Klimaatbestande voedselproduksie is waar wins en die planeet ontmoet

Estimated reading time: 6 minutes

Die VN se klimaatsveranderingskonferensie (COP30), het die belangrike rol van landbou in die stryd teen klimaatsverandering beklemtoon. Dit raak al duideliker dat landbou nie net kwesbaar is vir klimaatsverandering nie, maar ook een van die kragtigste kanale is om dit aan te spreek. Die landbousektor is die kern van COP30 se prioriteite: die bevordering van klimaatsveerkragtigheid deur agro-ekologiese praktyke soos regeneratiewe boerdery, die verbetering van grondgesondheid, die benutting van tegnologie, en die mobilisering van finansiering om volhoubare oorgang moontlik te maak.

Wat produktiwiteit en winsgewendheid betref, is landbou totaal en al van natuurlike ekosisteme afhanklik. Vrugbare grond, bestuiwing, watervoorsiening en biodiversiteit is die ruggraat van volhoubare boerdery, maar hierdie stelsels is onder geweldige druk. Omdat landbou beide ’n impak op die natuur het én daarvan afhanklik is, speel dit ’n sleutelrol in die strewe na ’n natuurpositiewe toekoms. Boere bestuur die wêreld se grond, wat meer as dubbel soveel koolstof stoor as wat in die atmosfeer voorkom. Deur agro-ekologiese en regeneratiewe praktyke toe te pas, kan produsente koolstofberging in die grond verhoog, opbrengste en biodiversiteit verbeter, en help om die klimaat te stabiliseer – en só boerdery deel maak van die oplossing eerder as die probleem.

Volhoubaarheid is nóg belangriker in Suid-Afrika

Suid-Afrika word met groter uitdagings as ander lande gekonfronteer: net 12% van ons grond is bewerkbaar, met die res meestal geskik vir veeboerdery, en as ’n waterskaarse land kry ons ongeveer net die helfte van die wêreldgemiddelde reënval.

Lees ‘n artikel oor die 2025 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur.

Hierdie uitdagings word deur verskeie faktore vererger:

  • Onvoorspelbare weer: Droogtes, vloede en hittegolwe kom al hoe meer voor.
  • Stram winsmarges: Boere het beperkte skaalvoordele en het dikwels min beheer oor die pryse van hulle produkte. Dit maak doeltreffende kostebestuur noodsaaklik om winsgewend te bly.
  • Internasionale mededinging: Suid-Afrika kompeteer wêreldwyd met min steun. Daarom is volhoubare, hoë gehalte-produksie noodsaaklik om mededingend te bly.

Met beperkte natuurlike hulpbronne moet die landbousektor klimaatslim, hulpbrondoeltreffende en tegnologiegedrewe oplossings najaag. Gelukkig is baie van hierdie praktyke reeds algemeen:

  • Presisieboerdery: Hommeltuie, sensors en kunsmatige intelligensie help boere om data-gedrewe besluite te neem, siektes vroeg te identifiseer en besproeiing te optimaliseer, wat doeltreffendheid verhoog, en water en energie spaar.
  • Agro-ekologie en regeneratiewe praktyke: Beheerde weiding, dekgewasse en verbeterde voeding vir diere help om grondgesondheid te herstel, biodiversiteit te verhoog en veerkragtigheid te bou.
  • Diversifikasie van gewasse en vee: Dit behels die keuse van veerasse wat optimaal by die plaas se natuurlike omgewing aanpas.

Omgewingsvolhoubaarheid gaan hand aan hand met finansiële volhoubaarheid en effektiewe risikobestuur.

Hierdie klimaatsversagtingsstrategieë verminder ook besigheidsrisiko. Produsente moet volhoubaarheid nie net as ’n nakomingsvereiste sien nie, maar as ’n manier om klimaats- én besigheidsrisiko te bestuur om sodoende ’n mededingende voordeel te kry. Finansiële volhoubaarheid gaan oor margebestuur. Alles wat op die plaas gedoen word om klimaatsrisiko te verminder, moet dus ook ’n positiewe impak op wins hê sonder om kontantvloei in te boet.

Sleutelstrategieë

  • Skaalvoordele: Wanneer produksie toeneem, daal die koste per eenheid omdat koste oor ’n groter volume versprei word. Maar wees versigtig – groter skaal is nie die oplossing vir alles nie. Indien jou kernbesigheid nie doeltreffend funksioneer nie, kan groei ‘n klein probleem net groter maak.
  • Hoër gehalte: Hoër opbrengste, beter produkgehalte, verhoogde voedingswaarde en gesogte produkte dra alles by tot sterker marges. Dit gaan dus nie net oor hoeveel jy produseer nie, maar oor die waarde en gehalte wat jy produseer.
  • Minder insetkoste: Deur minder energie, kunsmis en antibiotika te gebruik, kan boere hul winsgewendheid verhoog en terselfdertyd hul impak op die omgewing verminder.

