Friday, December 9, 2022

Vroue floreer in die Damara-bedryf

Estimated reading time: 7 minutes

Vier vroueboere in die sentrale binneland is vinnig besig om hul stempel in die Damara-bedryf af te druk. Wilna Boshoff-Strauss, Mia Swanepoel, Christia Potgieter en Suné Welman se rol is reeds onmisbaar en hulle deel ’n gemeenskaplike visie: om vooruit te boer met funksioneel doeltreffende Damaras. Hul visie word deur ’n passie vir dié skaapras se uniekheid aangevuur.

Al vier is dit eens dat die Damara se voortreflike eienskappe hul besluit om in hierdie geharde skaapras te belê, maklik gemaak het. Damaras verg min sorg en insetkoste, en daarby is hul aanpasbaarheid, veldbenutting, goeie loopvermoë, weerstand teen siektes en inwendige parasiete, en hoë genetiese reproduksiepotensiaal ook eienskappe wat uitstaan.

Kyk Plaas TV se insetsel oor vroue in landbou hier.

Vroue in Damarabedryf – Wilna

Hartland-boerdery

Wilna boer naby Klerksdorp in Noordwes en het aanvanklik met Merino’s en Dorpers geboer, maar sy het die wolbedryf later vaarwel geroep en in 1990 haar eerste Damaras aangekoop. Wilna het haar toe op kruisteling (Damara en Dorper) vir vleisproduksie en kontantvloeidoeleindes toegespits. Van haar Damaras is in 1995 die eerste keer geskou en sy het haar eie ramme in die kudde begin gebruik. Daarna was haar kudde vir bykans tien jaar geslote, waartydens sy sterk gene vasgeteel het.

Eienskappe soos vrugbaarheid/vroulikheid en libido/manlikheid is van die hoekstene van Wilna se boerdery. Sy maak staat op natuurlike paring, met ooie wat een keer per jaar lam met ’n lampersentasie van 98%. “Hierdie is nie skaapwêreld nie, en een prima lam is vir my meer werd as twee gemiddelde lammers.”

’n Trop ooie word vir ses weke by ses tot agt ramme ingedeel, sodat elke ooi minstens twee keer op hitte kom om beset te raak. Daarna is volgehoue rekordhouding belangrik.

Lammers word op 110 tot 120 dae gespeen en die ideale speengewig is 24kg. Haar kudde se speenpersentasie is gewoonlik bo 85%. Stadig-groeiende lammers word uitgeskot en top ramlammers word in ’n ramtrop geplaas, met ooilammers wat op twee-tand ouderdom gereed is vir paring. Byvoeding is belangrik en in die winter kry haar diere ekstra ruvoer. Lammers kry groeikorrels in kruiphokke en ooie kry suiwelpille.

Wilna se raad aan voornemende vrouboere is om in hulself te glo en sterk in hul geloof te staan.

vroue landbou women agriculture
Stoetregistrasie is nou hoog op Wilna se prioriteitslys. (Foto: Frans Strauss)

Lees meer oor slaglamkompetisies hier.

Vroue in Damarabedryf – Mia

Deurslag Damaras

Dit was ’n klein begin vir Mia en haar man Petrus, met die aankoop van hul eerste Damaras op ’n veiling in 2010. Hul skaapboerdery naby Brits in Noordwes het egter algaande uitgebrei namate die vraag na hul diere gegroei het.

Mia selekteer streng volgens rasstandaarde en streef na funksionele ooie wat hulle lammers goed soog en speen. “Nog voor ek by die genootskap aangesluit het, was my seleksie gegrond op die kennis wat ek van die gerekende Damara-teler en skouwenner, Adriaan Coetzee, ontvang het.” Diere wat minimale behandeling vir siektes soos hartwater en longontsteking verg, slaag die toets vir gehardheid.

Natuurlike dekking word toegepas, met een teelram by sowat 60 ooie vir drie maande op ’n slag. Haar ooie se gemiddelde lampersentasie was dié seisoen 125, waarvan 25% tweelinge was. Ooie, wat reeds weer dragtig is, speen self op vier maande hul lammers teen ’n speengewig van 23 tot 27kg. Haar kudde se gemiddelde speensyfer is tussen 95 en 115.

Gespeende ramlammers word na ’n ramkamp geskuif om verder uit te groei. Ooie word in die kudde gehou sodat lammers minder speenskok ervaar. Uitskotdiere word uitgegroei vir slagdoeleindes. Lammers word slegs teen ’n gewig van 43kg verkoop. Mia se uitslagpersentasie is gemiddeld 48% en kopers kry gewoonlik ’n karkas van sowat 20kg. Sy verkoop slagskape asook haar teeldiere uit die hand.

