Monday, December 15, 2025

Doeltreffende gebruik van dekgewasse in winterreënvalstreke

Estimated reading time: 6 minutes

Produsente in die winterreënval- of Mediterreense klimaatstreek van Suid-Afrika maak dikwels van gewasrotasie gebruik om hulle gewasverbouingstelsels te diversifiseer. Omdat hierdie streke slegs een produksieseisoen per jaar het, is dit vir baie produsente moeilik om diversifikasie deur middel van dekgewasse te bewerkstellig. Dit impliseer dat hulle moontlik ’n kontantgewasoes moet opoffer. ’n Oplossing hiervoor is om ’n veefaktor te gebruik om die dekgewas te benut, sodat ekonomiese waarde geskep kan word ondanks die verlies aan die kontantgewasoes. 

Dekgewasse word hoofsaaklik vir grondgesondheid, eerder as vir beweiding, aangeplant. Daarom is dit belangrik dat die beweiding van die dekgewasse noukeurig bestuur word om te verseker dat die primêre doel nie verlore gaan nie. Die integrasie van vee in wisselboustelsels is waardevol, aangesien dit nie net die ekonomiese lewensvatbaarheid van die dekgewas verhoog nie, maar ook tot die verbetering van grondvrugbaarheid, voedingstofsiklusse en volhoubare landboupraktyke kan bydra.

Beweiding help om onkruidbevolkings te bestuur deur saadbanke uit te put en die risiko van onkruiddoderweerstandigheid te verminder. Weidingsmengsels bevat dikwels stikstofbindende peulgewasse wat tot opbrengsvoordele in daaropvolgende gewasse lei en gevolglik tot langtermyn landbouproduktiwiteit en veerkragtigheid bydra. Min data is egter beskikbaar oor die optimale weidingsbestuur van hierdie dekgewasse. As te veel selektiewe beweiding of oorbeweiding toegelaat word, kan die voordele van dekgewasse verminder. 

Studie-oorsig

Dit is teen hierdie agtergrond dat ’n studie gedoen is om die effek van verskillende beweidingsbenaderings op dekgewasse te bestudeer. Die studie is daarop gemik om te bepaal hoe multispesiedekgewasse in ’n bewaringslandboustelsel op wisselende beweidingsdruk reageer. Die doel van die studie om die effek van beweidingsdruk op die produksie en samestelling van multispesiedekgewasse, sowel as op die prestasie van die weidende diere, te bepaal.

Die 2024/25-studie is as ‘n gesamentlike projek van die Universiteit Stellenbosch en die Wes-Kaapse Departement van Landbou op die Tygerhoek-navorsingplaas by Riviersonderend gedoen en het gedurende die wintergroeiseisoene plaasgevind. Die dekgewasse het in 2024 uit wei-erte, weiwieke, bitter lupien, saia hawer, voerhawer, voergars, stoelrog, radyse en Phacelia (byenbrood) bestaan. In 2025 is Phacelia uit die mengsel gelaat.

Die mengsel is in April geplant en lammers die veld van Junie tot einde September bewei. Vier behandelings is toegepas, elk op 1ha, tesame met ’n kontroleperseel wat glad nie bewei is nie. Die belading gedurende die eerste jaar was aanvanklik agt skape/ha, maar is later tot 11 skape verhoog. In die tweede jaar was die belading 12 skape/ha. Behandeling 1 het bestaan uit aaneenlopende beweiding op die hele hektaar. Behandeling 2 was ’n tweekampstelsel, behandeling 3 ’n vierkampstelsel en behandeling 4 ’n agtkampstelsel.

Figuur 1: Verskillende vlakke van wisselweiding.

*Die belading en totale tyd van belading bly dieselfde oor al die behandelings.

Plantsnysels is geneem om die plantproduksie en -samestelling sowel as weidingsgehalte reg deur die seisoen te bepaal. Grondmonsters is ook voor en na elke seisoen geneem. Die skape se groei- en karkasdata is gebruik om die ekonomiese volhoubaarheid van elke beweidingstrategie te bepaal. Die rotasie is sodanig bestuur dat die diere in B4, twee keer vinniger as dié in B3 geskuif is. B3 se diere is weer twee keer vinniger as dié in B2 geskuif. Al die skape in die verskillende behandelings het dus op dieselfde tyd na die eerste kamp teruggekeer om ’n weidingsiklus te voltooi.

Figuur 2: Die gemiddelde beskikbaarheid van weidingsmateriaal per behandeling.

Resultate vir 2024

Die resultate in 2024 het nie beduidende gewigsverskille tussen die skape in die verskillende behandelings uitgewys nie. Die skape in B4 het in die eerste seisoen wel merkbaar stadiger gegroei as in B2. Daar was egter nie ’n aansienlike verskil in die finale lewende en karkasgewigte of uitslagpersentsie tussen die verskillende behandelings nie. Al die behandelings het hoofsaaklik A2-karkasse gelewer.

