Monday, December 8, 2025

Room van die suiwelbedryf vereer

Share This Post

Estimated reading time: 1 minute

Die SA Friesland-klub het op Dinsdag 21 Oktober in samewerking met SA Stamboek hul algemene jaarvergadering (AJV) en prysuitdeling by Corn & Cob naby Middelburg gehou. SA Stamboek het ook Suiwel Trailblazer-toekennings tydens die geleentheid aangebied.  

Die SA Friesland-klub is in Maart 2024 gestig met die doel om winsgewendheid te verbeter deur die meet en aantekening van diere. Hulle het riglyne en doelstellings tydens die AJV neergelê met ’n fokus op diere-aantekening en rasverbetering. Dit sluit ook prestasie- en genoomtoetsing in wat deur SA Stamboek gefasiliteer word.

Tydens die AJV is Poena van Niekerk, bestuurder van EDE Farming, as voorsitter van die klub verkies. Tawtolo Mabuya, suiwelbestuurder van Janvos Landgoed, Neels Neethling van Rooikoppies Farming (Pty) Ltd en Eric Johnson van Verlorenkloof Development is as klublede aangewys. Suretha Francis, tegniese adviseur by SA Stamboek, is ook as die klub se tegniese ontleder verkies.

Genetika in die kollig

Rassuiwerheid, genotipes, genetiese koppelings en melkmutasies is ’n paar van die onderwerpe waaroor Jason Reding, genetikus by SA Stamboek, tydens die geleentheid gesels het. Reding het die interaksie tussen genetika en omgewing verduidelik, en beklemtoon dat diere se omgewing ’n beduidende invloed het op hoe hul gene uitgedruk word. Hy het aanbeveel dat plaaslike omstandighede altyd in ag geneem moet word wanneer oorsese genetiese materiaal geëvalueer word.

“Hou net in gedagte dat as ’n Amerikaanse bul aan jou verkoop word en hulle (die verkopers) sê: ‘Kyk na hierdie wonderlike waardes in Amerika,’ moet jy seker maak dat jy dit in die Suid-Afrikaanse konteks vergelyk,” het Reding gesê. Hy het ook gepraat oor die bestuur van nadelige mutasies deur die risiko van embrio-herabsorpsie en kalfsterftes te verminder. “Maak seker dat die bul van jou keuse vry van onvrugbaarheidshaplotipes is.”

Uiergesondheid loop hand-aan-hand met beeswelsyn

Dr Inge-Marié Burger het oor die gevaar van mastitis en somatiese seltelling (SST) as ’n aanduiding van uiergesondheid gepraat. Dr Burger het in 1996 by UP aangesluit as ’n spesialis in uiergesondheid by beeste, waar sy voorgraadse en nagraadse studente onderrig het.  

Mastitis kan onder meer deur meganiese- of chemiese irritasie, of skade weens swak hantering of stresverwante faktore veroorsaak word. Burger het gewaarsku dat mastitis – ’n ontsteking van die melkklier – die hoofoorsaak van ’n hoë somatiese seltelling is. Sy het gesê die beste manier om mastitis te voorkom, is om te keer dat bakterieë by die uier inkom. Daar moet ook aandag aan koei se immuniteit geskenk word. Goeie voeding, behoorlike opleiding van werknemers tydens behandeling, die melkroetine, die toestand van die melkmasjien en die beperking van stres speel hier ’n sleutelrol.

SA Friesland-klub produksietoekennings

Verskeie klublede is vir hul bevordering van goeie seleksie -en genetika vereer. Die toekenningwenners is:

  • Janvos Landgoed, EDE Farming en Rooikoppies Farming (Pty) Ltd het onderskeidelik eerste, tweede en derde plek behaal vir Kudde met die Hoogste Totale Produksie vir Bottervet en Proteïen vir Laktasies Afgesluit.
  • Lowerland het eerste, tweede en derde plek behaal vir Koei met die Hoogste Totale Produksie vir Bottervet en Proteïen vir Laktasies Afgesluit.
  • Janvos Landgoed het eerste, tweede en derde plek behaal vir Eerste-laktasie Koei met die Hoogste Totale Produksie vir Laktasies Afgesluit.
  • Rooikoppies Farming (Pty) Ltd, Janvos Landgoed en EDE Farming het onderskeidelik eerste, tweede en derde plek behaal vir Kudde met die Hoogste Logix Meriete-indeks (LMI).
  • EDE Farming het tweede plek behaal vir die Kudde met die Hoogste Totale Produksie vir Bottervet en Proteïen vir Laktasies Afgesluit. In die foto van links is Poena van Niekerk, bestuurder van EDE Farming en Thalia Brameld, tegniese adviseur by SA Stamboek.

Suiwel Trailblazer-streekstoekennings

Die streekswenners van die Logix Suiwelbeeskudde van die Jaar-toekennings is soos volg:

  • Platinum – Waterbron Jerseys, EDE Farming, LE Thom en Rooikoppies Farming (Pty) Ltd.
  • Goud – Limpopo Melkery en Janvos Landgoed.
  • Silwer – Universiteit van Pretoria, Anton Homsek Familietrust, Glynton Jerseys en CO Klingenburg (Pty) Ltd.
  • Brons – IC Reid, Lonel Jerseys, Craighead Dairy, Verlorenkloof Development en Essie Jerseys.

– Milla Matthee, Plaas Media

  • Verlorenkloof Development het ’n brons Trailblazer-streekstoekenning ontvang. Van links is Thalia Brameld, tegniese adviseur by SA Stamboek, Eric Johnson van Verlorenkloof Development, en Suretha Francis, tegniese adviseur van SA Stamboek.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...