Die kudde wei op aangeplante Rhodesgras en uitvalhoeke waar natuurlike gras en onkruid opslaan. Drukbeweiding word toegepas met ’n kombinasie van lusern, mielies, koringhooi en kuilvoer wanneer weiding uitgeput is.

vroue landbou women agriculture
Mia het haar Damara-stoetery in 2018 geregistreer. (Foto: Petrus Swanepoel)

Vroue in Damarabedryf – Christia

Klein Goud-stoetery

Christia het haar eerste Damara-ooilammers in 2019 aangekoop, nadat sy aanvanklik met Meatmasters geboer het. Sy boer nou saam met haar pa, Chris Potgieter van die Klaargoud-boerdery, noord-oos van Upington in die Kalahari. Christia sê sy het die Damara se goeie genetiese eienskappe aanvanklik in die Meatmaster waargeneem.

Haar teeldoelwit is om diere te teel wat onder strawwe ekstensiewe omstandighede hul produksieteikens kan bereik. Sy spits haar ook toe op die bevordering van dié skaapras deur goeie genetika te vermeerder, en selekteer derhalwe vir die beste fenotipiese en doeltreffendste Damaras vir haar omgewing. Sy verbeter haar kudde deurlopend deur hoë seleksiedruk toe te pas.

Christia het ’n vierkampstelsel en roteer haar kudde op ’n vierweeklikse grondslag. Een ram per 30 ooie word vir natuurlike dekking gebruik, en ramme bly jaarliks tussen ooie wat in die veld lam. Sodoende word ooie se moedereienskappe en lamvermoë behou en beproef. Sy sê sy is nog in die proses om haar gemiddelde lamsyfer te meet, maar ooie wat nie produseer nie word geslag.

Lammers word gespeen wanneer hulle markgereed is. Ramlammers word op vier maande gespeen en in ’n ramlamtrop op die veld uitgegroei. Haar lammers word op ’n maksimum slagwaarde van sowat 40kg geslag en uitskotdiere word aan die smousmark verkoop. Hoewel sy nog in ’n kuddeboufase is, is Christia se diere reeds in hoë aanvraag.

Wisselende weerstoestande en die fisiese hantering van diere is vir haar as vrou soms ’n uitdaging, maar sy maak op goeie, betroubare arbeid staat.

vroue landbou women agriculture
Christia het vanjaar op die Damara Nasionale Kampioenskapskou die nasionale senior reserwe-ooi opgelewer. Die hanteerder is Mlungisi Matsuthu.

Vind meer uit oor vroue-wynmakers hier.

Vroue in Damarabedryf – Suné

Welscho Damara-stoetery

Suné het aanvanklik in 2018 saam met haar man, Danie, naby Derby in Noordwes met Meatmasters begin boer. Stan Burger, die president van die Damara-telersgenootskap van Suid-Afrika, het haar aan die Damara bekendgestel.

Suné selekteer hoofsaaklik vir gehardheid en bouvorm. Haar teeldoelwit is om die beste genetika te teel en sy mik ook daarna om embrio’s en saad uit te voer.

Sy maak gebruik van natuurlike paring asook laparoskopiese inseminasie (LI) op ooie. ’n Top stoetram dek haar ooie tydens konvensionele paring, en semen van gehalte ramme word vir LI gebruik. Sodoende het sy beheer oor haar lamtydperk. Ooie word met sponse gesinkroniseer en inseminasie vind twee weke later plaas. Suné skryf haar lampersentasie (98%) toe aan haar reproduksiemetodes. Sy skakel prulfoute uit deur slegs top ramme op top ooie te gebruik.

vroue landbou women agriculture
Suné het haar stoetery vanjaar geregistreer. (Foto: Nina Schoonbee)

Lammers word op 100 tot 120 dae teen ’n gemiddelde speengewig van 20 tot 25kg gespeen en die kudde se gemiddelde speensyfer is 98. Lammers is markgereed op ouderdom elf maande (45kg). Haar geslagte lammers verkoop sy uit die hand. Sy hou haar teeldiere terug en beoog om diere volgende jaar op die genootskap se jaarlikse veiling aan te bied.

Kry die jongste vleispryse.

Haar raad aan voornemende telers is om doelgerig te bly, ondanks uitdagings, en om raad van ander telers te vra. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Wilna by wilnajboshoffstrauss@gmail.com, Mia by petrusmia@gmail.com, Christia by christiapotgieter99@gmail.com en Suné by sunewelman@gmail.com.