Tuesday, December 16, 2025

Lesers kuier ’n storm los by top-Klimaatslimboer

Estimated reading time: 7 minutes

Daar is dinge op ’n plaas wat kan verander en daar is dinge wat nie kan verander nie. Die vraag is net: Wat kan nie verander nie? Menige boer sal vir jou sê jy mors jou tyd en geld as jy probeer om aan die natuur te peuter. Die beste is om die elemente te aanvaar en rondom dit te boer.

Willie Storm, ’n beesboer in die Kalahari,  is een van die manne wat weet waar hy met die natuur staan. Maar hy is ook nie bang om te peuter waar ander eerder terugstaan nie. Hy boer op die plaas Elliesrust in die Olifantshoek-omgewing. Sowat twee dekades gelede het hy besluit hy kan nie aanvaar dat die natuur vir hom ’n drakrag van 21 hektaar per grootvee eenheid (GVE) gee nie, want daarmee sal hy nie volhoubaar kan boer nie.

Hy het die ontbossingspad met babatreetjies begin stap om die weiding op sy hele plaas te omskep en vandag bied sy plaas ’n drakrag van ses hektaar per GVE.

Willie gebruik hout van bosse en bome wat hy uitgehaal het om erosieslote op te vul. In die beginjare van sy ontbossingsprojek het hy ook braaihout laat maak. Met daardie inkomste kon hy ’n groot deel van die ontbossingsprojek finansier.

Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur in 2025

Na ongeveer 17 jaar se harde werk en volharding, waar ander lankal die handdoek sou ingegooi het, het Willie hierdie plaas tot een van die top-plase in die Kalahari opgebou en is hy deur Plaas Media as die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur vir 2025 vereer.

As deel van sy toekenning is daar ’n boeredag op sy plaas aangebied waartydens hy die metodes van sy sukses met medeboere kon deel, kon wys wat hy daarmee bereik het, en aan hulle raad kon gee om dit self ook te doen. Sowat 200 gaste het die boeredag bygewoon en die boere het van heinde en verre gekom om die boeredag by te woon – party so ver as Namibië, Botswana, Bloemfontein, Pretoria, en Vryburg.

Sukses kom nie oornag nie

Storm vertel hy het besef hy sal nie al die indringerbosse op een slag kan uitroei nie – dit is ’n jare lange proses. Hy het begin deur eers die plate Swarthaak (Senegalia mellifera) in sekere kampe uit te haal en grassaad te plant in elke gat waar ’n bos of indringerboom uitgehaal is. Elke jaar het hy nog ’n kamp of twee aangepak en stadig maar seker die proses voltooi.

“Dit was nie altyd maklik nie, want in die Kalahari kan jy nie reën bestel nie. Party jare kry ons goeie reën en ander jare is die reën maar skraps. Dit neem dus ’n klompie jare voordat jy die resultate sien, maar as jy in jou projek glo en die resultate begin sien raak dit byna verslawend om die plaas verder en verder te verbeter,” gesels hy opgewonde.

Aangesien so ’n groot projek ook ’n yslike hap uit jou begroting vat, het Storm met ’n plaaslike inwoner ooreengekom dat dié persoon braaihout-bondels van die hout kan maak op voorwaarde dat Willie vir elke bondel R2 kry. Sodoende het hy in die eerste paar jaar sowat R1,7 miljoen ingevorder wat hy weer in sy ontbossingsprojek kon terugploeg.

Een sukses lei tot ’n volgende

Hy vertel dat die gogga hom behoorlike gebyt het toe hy sien hoeveel sy veld verbeter het nadat hy die Swarthaak verwyder het. Tydens die tweede fase van sy ontbossingsprojek het hy oorlog verklaar teen die driedoring (Rhigozum trichotomum) wat ook plek-plek oorgeneem het. Hy sê dit was moeilik om die driedoring uit te roei, maar hy het die bul by die horings gepak en dit suksesvol gedoen.

