Minimumloon kan R30 oorskry in 2026

Estimated reading time: 3 minutes

Die Nasionale Minimumloonkommissie het ’n voorstel ter tafel gelê dat ’n verhoging in die minimumloon vir volgende jaar op verbruikersprysindeks (VPI) plus 1,5% bereken word. Die huidige minimumloon is R28,79 per uur.
Volgens Statistiek Suid-Afrika se jongste syfers het die land se jaarlikse VPI op 3,5% te staan gekom. Dit beteken dat die kommissie in effek ‘n verhoging van 5% voorstel. Indien die voorstel dus in werking sou tree sal Suid-Afrika se minimumloon op 1 Maart 2026 dus die R30 per uur kerf oorskrei.

Verskillende standpunte uit die bedryf

Wessel Lemmer, uitvoerende hoof van Raisins SA, voel die verhoging behoort nie veel meer as algemene verbruikersinflasie te wees nie. Hy verduidelik dat die VPI vir 2025 op 3,2% bereken word en voedselinflasie is 4,1%. Ekonome projekteer hierdie bedrag op 3,5% vir 2026. Hy voel die minimumverhoging behoort nie hoër as hierdie persentasie te wees nie.

Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels SA, voel weer dat ’n verhoging tot 5% heeltemal billik is. Dit behoort met die normale salarisverhogings ooreen te stem. Hy voeg egter by dat dit vir aartappelprodusente hanteerbaar sal wees, maar daar moet nie ander verskuilde kostes soos addisionele onderhandelings vir lone of diensvoorwaardes bykom nie. Hy sê dit gebeur dikwels dat arbeiders ten tye van verpakking van aartappels, wanneer die produsent onder druk is, wil onderhandel.

Hannes Latsky, opleiding- en nakomingbestuurder van die Landbou Werkgewers Organisasie (LWO), sê hulle ontvang gereeld oproepe van lede wat in moeilike tye sukkel met loononderhandelings of vakbondoptrede. Hy het egter die versekering gegee dat enige persoon wat ’n lid van LWO is, enige tyd van die dag of nag hul regsbystandslyn kan skakel  en hulle sal die nodige hulp met sulke onderhandelings ontvang.

Mededingendheid bly noodsaaklik

Georganiseerde landbou is betrokke by die vasstellingsproses van minimumlone en volgens Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, moet ’n paar realiteite in ag geneem word wat landbouwerkers betref. Landbou bly ’n groot werkgewer en verskaf sowat een miljoen werksgeleenthede. Indiensnemingstendense bly egter sensitief vir klimaatskokke, winsgewendheid, uitdagings en stygende insetkoste.

“Landboubedrywe soos sitrus, tafeldruiwe, neute en wyn, wat op die uitvoermarkte fokus. bly aan stygende arbeidskoste blootgestel. Hierdie bedrywe funksioneer in hoogs mededingende wêreldmarkte waar die Suid-Afrikaanse produsente reeds strukturele uitdagings in die gesig staar. Dit sluit hoë vragkoste, druk op hawens, verswakte dieregesondheidstelsel wat marktoegang benadeel en tariefhindernisse in prioriteitsmarkte in. In hierdie omgewing is die handhawing van kostemededingendheid noodsaaklik om werksgeleenthede en uitvoerinkomste te behou,” sê Kotzé.

In baie van die bedrywe is handearbeid ’n noodsaaklikheid en moet heelwat werkers in diens geneem word. Dit is juis dié produsente wat dikwels die harde bene moet kou ten opsigte van addisionele loononderhandelings en dies meer. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Related

Die toekoms is goud vir kanola in Suid-Afrika

Estimated reading time: 3 minutesGraan SA het vanjaar by NAMPO Kaap die geleentheid gebruik om groei in Suid-Afrika se kanolabedryf te bespreek. Die gewas...

The Agri X Fusion Collaboration Summit has a new date

Estimated reading time: 2 minutesThe Agri X Fusion Red Meat Value Chain Collaboration Summit will take place on 20 and 21 October 2026 at...

AFMA Forum 2026: Celebrating excellence and honouring achievement

Estimated reading time: 5 minutesThe 2026 AFMA Forum held at Sun City in September concluded with a celebration of excellence during which students, researchers,...