’n Finansierder se blik op totale risiko

By Nedbank assesseer ons landboufinansieringsaansoeke deur ’n holistiese lens van ‘totale risiko’ wat beide finansiële en besigheidsrisiko insluit. Ons kyk nie net na bates en laste nie, maar ook na hoe kliënte eksterne faktore soos klimaatrisiko’s, marktoestande en operasionele uitdagings bestuur. Hierdie benadering help ons om ’n beter begrip van ’n kliënt se terugbetalingsvermoë en langtermyn volhoubaarheid te kry.

Risikobestuursstrategieë

  • Produksierisiko: Diversifikasie, die gebruik van geoptimaliseerde boerderytegnieke, tegnologie en plaagbeheer help om produksierisiko te verminder.
  • Prys- en markrisiko: Dit behels die beperking van wisselvalligheid in inset- en uitvoerpryse, die hantering van markskokke, en die verbetering van toegang tot markte.
  • Finansiële en kredietrisiko: Daar moet voldoende kontantvloei wees, die finansieringsmodel moet by die boerdery se behoeftes pas, en daar moet voorsorg teen skommelinge in produksie en inkomste wees. Hierdie faktore is belangrik om volhoubare groei en terugbetalingsvermoë te ondersteun.
  • Besigheidsrisiko: Boerderypraktyke moet volgens veranderende klimaatsomstandighede aangepas word en voorsorgmaatreëls moet in plek wees om diefstal van toerusting en ander bates te voorkom. Hierdie tipe risikobestuur help om operasionele stabiliteit te handhaaf en verliese te beperk.

Dit is ook belangrik om tussen goeie en slegte skuld te onderskei. Goeie skuld dra by tot meer doeltreffendheid, bevorder vindingrykheid en versterk die boerdery. Slegte skuld, aan die ander kant, beperk groei en verhoog die risiko van finansiële kwesbaarheid. Te veel skuld kan beide finansiële en omgewingsvolhoubaarheid in die gedrang bring.

Mobilisering van finansiering deur ESG-verslagdoening en -belegging

Om COP30 se doelwitte te bereik moet finansiering doelgerig vir volhoubare, klimaatsbestande landbou aangewend word – en ESG-verslagdoening en -belegging speel ’n sleutelrol in hierdie proses. ESG-verslagdoening is vandag ’n kernaspek van moderne sakepraktyke en behoort ’n fokusarea in die Suid-Afrikaanse landbousektor te wees. Vir Nedbank en ander finansiële instellings bied deeglike ESG-verslagdoening waardevolle insigte en deursigtigheid, wat dit moontlik maak om kliënte te identifiseer wat nie net finansieel volhoubaar is nie, maar ook omgewings- en maatskaplike risiko’s verantwoordelik bestuur. Net so rig ESG-belegging kapitaal na ondernemings wat aktief werk om emissies te verminder, ekosisteme te herstel en landelike gemeenskappe te ondersteun – prioriteite wat direk by COP30 se doelstellings aansluit.

Van klimaatsrisiko tot mededingende voordeel

Vir Suid-Afrikaanse landbou-ondernemings is die boodskap duidelik: Volhoubare landbou gaan oor meer as net omgewingsbewaring – dit is ’n kernaspek van ’n moderne besigheidstrategie. Deur regeneratiewe boerdery, die slim gebruik van tegnologie en ESG-gerigte finansiering, kan produsente risiko’s bestuur, marges versterk en hulself as wêreldleiers in ’n klimaatsbestande voedselsisteem posisioneer. Soos COP30 ook beklemtoon het: die pad na ’n volhoubare, klimaatsbestande toekoms begin op die plaas. Ja, landbou is aan klimaatsrisiko blootgestel, maar dit speel ook ’n sleutelrol in die oplossing.

Waarborg jou toekomsgroei met slim, volhoubare finansiering. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na agriculture@nedbank.co.za of besoek nedbank.co.za/agriculture.

Dink groter. Dink Nedbank Kommersiële Banksake – Daneel Rossouw, hoof van verkope: Landbou, Nedbank Kommersiële Banksake

Must read

Plaas Media announces its fifth Veeplaas Climate-Smart Ambassador

Estimated reading time: 4 minutes Plaas Media this year presented the fifth instalment of its Veeplaas Climate-Smart Ambassador project. This year’s project was a major...

Plaas Media maak sy vyfde Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur bekend

Estimated reading time: 4 minutes Plaas Media het vanjaar die vyfde aflewering van sy Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek aangebied. Vanjaar se projek was ‘n reuse-sukses, met...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 29 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

Collaboration to strengthen FMD response

Estimated reading time: 3 minutes Helping the industry address foot-and-mouth disease (FMD) as efficiently as possible. This, says Dewald Olivier, CEO of Red Meat Industry...

Poultry industry pushes for bird flu vaccination programme

Estimated reading time: 3 minutes South Africa’s poultry industry is calling on the minister of agriculture, Willie Aucamp, to prioritise the finalisation of a bird...