Tuesday, November 29, 2022
HomeMagazinesWerkgewers se regsaanspreeklikheid vir die optrede van hul werknemers

Werkgewers se regsaanspreeklikheid vir die optrede van hul werknemers

Estimated reading time: 3 minutes

’n Produsent (werkgewer) gee opdrag aan sy werknemer om voer met ’n trekker en sleepwa te gaan oplaai by ’n naburige plaas. Ten einde die opdrag uit te voer moet die werknemer die trekker en sleepwa op ’n openbare teerpad (enkelbaan in beide rigtings) bestuur. Op ’n deurpad, en met die oog daarop om regs by ’n distrikspad in te draai, verminder die trekkerbestuurder spoed, maar vergeet om sy voorneme met sy flikkerlig aan te dui. In die proses om te draai, merk die bestuurder nie op dat ’n ander motoris, wat van agter af aankom, besig was om die trekker en sleepwa (weens die trekker se spoedvermindering om te draai) aan die regterkant verby te steek nie. Terwyl die motoris die trekker en sleepwa verbysteek, draai die trekkerbestuurder regs en die twee voertuie bots teen mekaar.

Hierdie kort feitestel skets sekerlik een van die mees algemene motorongelukke wat op ons land se paaie, en in ons landelike gebiede in besonder, plaasvind. Hierdie tipe ongeluk het dikwels noodlottige gevolge. Die aksie wat die trekkerbestuurder uitgevoer het sonder om ander motoriste van sy voorneme te waarsku, is al deur die howe in Engels as ’n maneuver pregnant with danger beskryf om die gevaar daarvan uit te druk.

Wie is almal aanspreeklik?

Die bestuurder van die trekker is, gegewe die vorige bevindinge van ons land se howe oor dieselfde feitestel in ander sake, sonder twyfel nalatig en aanspreeklik vir die skade aan die verbygaande motoris, maar is dit waar die aanspreeklikheid in die omstandighede van die ongeluk regtens eindig?

In ons regstelsel is die dader (iemand wat hom/haar aan ’n veroordelingswaardige optrede of versuim skuldig gemaak het) die persoon wat normaalweg aanspreeklik is vir die skade wat daaruit voortspruit, maar in hierdie feitestel het die dader (die werknemer) in opdrag van sy werkgewer opgetree ten tyde van die ongeluk.

Lees meer oor die verskillende arbeidinspeksie-tipes hier.

Regtens sal die werkgewer van die trekkerbestuurder ook aanspreeklik gehou kan word vir die skade aan die motor van die verbygaande motoris. Dit staan bekend as middellike aanspreeklikheid. Middellike aanspreeklikheid ontstaan wanneer ’n werknemer binne sy/haar diensbestek opsetlik en/of nalatiglik en regtens, in die afwesigheid van enige regs-erkende regverdiging, skade vir iemand anders veroorsaak.

Die risiko van aanspreeklikheid vir werkgewers is nie beperk tot motorongelukke op paaie nie. Aanspreeklikheid vir werkgewers vir die onregmatige optrede van werknemers binne hul diensbestek, kan op ’n verskeidenheid ander gebiede en omstandighede opgedoen word. ’n Groot aantal gerapporteerde hofbeslissings handel oor die aanspreeklikheid van landbouwerkgewers, waar werknemers binne hul diensbestek brande veroorsaak het.

In hierdie sake was die twispunt juis die vraag of die werknemers, ten tyde van die ontstaan van die brand, binne hul diensbestek opgetree het. Waar werknemers byvoorbeeld op plase (hul werkplek) woon, raak dit dikwels moeilik om ’n skeidslyn te trek tussen optrede binne ’n diensbestek en privaat optrede buite die diensbestek.

Lees meer oor voorkomende en bestraffende skorsing hier.

Bestuur van aanspreeklikheidsrisiko’s

Die risiko van aanspreeklikheid vir werkgewers behoort produsente te noop om die volgende stappe te neem om hierdie risiko te beperk:

  • Behoorlike opleiding van werknemers in take wat vir ander ‘n gevaar sou inhou.
  • Behoorlike bestuur van werksure en byhou van bywoningsregisters by die werksplek.
  • Behoorlike monitering van werknemers se gesondheid en fisiese vermoë om gevaarlike take uit te voer. Die toesê van werk moet met die praktiese vermoë om die werk te kan uitvoer, gepaard gaan.
  • Voldoende versekeringsdekking vir regsaanspreeklikheid vir skade wat deur werknemers veroorsaak mag word.

Lees meer oor vakbondregte hier.

Dit is belangrik dat werkgewers hierdie risiko bestuur en voorsiening maak vir die onvoorsiene omstandighede, waar aanspreeklikheid onverwags opgedoen mag word, ten einde te voorkom dat ’n groot siviele eis die boerdery-onderneming se toekoms in gevaar stel.

Dit is ook belangrik om werknemers van hierdie risiko bewus te maak om te verseker dat hulle in alle omstandighede redelike sorg aan die dag te lê om skade vir ander te voorkom. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Must Read

Katoen-verwysingsprys: Week van 21 – 25 November 2022

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....