Vroegspeen van kalwers

Estimated reading time: 4 minutes

Die afwagting na kalftyd in somerreënvalstreke begin nou opbou. Koeie gaan eersdaags met klein kalfies in die veld loop, en as produsent moet jy besluit hoe jy die oes wat aankom gaan hanteer.

Die inkomste van ’n beesprodusent word deur die aantal, gewig en prys van die speenkalwers bepaal. Elkeen van hierdie faktore kan egter deur ’n legio ander faktore beïnvloed word, en goeie bestuur moet dus toegepas word om inkomste te maksimeer, terwyl koste sover as moontlik beperk word.

Bepalende faktore

Die aantal kalwers word eerstens bepaal deur die koeie se konsepsiesyfer, tweedens deur die kalfpersentasie en derdens deur die speenpersentasie. Elk van hierdie syfers, gegewe die aanname dat daar niks fout was met jou bulle nie, word weer deur voeding, siektes, en vir speenpersentasie ook roofdiere, beïnvloed.

Kry die jongste vleispryse.

Die gewig van kalwers word weer bepaal deur die hoeveelheid melk van die koeie en die beskikbaarheid van weiding en byvoeding wanneer die kalwers begin vreet. Die prys van kalwers word deur die mark bepaal, maar die grootste invloed hier is wanneer die kalwers verkoop word. Dit is omdat die prys van week tot week verskil, ook weens die gewig van die kalwers, aangesien premies dikwels vir ligte kalwers en boetes vir swaar kalwers opgelê word.

Gegewe die voorgenoemde, is die vraag dan sekerlik watter praktyk jy moet volg om die meeste geld met jou huidige kalweroes te maak.

Lees meer oor die ekonomie van skaal betrokke by die uitbreiding van ‘n veeboerdery hier.

Die standaardpraktyk

Die standaard is om kalwers op die ouderdom van ongeveer sewe maande te speen, wanneer hulle tussen 200 en 240kg weeg. Kalwers kry gewoonlik geen addisionele voeding nie en word direk vanaf die veld bemark.

Aangesien koeie weer gedek word tussen drie en vier maande ná kalwing, is die voedingsbehoefte van die koeie redelik hoog gedurende die tydperk tussen kalwing en die volgende dekking. Nie net moet die koei voldoende energie inkry om genoeg melk te produseer nie, maar haar kondisietelling moet ook verkieslik goed en in ’n opwaartse fase wees om besetting te verseker.

Alhoewel natuurlike weiding met ’n goeie lek in ’n goeie jaar dikwels genoeg is gedurende hierdie tyd, moet byvoeding egter voorsien word in swak jare om goeie kalfgroei en besetting te verseker. Dit kan die voerkoste van die kudde aansienlik opjaag.

Kalwers is dan ook bemarkbaar tydens April en Mei, wanneer die speenkalfprys gewoonlik op sy laagste is weens die ooraanbod van kalwers. Die kalwers behoort dan ook te swaar te wees om ’n premie te verdien.

Lees meer oor die vleisprysvooruitsigte vir die res van 2022 hier.

Vroegspeen

Vroegspeen is ’n praktyk wat nog nie wyd in Suid-Afrika toegepas word nie, maar internasionaal is heelwat studies al hieroor gedoen en word dit ook suksesvol toegepas. Die vroegspeen van kalwers behels dat kalwers op ouderdom 90 of 150 dae gespeen word, in plaas van die gewone 210 dae.

Die vroegspeen van kalwers gaan met kruipvoeding gepaard. Dit help dat die kalwers se rumens vinniger aanpas, hulle vinniger groei en minder melk nodig het.

Volgens navorsing is daar verskillende voordele aan vroegspeen verbonde. Koeie se besetting verbeter drasties na die tweede rondte van vroegspeen, as gevolg van die langer rustyd, minder natuurlike weiding wat benut word en meer koeie wat dus aangehou kan word. Kalwers presteer ook beter in die voerkraal, aangesien jonger diere se voeromsetverhouding beter is.

Dié ligter kalwers behoort ook premies te verdien wanneer hul verkoop word. Jy behoort ook meer kalwers te hê weens beter besetting en meer vroulike diere, en die kalwers word nie in April en Mei verkoop nie, maar vroeër, wanneer die prys gewoonlik beter is.

Lees meer oor RAT Brahmanne se wenresep vir sukses hier.

Ten slotte

Dit is moeilik om presiese finansiële vooruitskouings te maak om vroegspeen met normale speentyd te vergelyk, aangesien die faktore net te veel van produsent tot produsent verskil en ons nie regtig in Suid-Afrika data het om mee te werk nie. Verskeie studies dui egter daarop dat die praktyk wel goed kan werk, en internasionaal word dit reeds toegepas.

Ek sal nie voorstel dat ’n produsent sommer net na ’n vroegspeenstelsel oorskakel nie, maar dit kan dalk die moeite werd wees om dit op ’n deel van jou kudde toe te pas en daarvolgens die somme te maak. – Prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, kontak prof Frikkie Maré by epos MareFA@ufs.ac.za.

Popular stories