Saturday, September 14, 2024
HomeAgri NewsSwellendam-skou gaan van krag tot krag

Swellendam-skou gaan van krag tot krag

Estimated reading time: 6 minutes

Hierdie jaar het die Swellendam-skou ‘n merkwaardige 192ste viering beleef. Dié skou spog met die grootste streekjeugskou in die Wes-Kaap. ʼn Groot mylpaal is tydens die skou bereik toe blinde en swaksiende leerlinge vir die eerste keer ooit aktief aan ʼn jeugskou deelgeneem het. Boonop het vleisbeeste hul langverwagte terugkeer na die skou gemaak. Volgens Suzaan Smit, voorsitter van Swellendam-skou, het al hierdie faktore saamgewerk om vir ʼn onvergeetlike skou te sorg.

“Dit het harde werk gekos om die skou op te bou. Die sukses kan aan die hele bestuur van die skou, wat baie hard gewerk het om die skou aan te bied, en ook aan die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap toegeskryf word,” het Smit gesê. Met ‘n vol program het die skou kampioene in verskeie klasse, insluitend perde, melk- en vleisbeeste, pluimvee, honde, en katte, aangewys.

‘n Hondeskou en ‘n skaaphondvertoning het baie aandag getrek. Johan Swart van Swellendam en sy hond, JK Bourne, het die besoekers gewys wat die waarde van ‘n skaaphond op ‘n veeplaas kan wees.

Daarbenewens het ‘n suksesvolle slaglamkompetisie en ‘n boeiende landbou-oggendprogram ook tot die skou se sukses bygedra. Plaas Media het met trots as die mediaborg opgetree.

Kyk Plaas TV se insetsel oor vanjaar se skou hier.

Landbou-oggend die beste nog

Die landbou-oggend by die Swellendam-skou het weereens bewys dat dit ‘n sleutelgeleentheid is, met ‘n opkoms van meer as 300 produsente en rolspelers in die landbousektor. Hierdie jaar se program is verder versterk deur die insigte van sprekers soos dr Roelof Botha, ‘n vooraanstaande ekonoom en politieke analis, en Johan Willemse, ‘n gesaghebbende landbou-ekonoom van AgriKonsult.

Dr Botha het die uitsonderlike bydrae van Suid-Afrikaanse produsente beklemtoon deur te sê dat hulle die land ‘n guns bewys. In teenstelling met baie ander lande wat tussen 10 en 50% van hul voedsel moet invoer, is Suid-Afrika ‘n beduidende netto uitvoerder van voedsel. Hy het uitgelig dat hierdie landbousukses ‘n stabiliserende effek op ons ekonomie gehad het, met ‘n inflasiekoers wat slegs tussen 7 en 8% gestyg het, in vergelyking met sommige van Suid-Afrika se handelsvennote wie se inflasiekoerse tussen 10 en 15% gestyg het.

Prof Johan Willemse het die veerkragtigheid van die landbousektor beklemtoon, en aangedui dat dit, buiten die finansiële sektor, die vinnigste groeiende sektor oor die afgelope vyf jaar is. “Landbou is ver van ‘n afnemende bedryf,” het hy gesê. “Ons uitvoer van landbouprodukte vind plaas sonder enige staatsondersteuning, wat ons op ‘n internasionale vlak mededingend maak. Dit is die dryfkrag agter ons groei.”

Daneel Rossouw van Nedbank, hoofborg van die landbou-oggend, het die belangrikheid van betrokkenheid by georganiseerde landbou beklemtoon. “Is dit werklik ‘n onredelike versoek om deel te neem aan georganiseerde landbou?” het hy uitgedaag. “Dit is verstommend dat slegs die helfte van ons produsente in die Wes-Kaap hierby betrokke is”.

Francois du Rand, burgemeester van Swellendam, het tydens die byeenkoms beklemtoon dat die produsentenetwerk ’n stabiliserende faktor vir Suid-Afrika is. Hy het ook die belangrikheid van aktiewe burgerskap uitgelig as ‘n ondersteunende krag vir plaaslike en provinsiale regerings, veral in areas waar die nasionale regering tekort skiet.

Johannes Human, die koördineerder van die jeugskou-afdeling, het aangekondig dat die Swellendam-skou se jeugskou hierdie jaar ‘n indrukwekkende 204 inskrywings ontvang het, wat dit die grootste streekjeugskou in die Wes-Kaap maak. Deelnemers het in verskeie klasse meegeding, naamlik beeste, kleinvee, perde, konyne, pluimvee en kulinêre kuns.

