
Estimated reading time: 4 minutes
- Suid-Afrika se besigheidsomgewing is hoogs gereguleer ten opsigte van arbeidswetgewing. Dit plaas addisionele druk op werkgewers, spesifiek wat betref die plaas se winsgewendheid en volhoubaarheid.
- Hierdie artikel kan dien as ’n kontrolelys wat werkgewers kan gebruik ten opsigte van die vereistes wat deur arbeidswetgewing gestel word.
- Die Departement van Indiensneming en Arbeid het die mandaat om arbeidswetgewing af te dwing en die werksplek gereeld te inspekteer om nakoming te verseker.
- Arbeidsinspekteurs mag op enige redelike tyd die werksplek sonder ’n lasbrief of kennisgewing betree en die werkgewer van ’n brief voorsien om ondersoek in te stel of die besigheid aan arbeidswetgewing voldoen. Die Departement van Indiensneming en Arbeid delegeer geen derde party om ’n inspeksie namens die Departement uit te voer nie. Geen inspekteur mag plakkate, produkte of inligting verkoop nie.
- Voldoening aan arbeidswetgewing is ononderhandelbaar en werkgewers loop die risiko van hewige boetes en selfs tronkstraf in gevalle van nie-voldoening.
Suid-Afrika se besigheidsomgewing is hoogs gereguleer ten opsigte van arbeidswetgewing. Dit plaas addisionele druk op werkgewers, spesifiek wat betref die plaas se winsgewendheid en volhoubaarheid.
Die volgende is ’n kort kontrolelys wat werkgewers kan gebruik ten opsigte van die vereistes wat deur arbeidswetgewing gestel word.
Belangrike registrasies
- Is jy geregistreer by die Vergoedingskommissaris?
- Is jy geregistreer by die Werkloosheidsversekeringsfonds?
Kyk na dienskontrakte
- Het elke werknemer ’n dienskontrak wat aan toepaslike arbeidswetgewing voldoen? Die dienskontrak is die heel belangrikste dokument in die werksplek en vorm die basis van die diensverhouding.
- Gebruik jy vastetermyn- of permanente dienskontrakte in lyn met wetgewing? Dit is onwettig is om permanente indiensname te probeer verbloem in die vorm van ’n vastetermyndienskontrak.
Leer meer oor hoe om ongehoorsaamheid in die werksplek te hanteer.
Belangrike dokumentasie
- Ontvang elke werknemer ’n salarisstrokie wat aan arbeidswetgewing voldoen?
- Hou jy ’n teenwoordigheidsregister asook ’n rekord van alle ure gewerk by?
- Vertoon jy die wetgewingplakkate in die werksplek, spesifiek: Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997, (Wet 75 van 1997), Wet op Billike Werksgeleenthede, 1998 (Wet 55 van 1998), Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, 1993 (Wet 85 van 1993)?
- Het jy ’n personeellêer vir elke werknemer met die volgende inligting: Dienskontrak, verlofvorms, salarisstrokies, dissiplinêre rekord, identiteitsdokument, persoonlike besonderhede, ensovoorts?
Dissipline in die werksplek
- Het die werksplek ’n relevante dissiplinêre kode wat op datum is en waarvan werknemers bewus is en dit verstaan? Die dissiplinêre kode dien as ’n riglyn vir werkgewers oor wat die toepaslike sanksie vir spesifieke oortredings is.
- Is daar duidelike beleide in plek wat werknemers kan volg met verwysing na die reël(s) ten opsigte van ’n spesifieke onderwerp? Beleide omskryf die werkgewer se eie reëls en moet billik wees. Tipiese beleide sluit in ’n rook-, selfoon- en higiënebeleid.
- Is daar duidelike prosedures in plek wat werknemers kan volg wanneer ’n spesifieke insident plaasvind? Tipiese prosedures sluit in ’n appèlprosedure en grieweprosedure.
Ander vereistes
- Betaal jy ten minste die minimumloon?
- Is jy ’n aangewese werkgewer in terme van die Wet op Billike Werksgeleenthede en voldoen jy aan die toepaslike vereistes?
- Voldoen jy aan die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid se vereistes?
- Indien daar ’n vakbond in jou werksplek is, het jy ’n erkenningsooreenkoms in plek?
Lees meer oor die kuns van versoening in die werksplek.
Inspeksie van werksplekke
Die Departement van Indiensneming en Arbeid het die mandaat om arbeidswetgewing af te dwing en die werksplek gereeld te inspekteer om nakoming te verseker. Arbeidsinspekteurs mag op enige redelike tyd die werksplek sonder ’n lasbrief of kennisgewing betree en die werkgewer van ’n brief voorsien om ondersoek in te stel of die besigheid aan arbeidswetgewing voldoen. Wanneer ’n inspekteur egter ’n huishouding wil betree, moet die eienaar toestemming gee of die arbeidshof moet ’n hofbevel uitreik om die huis te ondersoek.
Ingevolge Artikel 66 van die Wet Op Basiese Diensvoorwaardes sal die arbeidsinspekteur die volgende doen om ’n inspeksie uit te voer:
- Inligting en bewyse vanaf beide werkgewers en werknemers versamel.
- Afskrifte van enige rekords of dokumentasie neem.
- Die perseel inspekteer.
Baie produsente is bekommerd oor sekuriteit weens persone wat hulle valslik as arbeidsinspekteurs voordoen om toegang tot ‘n perseel te verkry. Dring aan op positiewe identifikasie van die persoon wat hom- of haarself as ’n inspekteur voorstel en verifieer eers die inligting voordat jy die persoon toegang tot jou perseel gee. Geen inspekteur mag ’n fooi hef vir die inspeksie, ondersoek, advies of enige bystand nie.
Die Departement van Indiensneming en Arbeid delegeer geen derde party om ’n inspeksie namens die Departement uit te voer nie. Geen inspekteur mag plakkate, produkte of inligting verkoop nie.
Ten slotte
Voldoening aan arbeidswetgewing is ononderhandelbaar en werkgewers loop die risiko van hewige boetes en selfs tronkstraf in gevalle van nie-voldoening. Dit is belangrik dat werkgewers op datum bly van, asook voldoen aan, toepaslike arbeidswetgewing. – Tammerin van Vuuren, junior regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie
Vir meer inligting, kontak Tammerin van Vuuren by tammerin@lwo.co.za.