Die Maart-uitgawe van Veeplaas neem lesers op ’n reis deur die moderne Suid-Afrikaanse landbou, van strategiese voerkrale en suksesvolle kuddes, tot slim melkstalle en gesondheidsuitdagings op die plaas. Hierdie uitgawe bied waardevolle insigte wat elke produsent benodig om hul boerdery doeltreffend en volhoubaar te bestuur.
Voerkrale in SA en hoe dit wêreldwyd vergelyk
Voerkrale kan as’t ware as die brug tussen rooivleisprodusente en eindverbruikers beskou word. Suid-Afrika se voerkraalbedryf bestaan uit sowat 100 kommersiële voerkrale wat aan duisende mense werk verskaf. Die hoofartikel in die Maart-uitgawe van Veeplaas verduidelik die belangrike rol van voerkrale in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf, insluitend hul kapasiteit, funksies in die waardeketting, bydrae tot die nasionale vleisproduksie, asook hoe ons land se voerkrale met ander s’n vergelyk.
’n Tuli-kudde wat voortdurend verbeter
Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tulis is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar bekroon. Hy het aanvanklik met verskeie beesrasse geëksperimenteer deur hul winsgewendheid te evalueer. Die Tuli-ras het egter koning gekraai en gewapen met bewese syfers, het Christo in 2006 sy stoet op die been gebring. Veeplaas het by hom gaan aanklop om sy resep vir ‘n volhoubare en winsgewende beesboerdery neer te pen.
Van tradisie na tegnologie op Goedgeleë
Ses melkrobotte en slegs twee werkers melk daagliks 400 koeie op Goedgeleë-boerdery naby Protem in die Bredasdorp-omgewing. Die rustigheid en beperkte interaksie dra by tot die gemak en gesondheid van die koeie, wat op sy beurt tot hoër melkproduksie en uiteindelik meer wins lei. In die Maart-uitgawe van Veeplaas lees ons meer oor die slim, geoutomatiseerde melkstal van Pierre Human en sy seun, Pierre-Jacques.
Vertikale groei in die lamkraal: Afronding
Lammers kan op verskeie maniere afgerond word: ekstensief op die veld, semi-intensief op aangeplante weidings en voer, of intensief in ’n kraal. Wanneer ’n produsent ’n intensiewe voer- of afrondingskraal bestuur, moet faktore soos die aankoop- en verkoopprys, voerkoste, voeromsetverhouding, gemiddelde daaglikse toename en karkas- of uitslagpersentasie in ag geneem word. Hierdie artikel in die Maart-uitgawe van Veeplaas fokus daarom op die afrondingsfase van ’n lam in die voerkraal.
Sponssiekte op die plaas
Sponssiekte maak gewoonlik sy verskyning stil-stil en word maklik met ander siektes soos kwaadaardige edeem, gasgangreen of dikkop verwar, aangesien die siektetekens en nadoodse letsels ooreenstem. Boonop is dit moeilik om die siektes van mekaar te onderskei, tensy bakteriese kweking of tipering gedoen word. Dr JG Nel, ‘n veeartsenykundige konsultant by Kyron Agri, werp lig op dié dodelike siekte.
Kry vandag nog jou Maart 2026-uitgawe van Veeplaas by jou naaste kleinhandelaar of maak seker dat jy daarop inteken. Veeplaas is as ’n interaktiewe blaaiboek by https://digimags.agriorbit.com/books/Veeplaas-Maart-2026-digimag/ beskikbaar en kan ook by www.magzter.com aangekoop word. Kontak Beauty Mthombeni by 064 890 6941 om in te teken op die PDF-weergawe of hardekopie.