Blindes se deelname ‘n eerste vir jeugskoue

Een van die hoogtepunte tydens die skou was die deelname van leerders van die Pionierskool vir Blindes en Swaksiendes in Worcester. Madeline Kriel, ‘n onderwyseres by die skool, het tydens die skou gesê dit is die eerste keer dat blinde en swaksiende leerders aktief aan ‘n jeugskou deelneem. Die kinders het aan die ontwikkelingsklas vir pluimvee en konyne deelgeneem. Vier seuns het met hoenders geskou en vier dogters met konyne.

Die hoenders en konyne waarmee die kinders geskou het, is van Boland Landbouskool ‘geleen’. “Ons is egter in die proses om ons eie hokke te bou om ons eie hoenders en konyne aan te hou om leerders meer blootstelling te kan gee én te kan skou met diere wat hulle self makgemaak het,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel is blootstelling op hierdie stadium nog ‘n probleem. “Vir sommige van die kinders is dit die eerste keer wat hulle ooit aan ‘n hoender geraak het. Die kinders is egter baie entoesiasties en met meer blootstelling kan hulle in hul in eie afdelings op streek-, provinsiale en nasionale vlak deelneem.”

Kriel het gesê die kinders kan nou net met hoenders en konyne skou omdat dit die meer statiese afdeling van die jeugskou is. Selfs duiwe is te lewendig en sal nie werk nie. Die neiging is na hoenders omdat hulle selfs makker as konyne is.

‘n Toeganklike gids word tans ontwikkel om blinde en swaksiende kinders te ondersteun in hul deelname aan die pluimvee- en konynkategorieë van die jeugskou. Hierdie handleiding, wat deur, Willie Hall, ‘n ervare jeugskou-beoordelaar in die pluimveesektor saamgestel word, sal ‘n waardevolle hulpmiddel wees om hierdie kinders by die jeugskou te betrek. “Sodra die goedkeuring van hom en die nasionale vereniging gekry word, sal ons sien hoe die leerders kan deelneem. Tans is dit nog ‘n leerproses vir die kinders en beoordelaars,” het Kriel gesê.

Slaglamkompetisie

Altesame 41 lammers is vanjaar vir Swellendam-skou se slaglamkompetisie ingeskryf. Askraal Implemente van Buffeljagsrivier, naby Swellendam, het die eerste en tweede plek in die ‘groep aan die haak’-afdeling en die eerste en tweede plek in die ‘lam aan die haak’-afdeling ingeskryf. Die derde plek in die ‘groep aan die haak’-afdeling is deur L en H Lourens-boerdery van Swellendam ingeskryf en die derde plek in ‘lam aan die haak’-afdeling deur Hoëkraal Landgoed in Buffeljagsrivier.

South African Farm Assured Meat (SAFAM) in Swellendam het die wenkarkas in die ‘lam aan die haak’-afdeling op die skou se slaglamveiling vir R170/kg gekoop. Die lam se lewende gewig en slaggewig was onderskeidelik 39kg en 18,1kg en die karkas het A2 gradeer.

Suid-Kaap Jerseykampioenskappe

Die Suid-Kaap Jerseykampioenskappe is vanjaar tydens die Swellendam-skou aangebied. Volgens Guy Bird, hoofbeoordelaar van die Jerseys, was die gehalte van die diere wat aan die kampioenskappe deelgeneem het, baie goed.

Vleisbeeste terug op Swellendam

Swellendam-skou het vanjaar vir die eerste keer in baie jare weer met ‘n vleisbeesskou gespog. Brady Dabner, koördineerder van die skou se vleisbeesafdeling, het gesê daar is vanjaar met Angusbeeste begin om ‘n goeie grondslag te lê en te wys dat die skou die fasiliteite het om ‘n goeie vleisbeesskou aan te bied. “Volgende jaar sal ons groter gaan en die vleisbeesafdeling uitbou tot een van die skou se spog-afdelings,” het hy gesê.

Andrew Masterson, beoordelaar van die Angusbeeste, het gesê die beeste op die skou was van baie hoë gehalte en dat die wenners enige plek in die land kan meeding. Hy het die vertoners en die skougenootskap met ‘n uitstekende vleisbeesskou geluk gewens. – Hugo Lochner, AgriOrbit

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg in die Vrystaat, se passie...

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae...

AFMA honours excellence

Estimated reading time: 4 minutes Anina Hunter of Epol Feeds was re-elected as chairperson of the Animal Feed Manufacturers Association...

RSG Landbou: 11 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Tyd raak min om in te skryf vir die 2024 LRF Veeskool wat vanaf 9...

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en speel tans ’n deurslaggewende rol...

Katoen-verwysingsprys: Week van 2 tot 6 September

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde...

Keep exploring...

The South African cattle and sheep market – Part 1: Supply

Livestock production in South Africa is as old as the hills. The sheep spotted by the first European seafarers on the South African coast...

The South African cattle and sheep market – Part 2: Demand

In the first part of this series we looked at the supply of sheep and cattle in South Africa and concluded that it decreased...