Litigasie: Die waarde van groepsoptrede

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

  • Die grootste uitdaging met litigasie is dat hofsake vir die meeste individue eenvoudig nie meer bekostigbaar is nie.
  • Waar individue begin saamspan, word die koste van een hofsaak deur verskeie mense of instansies befonds om ’n gesamentlike uitkoms te bereik.
  • Aangesien litigasie toenemend noodsaaklik word vir die beskerming en afdwing van regte, is dit wenslik dat groepe individue en instansies hul kragte saamspan.

Ander persone se regte word dikwels deur gebeure, besluite en optredes van individue en/of die staat beïnvloed. In baie gevalle word meer as een persoon, instansie of belangegroep geraak.

Ons wetgewende en besluitnemingsprosesse skryf openbare deelname vir die publiek of beraadslaging met individue voor. Dit het ten doel om erkenning te gee en ’n balans te vind tussen besluite wat geneem word en die regte wat dit negatief mag raak. Hierdie prosesse word egter nie gevolg nie.

Onregmatige besluitneming

In sekere gevalle word die prosesse gevolg, maar onderduimse maniere word aangewend om bewysmateriaal te fabriseer. Dit skep dus die indruk dat die publiek en belanghebbers se regte in ag geneem is, terwyl dit glad nie die geval is nie. Mense raak dikwels eers bewus van die gevolge wanneer implementering van die besluit reeds op ’n gevorderde stadium is.

Van die vernaamste gevalle wat telkens ter sprake kom, is:

  • Besluite van provinsiale regerings oor aktiwiteite waarvoor omgewingsgoedkeuring verkry moet word.
  • Besluite oor aansoeke vir prospektering, mynbou of eksplorasie.
  • Besluite van plaaslike owerhede oor die hersonering van grond, dorpstigting, verandering van grondgebruik en waterlisensie-aansoeke.
  • Besluite oor beheermaatreëls wat die uitbreek en verspreiding van dieresiektes betref.
  • Aktiwiteite van individue wat op ’n onredelike wyse op ’n eiendom uitgeoefen word en regtens as ’n aanvegbare oorlas vir ander beskou kan word.
  • Grondeise.

Aanveg van die saak

Indien openbare deelname nie die gewenste uitwerking het nie en die tersaaklike besluitnemers nie persone of instansies wat deur die besluite geraak word se regte erken nie, is die bevegting van die saak in die hof (litigasie) die laaste uitweg.

Die grootste uitdaging met litigasie is dat hofsake vir die meeste individue eenvoudig nie meer bekostigbaar is nie. Daarmee saam word hulle, bykomend tot ’n eerste en suksesvolle uitslag in die howe, gekonfronteer met ’n appèl na ’n hoër hof. So ’n appèl skort gewoonlik die resultaat van die vorige uitspraak op, totdat dit deur die volgende hof aangehoor en beslis is. Hierdie toedrag van sake skep ’n onhoudbare posisie vir persone wie se regte negatief geraak word, maar nie kan bekostig om vir daardie regte te veg nie.

Dit is waar groepsoptrede toenemend die oplossing word. Dit beteken dat alle individue  wie se regte negatief geraak word, onder mekaar begin organiseer om gesamentlik deur regsoptrede vir hul kollektiewe regte te veg. Waar individue begin saamspan, word die koste van een hofsaak deur verskeie mense of instansies befonds om ’n gesamentlike uitkoms te bereik.

Deur saam te werk word die finansiële las wat andersins op ’n enkele individu of instansie sou rus, onder al die deelnemers versprei en word elkeen se afsonderlike las ligter. Om dus in ’n hofsaak te slaag en regte af te dwing en te beskerm, is sodoende binne die finansiële bereik van elkeen wat hul deel bydra.

Afdwing van regte

Artikel 38 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996), verleen eksplisiet erkenning aan groepsoptrede waar fundamentele regte in hoofstuk 2 van die Grondwet geraak word. Dit bepaal die volgende:

“Iemand in hierdie artikel genoem, het die reg om ’n bevoegde hof te nader en aan te voer dat daar op ’n reg in die Handves van Regte inbreuk gemaak is of dat so ’n inbreukmaking dreig, en die hof kan gepaste regshulp verleen, met inbegrip van ’n verklaring van regte. Die persone wat ’n hof kan nader, is-

  1. iemand wat in eie belang optree.
  2. iemand wat optree namens iemand anders wat nie in eie naam kan optree nie.
  3. iemand wat as ’n lid van, of in die belang van, ’n groep of klas persone optree.
  4. iemand wat in die openbare belang optree.
  5. ’n vereniging wat in die belang van sy lede optree.”

Die eise van ons tyd vereis meer vindingryke maniere om groot uitdagings die hoof te bied. Aangesien litigasie toenemend noodsaaklik word vir die beskerming en afdwing van regte, is dit wenslik dat groepe individue en instansies hul kragte saamspan. Sodoende verseker hulle dat die stryd gewen word en, waar nodig, ‘n saak tot aan die einde en tot by ’n finale uitspraak in die howe geveg kan word. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 12 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...