Intussen het hy besef die bergagtige dele van die plaas word nie dikwels bewei nie en dat hierdie berge veral in die droogtetyd as ’n spens vir die plaas kan dien. “Die rede waarom die weiding goed in die bergdele staan is omdat die diere nie daar wei nie en die weiding dus genoeg kans kry om te rus. In die bergkampe is die boegoebos (Osteospermum calendulaceum) egter ’n probleem en danksy hommeltuigbespuiting kon ek die meeste van die bosse uitwis. Die bergkampe nou ’n lieflike spens– veral in droogtetye wanneer ’n mens nie meer raad het nie,” vertel hy.

Ekstra dividende uit ontbossing

Vir Storm is die dividende wat hy uit die harde werk kry amper soos ’n wonderwerk. Hy vertel van klimaksplante wat nooit voorheen op die plaas was nie, wat al hoe meer te voorskyn kom. Daar verskyn ook al hoe meer Karoo-plante wat nooit op die plaas voorgekom het nie.

Hy het die bosse wat hy uitgehaal het in die erosieslote gepak en van die slote, wat plek-plek byna twee meter diep was, is nou met goeie grond bedek waar saadjies gewillig ontkiem en gedy. Sy veld is vandag so poreus dat elke druppel reën onmiddellik in die grond wegsak en die water nie meer na sy gronddamme afloop nie.

Willie Storm het ’n jaar of twee gelede begin om sy eie saadbanke te vestig deur gras aan te plant en die saad vir hervestiging te gebruik op ander dele van sy plaas.

Klimaatslim-boerdery stop nie by ontbossing nie

Storm sê klimaatslim-boerdery het vir hom by ontbossing begin, maar dit is nie waar volhoubare boerdery eindig nie. Ander faktore soos om die regte beesras te kies om mee te boer, die gesondheid van jou diere, jou weidingstelsel, en rekordhouding is alles deel van die sukses van jou boerdery.

Hy boer byvoorbeeld met medium- tot kleinraam-beeste en slegs rasse met ’n lae onderhoudsbehoefte. Dit is vir hom belangrik dat elke vroulike dier elke jaar ’n kalf teen 50% van die moeder se gewig moet lewer.

Wenke vir klimaatslim-boerdery

Storm glo dat boere mekaar graag wil help en daarom is dit goed om by ander boere te gaan kers opsteek en te sien watter metodes hulle gebruik wat ook vir jou plaas ’n aanwins kan wees.

Hy gee die volgende wenke om boere te help om ook meer klimaatslim op hul plase te boer:

  • Sluit by studiegroepe aan sodat jy meer uit ander boere se ervaring kan leer.
  • Moenie huiwer om suksesvolle boere te besoek en vrae te vra nie.
  • Omring jou met mense wat positief is en jou passie deel.
  • Raadpleeg kundige individue wat jou kan help om elke faset van jou boerdery te verbeter.
  • Maak ’n kopskuif om nuwe dinge te beproef, wees passievol in jou langtermyn-beplanning, en volhard in jou besluite want niks gebeur oornag nie.
  • Implementeer jou doelstellings.
  • Selekteer vir aangepaste diere wat by jou omgewing en missie sal pas.
  • Beplan en begroot jaarliks om jou ontbossingsprojek te volhou.
  • Gebruik beskikbare inligting en voorspellings tot jou voordeel.
  • Bestuur gebeurlikhede soos droogtes, brande, peste, en plae tot jou voordeel.
  • Eksperimenteer met nuwe konsepte en skerp jou waarnemings deurgaans op.
  • Ken jou bedryf en bly deurgaans ingelig.
  • Plaas jouself  in ’n posisie om gunstige jare en goeie klimaatstoestande tot jou voordeel te bestuur, en swak en ondergemiddelde jare te oorleef.

Dr Louis du Pisani, die beoordelaar en organiseerder van Plaas Media se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-kompetisie, het tydens die boeredag vir Storm goed opgesom toe hy grappenderwys gesê het: “Dié man het ’n PhD in boerdery – dit staan vir ‘passievol, hardwerkend, en deursettingsvermoë’. Willie het niks buitengewoons gedoen nie, maar hy het die basiese dinge buitengewoon goed gedoen.” – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak gerus vir Willie Storm by 083 654 5460.

Related

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...