Figuur 3: Gewigstoename in die verskillende behandelings in die eerste seisoen van die proef.

In die eerste seisoen was daar geen beduidende verskille in die gemiddelde weidingsbeskikbaarheid nie, hoewel B4 ’n merkbare verhoging in weidingsbeskikbaarheid in vergelyking met die kontrole getoon het. Die beskikbare weimateriaal is op verskillende tydstipte gedurende die eerste seisoen gemeet. Daar is bevind dat die totale beskikbare weimateriaal halfpad deur die weidingsiklus voor ’n weidingsessie, aansienlik hoër by beide B2 en 3 in vergelyking met die kontrole was. In die helfte van die tweede weidingsiklus het beide B1 en 4 wesenlik meer beskikbare weimateriaal as die kontrole gehad. 

Hierdie verskille is slegs op spesifieke tydstipte waargeneem en het nie die gemiddelde beskikbaarheid van weimateriaal deur die loop van die studie beïnvloed nie. Ná beweiding was daar geen duidelike verskille in die gemiddelde weidingsbeskikbaarheid tussen die siklusse nie. Die hoeveelheid beskikbare weiding wat ongebruik gelaat is na ’n weidingsessie, het egter deur die loop van die eerste seisoen vermeerder. 

Die vermeerderde onbenutte weimateriaal beteken moontlik dat die oorspronklike veebelading wat in die eerste seisoen gebruik is te laag was en dat die stelsel die potensiaal het om meer vee te akkommodeer. Die hoër totale weidingsbeskikbaarheid in die beweide behandelings in die helfte van die weidingsiklus, in vergelyking met die kontrole, dui daarop dat hergroei wat deur beweiding gestimuleer word tot hoër plantproduksie kan lei as in die geval van geen beweiding.

Voorlopige 2025-resultate

Gedurende die tweede seisoen was daar nie beduidende verskille in die finale skaapgewigte, groeitempo, karkasgewig of uitslagpersentasie tussen die onderskeie behandelings nie.

Wat beskikbare biomassa betref was daar ook nie verskille tussen die behandelings in terme van gemiddelde beskikbaarheid van weidingsmateriaal wat oor die hele seisoen gemeet is nie. Hoewel die kontrole teen die begin van die tweede weidingsiklus meer beskikbare biomassa gehad het, was daar 20 dae later geen verskil in die beskikbare biomassa tussen die behandelings nie. B4 het wel meer weidingsmateriaal as die kontrole beskikbaar gehad.

Die rede hiervoor is dat die skape in die rotasiebehandelings teruggekeer het na weidings wat vroeër in die seisoen benut is. Hergroei in hierdie kampe het hierdie verskil egter gou uitgewis en, in die geval van B4, selfs oortref. Dit dui daarop dat die weidingsaktiwiteit van die skape groter biomassaproduksie stimuleer as in die kontrole wat onbewei gelaat is.

Die gebrek aan verskille in prestasie dui daarop dat die skape nie deur enige van die beweidingstrategieë benadeel is nie, maar eerder in al vier behandelings presteer het. Resultate rakende plantsamestelling, grond en ekonomiese ontledings word tans nog verwerk.

Gevolgtrekking

Beweiding kan potensieel die produksie van weimateriaal in ’n dekgewasaanplanting verhoog. Die effek van beweiding was nie nadelig vir die stelsel nie, wat daarop dui dat dit moontlik is om ’n inkomste uit dekgewasse te genereer deur dit met vee te benut, terwyl die voordele van dekgewasse in ’n wisselboustelsel steeds behou word. – Rebecca Ellerbeck

Projeknavorsers: Rebecca Ellerbeck en prof Pieter Swanepoel van die Departement Agronomie by die Universiteit Stellenbosch, prof Johann Strauss van die Departement Agronomie by die Universiteit Stellenbosch en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, en dr Willem Hoffmann van die Departement Landbou-ekonomie by die Universiteit Stellenbosch.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Rebecca Ellerbeck by 23055901@sun.ac.za of rebecca.ellerbeck@gmail.com

Must read

Chubby Chick skietvoorval – tweede direkteur sterf

Estimated reading time: 6 minutes Deon Fourie, mede-direkteur van Chubby Chick in Potchefstroom, is vanoggend (14 Desember) in 'n Gauteng-hospitaal oorlede. Die nuus is deur...

Voer oppad na kurkdroë Boesmanland

Estimated reading time: 3 minutes Terwyl swaar reënbuie die afgelope tyd oor groot dele van Suid-Afrika neergesak het, het daar nog geen betekenisvolle reën in...

BEK-oorwinning laat Wes-Kaap juig

Estimated reading time: 3 minutes Wes-Kaap kan BEK-beeste begin slag Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap (RPOWK) bevestig dat daar geen verdere uitbreking van bek-en-klouseer...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 49 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

A united Limpopo fights back against FMD

Estimated reading time: 3 minutes With four confirmed cases of foot-and-mouth disease (FMD), South Africa’s northernmost province is no longer FMD free after maintaining a...