Dorpers
Goeie bestuurspraktyke is volgens Abraham iets waarsonder ’n Dorper-produsent nie kan boer nie. Hy moet weet hoeveel kilogram vleis sy skape per hektaar en per ooi produseer, en wat sy uitgawes en wins per hektaar en ooi is. (Foto: Mariska Blom)

Estimated reading time: 6 minutes

Wanneer wol- en vleisskape in ’n kampie langs mekaar staan, kan dit byna vergelyk word met watter rugbyspan jy die hardste voor skree. In die wêreld van skaapboerdery, is die meeste produsente voorstanders van óf wolskape óf vleisskape, en basta met die res. In ander kringe word dubbeldoelrasse soos die Dohne-Merino voorgestaan, terwyl Dorper-produsente eweneens kan uitlig waarom dié skaapras hul guns geniet.

Die Dorper is in die 1930’s in Suid-Afrika as ’n kruising tussen ’n Dorset Horn-ram (nou ’n bedreigde Britse skaapras) met Swartkop-Persie-ooie (’n vetstert skaapras oorspronklik van Somalië) ontwikkel. Dit is algemeen bekend dat hierdie ras goed in uitdagende klimaatsomstandighede kan oorleef.

Veeplaas het met Abraham Blom, wat op die plaas Kalkfontein tussen Steynsburg en Venterstad boer, gesels om uit te vind hoe dié Dorper-produsent se denkwyse en bestuurstelsel werk.

Die voordele van die Dorper

Vir Abraham is die Dorper sy skaapras van voorkeur weens die ras se opvallende hoë vrugbaarheid, goeie karkasse en uitstekende moedereienskappe. “Dit is veral die laer onderhoud en gehardheid van die skape wat my beïndruk, asook goeie produksie. Dit is ’n lekker veelsydige en aanpasbare dier waarmee ekstensief of semi-intensief geboer kan word,” sê hy.

’n Ooi en haar lam. Dorper-ooie beskik oor goeie moedereienskappe en die vermoë om, as sy goed bestuur word, baie lammers te lewer en hulle mooi groot te maak. (Foto: Mariska Blom)

Op die vraag of daar ruimte vir verbetering by die Dorper is, sê Abraham dit sal moeilik wees om die reeds hoë standaard te lig. Die ras is mooi en sy bouvorm goed. Hy glo egter lamgemak, veral by die jonger ooie, verdien meer aandag.

“By enige boerdery is daar altyd ruimte vir verbetering, soos om voortdurend jou beste of produktiefste ooie te verbeter, en te selekteer vir eienskappe soos goeie reproduksie, groei, konstitusie en gehardheid, wat geld in jou sak sal bring.”

Abraham is die enigste Dorper-boer in ’n studiegroep van Merino-boere, en hy vind dat die Dorper-ras sy man tussen enige ander skaapras kan staan, veral wat produktiwiteit betref. “Wat ek by die studiegroep leer, is van onskatbare waarde vir my boerdery en toekomsbeplanning. Hoe anders gaan ’n mens jou skape se produktiwiteit bepaal as jy dit nie kan meet teen ander produsente wat onder soortgelyke omstandighede boer nie?

“Die lekker deel van ’n studiegroep is dat iemand wat onpartydig is en nie emosioneel of met sentiment aan jou boerdery gebonde is nie, jou veld, diere, bestuurstyl en selfs jou geldsake kan evalueer, jou sterk en swak punte kan uitwys, asook watter aanpassings nodig is.”

Teelbeleid en seleksie-eienskappe

Abraham se skape moet aan sekere eienskappe en standaarde wat vir hom belangrik is, voldoen. “Drie punte vorm die grondslag van my teelbeleid, naamlik reproduksie (met ander woorde, die aantal lammers wat gebore word), produksie (die lammers moet kan groei), en bouvorm, wat ’n goeie karkas beteken.”

’n Eienskap waarop hy veral klem lê, maar wat nie gemeet kan word nie, is konstitusie. Dit is die vermoë van ’n skaap om kondisie te behou, of in ’n beter kondisie te wees as ander skape in dieselfde omstandighede. Volgens hom is dit gewoonlik ’n skaap wat kapasiteit en lyfvet het, en nie noodwendig die skaap wat op ’n skou gaan wen nie.

