Plaas Media maak sy vyfde Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur bekend

Estimated reading time: 4 minutes

Plaas Media het vanjaar die vyfde aflewering van sy Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek aangebied. Vanjaar se projek was ‘n reuse-sukses, met ‘n buitengewoon sterk groep deelnemers uit verskillende streke en omgewingstoestande. Dit is duidelik dat klimaatslim veeproduksie nie net tot droë streke beperk is nie. “Elk van hierdie produsente het iets besonders na die tafel gebring. Hulle kan werklik trots wees op hulle bestuurspraktyke en voortdurende verbetering,” het dr Louis du Pisani, bekende weidingspesialis en konsultant asook die projek se hoofbeoordelaar, gesê.

Die projek se doel is om erkenning te gee aan veeprodusente wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas. Die voormalige projekambassadeurs is James Faber (2022), Piet Roux (2023), Charl Saunderson (2024) en Willie Storm (2025). Behalwe dat hulle klimaatslim praktyke toepas, is hierdie boere ook almal mentors en bereid om hulle unieke kennis met ander te deel.

Twee van vanjaar se borge, Nedbank en Zoetis, is van die begin af by die projek betrokke, met UPL wat vanjaar aan boord gekom het. Ons is dankbaar vir hulle ondersteuning en toewyding aan klimaatslim veeproduksie in Suid-Afrika.

Die beoordelingsproses

Deelnemers aan die projek moes ‘n indiepte vraelys voltooi wat ses aspekte oor hul boerderypraktyke dek. Dit handel nie net oor boerderypraktyke nie, maar ook oor hulle kennis van klimaatsverandering en wat dit behels. Die antwoorde is daarna op ‘n skaal van een tot tien beoordeel, waarna die finaliste op grond van die finale punte gekies is.

Daarna het dr Du Pisani ‘n plaas-evaluering gedoen. Vanjaar was die eerste keer dat vyf finaliste gekies is in plaas van slegs drie. Inskrywings is uit drie provinsies en uiteenlopende boerdery-omgewings ontvang. Nog ‘n eerste is dat twee vroulike boere onder die finaliste was. Die roete na die finaliste se plase het dr Du Pisani na die Oos-Kaap geneem, waar hy Janice Renton in die Amathole-distrik en Guy Rensburg in die Komga-gebied besoek het. Hy het dr Geofre Heyns naby Bloemfontein besoek en toe na die Noord-Kaap gereis vir die evaluering van finaliste Tiaan Barkhuizen in Garies en Veronica Rorich in die Kenhardt-distrik.

Nadat die puntetoekenning op grond van die evaluering aangepas is, het ‘n paneel bestaande uit landbou-ekonoom, dr WA Lombard, Lynette Louw, uitvoerende hoof van Plaas Media, Deidré Louw, projek- en skakelbestuurder by Plaas Media, en dr Du Pisani die punte en uiteindelik die wenner bevestig. Vanjaar se uitslag was naelskraap en die punteverskille was klein. “Om die waarheid te sê,” sê dr Du Pisani, “die ideaal sou wees dat al vanjaar se finaliste Veeplaas klimaatslim-ambassadeurs is, aangesien elkeen soveel het om te bied. Hulle het almal ongelooflik onder uiteenlopende omstandighede presteer.”

En nou … die 2026 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur

Plaas Media kondig met trots ons 2026 Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur aan. Geluk aan VERONICA RORICH van die plaas N’Rougas tussen Kenhardt en Keimoes. Veronica is ‘n uitstekende voorbeeld van wat dit verg om klimaatuitdagings aan te pak en saam met die natuur te boer. Sy boer met Meatmaster-skape en het ‘n onstuitbare passie vir die bewaring van die wildlewe, plantegroei en grond op die plaas.

Veronica het ‘n uitsonderlike span wat haar ondersteun, en haar veld en diere soos die palm van hul hande ken. “Haar weidingsbestuur is werklik merkwaardig en ek was verstom oor wat sy op die plaas vermag het. Haar bestuurspan en skaapwagters is letterlik die hartklop van die plaas,” het dr Du Pisani gesê.

Ons wens Veronica van harte geluk met haar prestasies en glo dat sy ‘n uitstekende ambassadeur sal wees vir Veeplaas en ons eie missie om klimaatslim boerdery te bevorder. Baie geluk ook aan die ander finaliste – elkeen van julle verdien om ‘n Veeplaas klimaatslim-ambassadeur genoem te word.

2026 Veeplaas Klimaatslim-boeredag

Die doel van hierdie projek is om ander veeprodusente wat klimaatsuitdagings op hul plase wil bestuur, met goeie inligting te ondersteun. Die hoogtepunt van die projek is daarom ‘n boeredag op ons klimaat-ambassadeur se plaas. Die vorige vier boeredae was baie goed ondersteun en verlede jaar se dag het uit sy nate gebars met sowat 200 mense wat bymekaar gekom het om by ‘n mede-produsent oor praktiese klimaatslimpraktyke te leer.

Tydens die 2026-boeredag sal Veronica en haar span oor hulle klimaatslim veld- en veebestuurspraktyke gesels, maar ons sal soveel tyd as moontlik in haar veld deurbring, waar almal eerstehands kan ervaar wat sy onder uitdagende omstandighede kon regkry.

Hou gerus die Veeplaas Tydskrif Facebook-blad dop vir ‘n amptelike aankondiging rakende die datum van vanjaar se boeredag. Lees ook meer oor Veronica se boerdery in die September-uitgawes van Veeplaas en Stockfarm.

Boeredag-borgskapgeleenthede

Alhoewel die projek drie hoofborge het wat hierdie kompetisie moontlik maak, is daar kleiner borgskappe op die dag beskikbaar vir belangstellende maatskappye, onderhewig aan bepalings en voorwaardes. – Persverklaring, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of e-pos deidre@plaasmedia.co.za.

A successful agricultural sector is built on trust

Estimated reading time: 6 minutes The Red Meat Producers’ Organisation (RPO) Limpopo hosted its annual...

Backgrounding calves for the feedlot

Estimated reading time: 6 minutes Backgrounding, according to Johannes Mulder, a beef cattle consultant at...

Die suksesverhaal van Suid-Afrika se Dohne Merino Deel 3: Dohne-inspekteurs en rasstandaarde

Estimated reading time: 6 minutes Wanneer na seleksiepraktyke in ’n veranderende landbou-omgewing gekyk word, is...

Roofdiergewoontes: Jakkals verander nié van snaar

Estimated reading time: 6 minutes In sommige lande het predasie reeds ’n groot tol op...