vreet voordat hulle versadig is.
- Dit is veiliger om hooi te berg en te vervoer, maar dit kan meer afval genereer. Hooi moet in die korrekte lengtes gesny word voordat dit by die voltooide rantsoen gevoeg word. Daarvoor is duur toerusting nodig.
Koste en arbeid
- Dit is meer arbeidsintensief om kuilvoer te produseer en te berg, maar kan beter voerdoeltreffendheid in die hand werk.
- Dit is makliker om hooi te hanteer, maar ongunstige weersomstandighede kan tot laer opbrengste en gehalteverliese lei. Dit verminder weer voerdoeltreffendheid. Daar is ook gewoonlik aansienlike vermorsing as gevolg van stof en hoë elektrisiteitskoste tydens die maalproses.
Kyk na die hele prentjie
Gouws sê kuilvoer kan nie alleenstaande as ’n voer gebruik word nie. Dit is nodig om ander produkte by die voerkraalrantsoen te voeg. In ’n voerkraal lê die geheim daarin om te bepaal wat jy vir elke energiebron gaan betaal en dan jou somme te maak om te sien of die voerkraal koste-doeltreffend bestuur word.
“ ’n Mens moet holisties daarna kyk. Die verwagte voordeel lê nie in die gemiddelde daaglikse toename (GDT) of die prys van die voerbron nie, maar eerder in beter voeromset en die koste van die totaal gemengde rantsoen om die diere so gou as moontlik in die mark te kry.” – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Paul Gouws by 087 821 8444.