“Dit gaan dus daaroor dat ’n skaap reserwes moet kan opbou om onder moeilike omstandighede te reproduseer, en ruvoer, wat meestal uit droë gras bestaan, te verwerk. Daarby moet sy ook haar lammers kan grootmaak.”

Op die vraag of ’n ram se prys van hom ’n goeie ram maak, sê Abraham dat dit ’n vraag is waaroor ’n mens heeldag kan praat. “Ek glo die meeste mense onderskei ’n beter dier met behulp van teelwaardes en op fenotipe, en dít het ’n invloed op sy prys. Vir my gaan dit oor die moederlyn waaruit ’n ram kom en of sy ooilammers vrugbaar sal wees, swaar lammers sal produseer en goeie moeders sal wees.”

Daarna kyk hy na bouvorm, lyfvet en kapasiteit. Vir hom is ’n goeie ram een wat produktiewe eienskappe na sy vroulike nageslag kan oordra, maar ook aanvaarbare bouvorm toon.

Waarde van ’n goeie bestuursplan

Ongelukkig is dit ’n werklikheid dat die skape gewoonlik die skuld kry wanneer dinge op die plaas nie lekker klop nie, sê Abraham. Hy glo egter dat probleme gewoonlik weens ’n gebrek aan goeie bestuur opduik.

Die saak is reeds half gewonne wanneer ’n skaapprodusent ’n kampstelsel in plek het om aan die voedingsbehoeftes van die ooi te voldoen. Daar moet ook vasgestelde dekseisoene wees, wat so kort as moontlik gehou word, sodat die presiese lamdatum bepaal kan word. Sodoende weet die produsent presies wanneer om ekstra byvoeding te gee om uier- en melkontwikkeling te stimuleer, en word gespaar op onnodige voeruitgawes tydens vroeë dragtigheid.

Dorpers
Geskeerde jong ramme op die plaas Kalkfontein. (Foto: Mariska Blom)

Nog voordele is eenvormige lammeroeste en dat al die lammers met slegs twee of drie lotte bemark kan word. Dit is ook voordelig vir seleksiedoeleindes, sê hy, waar al die lammers in dieselfde soort omstandighede grootgemaak word en daar maklik bepaal kan word watter diere presteer, al dan nie.

“As produsent fokus ek daarop om soveel as moontlik lammers teen die beste gewig te verkoop. Daarom bestuur ek ’n versnelde lamstelsel, waar die ooie elke agt of tien maande lam. Elke ooi en lam is genommer, en word daarvolgens op ’n rekenaarprogram aangeteken. Dit stel my in staat om presies te weet watter ooie produktief is, en watter lammers groei of nie.

“Verder pas ek intensiewe praktyke toe met lamhokke waarin ooie met meerlinge lam vir die beste kans op oorlewing. Die meerling-ooie en -lammers word met spuitverf genommer sodra hulle uit die hokke uitgaan. Dit help my om verliese vinnig en maklik in die veld te kan waarneem. Alhoewel lammers tot so vroeg as 35 dae oud gespeen kan word, speen ons hulle eers tussen 60 en 75 dae oud.”

Wat die ideale voedingstoestande vir Dorpers betref, vind Abraham dat die somerveldtoestande tussen November tot April onder normale omstandighede gunstig is vir gemengde soet- en suurveldweiding. Ongelukkig is die reënvalpatrone baie wisselvallig, sê hy, en kan ’n mens nie daarop staat maak nie.

“In ons geweste raak die suurpol soms baie dig en moet dit gebrand word vir beter benutting. Ons winters is straf, lank en droog, en die veld se voedingswaarde neem gewoonlik tot só ’n mate af, dat byvoeding nodig is.”

Slaggereedheid en bemarking

Abraham bemark sy skape met behulp van ’n agent aan die abattoir. Vir hom is ’n aanvaarbare lamkarkas op 120 dae ná lam, en volgens sy produksiestelsel, ’n karkas met ’n bouvormtelling van 3, 4 of 5, wat tussen 20 en 21kg weeg en verkieslik as A2 of A3 gegradeer kan word.

“Ek weet van produsente wat Dorper-stoorlammers baie suksesvol bemark en tussen 30 en 35kg op lewende gewig uitkom,” sluit hy af.

Vir meer inligting, stuur ’n WhatsApp vir Abraham Blom by 076 350 0410, of skakel 048 888 0033.

orf, skeerpraktyke, lemon
,hartwater, Dorpers, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom