Estimated reading time: 4 minutes
- In Suid-Afrika se landelike gebiede, is grondeienaars genoodsaak om sekuriteitsmaatreëls op plase op te skerp en te verhoog.
- Op plase is dit meer ingewikkeld om veiligheidsmaatreëls op te gradeer as gevolg van die groter area wat beskerm moet word.
- Konflik ontstaan wanneer die uitoefening van regte bots met veiligheidsmaatreëls en die instel van meer en beter veiligheidsmaatreëls op plase.
- Buiten gesonde oordeel wat aan die dag gelê word, is gesonde vooraf-kommunikasie (verkieslik skriftelik) en samewerking oor die instel en opskerp van veiligheidsmaatreëls eerste prys.
- ’n Balans moet getref word ten opsigte van die uitoefening van regte op plase en die veiligheidsmaatreëls wat in plek is of uit noodsaak in plek gestel word.
In die onlangse verlede het ’n paar gevalle op plase opgeduik waar die huidige bedreigings van geweldsmisdaad in Suid-Afrika se landelike gebiede, grondeienaars in daardie gebiede genoodsaak het om die sekuriteitsmaatreëls op plase op te skerp en te verhoog. Van hierdie maatreëls het ook spesifiek, in die lig van ’n toename in grondbesettings, geverg dat beter toegangsbeheer tot plase ingestel moes word en dat plaasgrense gepatrolleer word.
Lees meer wat die wet sê oor plakkers hier.
In dorpe en stede is die instel en verbetering van sekuriteitsmaatreëls by wonings eenvoudig en is daar, buiten ’n paar statutêre beperkings ten opsigte van sekuriteitstoerusting en toebehore wat gebruik word, betreklik min beperkings op die maatreëls wat eienaars kan tref om geliefdes en eiendom te beskerm.
Op plase is dit meer ingewikkeld om veiligheidsmaatreëls op te gradeer as gevolg van die groter area wat beskerm moet word, maar ook omdat plase, anders as in dorpe en stede, nie net deur grondeienaars bewoon word nie.
Lees oor georganiseerde landbou se rol in veiligheid hier.
Regte van plaasbewoners
Plase word ook bewoon deur plaaswerkers en plaasbewoners wat aan die een kant die voordeel van die veiligheidsmaatreëls het, maar wat aan die ander kant deur dieselfde maatreëls beperk kan word ten opsigte van die uitoefening van spesifieke en uitdruklike regte wat aan hulle verleen word in gevolge die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) of die Esta.
Hierdie regte sluit die volgende in:
- Die reg op vryheid van beweging.
- Die reg op vryheid en sekerheid van die persoon.
- Die reg om bona fide-besoekers op redelike tye en vir redelike tydperke te ontvang.
- Die reg om ’n afgestorwe lid van sy of haar familie, wat ten tyde van so ’n persoon se afsterwe op die grond gewoon het, te begrawe.
Konflik ontstaan wanneer die uitoefening van hierdie regte bots met veiligheidsmaatreëls en die instel van meer en beter veiligheidsmaatreëls op plase. Hierdie konflik en botsende kwessies het al verskeie kere in ons howe ’n draai gemaak, omdat die tersaaklike wetgewing nie duidelikheid bied oor hoe prakties met hierdie kwessies te werk gegaan moet word nie.
Lees meer oor die wetgewing en hulpbronne rakende landelike veiligheid hier.
Redelike maatreëls
Die antwoord op hierdie vraagstuk is gedeeltelik in die Esta vervat en wel in die opsig dat die bepalings waarvolgens hierdie regte geskep word, die regte kwalifiseer deur dit onderhewig te stel aan redelike maatreëls wat die eienaar of persoon in beheer van grond mag instel om lewe en eiendom te beskerm.
Dit is moeilik om ’n enkele maatstaf wat as redelik beskou sou word, te bepaal of neer te lê. Dit word verder bemoeilik deur die feit dat die veiligheidstoestande in Suid-Afrika se landelike gebiede oor tyd verander en te oordeel aan misdaadstatistieke, versleg.
Lees meer oor plaasbewoners se reg op elektrisiteit hier.
Dit beteken dat ’n balans getref behoort te word ten opsigte van die uitoefening van bogemelde regte op plase en die veiligheidsmaatreëls wat in plek is of uit noodsaak in plek gestel word. Die balans sal gewoonlik gevind word deur die bestaande maatreëls of nuwe maatreëls te vergelyk met maatreëls wat op soortgelyke eiendom in die nabye omgewing of ’n bepaalde distrik getref is om lewe en eiendom te beskerm.
Maatreëls wat as onredelik beskou sou word, is dié wat persone met regte permanent verhoed om hul regte uit te oefen of wat uitsluitlik daarop gerig is om op ’n konstruktiewe wyse te poog om, buite die voorgeskrewe vereistes en prosesse in die Esta, iemand te dwing om sy/haar verblyfreg teen sy/haar wil permanent op te sê. Dit kan kragtens die definisie van ’n ‘uitsetting’ in die Esta, neerkom op ’n kriminele misdryf.
Vind meer uit oor hoe boere planne maak vir hulle veiligheid.
Goeie kommunikasie
Buiten gesonde oordeel wat aan die dag gelê word, is gesonde vooraf-kommunikasie (verkieslik skriftelik) en samewerking oor die instel en opskerp van veiligheidsmaatreëls die eerste prys om hierdie sensitiewe kwessie te bestuur en konflik te vermy.
Prakties beteken dit dat, voor die inwerkingstelling van enige veiligheidsmaatreël of verandering van bestaande veiligheidsmaatreëls op plase, daar verkieslik met mense wie se regte geraak kan word, beraadslaag moet word en dat behoorlike rekord gehou moet word van sodanige gesprekke. Die alternatief om sodanige maatreëls eensydig in te stel, kan tot gevolg hê dat die hof genader word en die hele kwessie in bestrede litigasie ontaard.
Hierdie is ’n kwessie wat met wysheid en deursigtigheid aangepak moet word en waar onsekerheid bestaan, sal dit raadsaam wees om behoorlike advies in te win. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak Hans-Jurie Moolman by 033 032 0421 of epos hj@mmlaw.co.za.