November se uitgawe van Veeplaas verken die jongste werks- en landboutendense, beproefde boerderypraktyke en gesondheidskwessies in die veesektor: Alles wat produsente móét weet.
Met ’n werkloosheidskoers van 33,2% en ’n informele sektor wat steeds groei, staan Suid-Afrika se werksmag voor groot uitdagings, maar ook geleenthede. Die jongste werksverslag van Statistieke SA bied insiggewende data oor indiensneming, spesifiek in die landboubedryf waar sowat 906 000 mense tans werk. Maar hoe beïnvloed tegnologie, minimumloon en seisoenaliteit hierdie syfers? En wat beteken dit vir die toekoms van landbouwerknemers? Lees meer oor die tendense, uitdagings en arbeid per bedryf in die November-uitgawe van Veeplaas.
Bertus en Roux Steenkamp van Klipbanksfontein het ’n wenresep vir top-slaglammers en volhoubare boerdery. Met hul unieke tienpuntplan – van goeie arbeid tot skaaphonde en droogtebeplanning – wys dié pa-en-seunspan hoe geslagte-oue kennis en moderne insig ’n boerdery laat uitblink.
Die keuse van speenouderdom in koei-kalfproduksie is ’n belangrike bestuursbesluit wat kalfgroei, reproduksie en winsgewendheid beïnvloed. Navorsing wys dat aangepaste speenstrategieë, soos vroegspeen, help om kuddeprestasie en veerkragtigheid te verbeter, veral in uitdagende klimaat- en marktoestande.
Insekoordraagbare virusse soos drie-dae-stywesiekte (DDS) en knopvelsiekte veroorsaak jaarlikse produksieverliese en ekonomiese druk op Suid-Afrikaanse beesprodusente. Hoewel behandeling simptome verlig, is inenting die beste verdediging. Tydige inenting help jou om jou kudde te beskerm en winsgewendheid te verseker.
Lees meer hieroor in die November-uitgawe van Veeplaas, nou beskikbaar by jou naaste handelstak of www.magzter.com. Veeplaas kan ook as ’n interaktiewe blaaiboek by https://digimags.agriorbit.com/books/euql/ afgelaai word. Om in te teken, kontak Beauty Mthombeni by 064 890 6941.






