Landboumarkte: Speenlamprys bly daal in Februarie

175

Estimated reading time: 3 minutes

Hiermee ‘n oorsig van die landboumarkte in Februarie 2024:

Nadat die rand die jaar sterk begin het, het die geldeenheid deurlopend waarde verloor in Februarie. Die rand het die maand teen R19,16 teenoor die Amerikaanse dollar en R20,72 teenoor die euro afgesluit. Beide die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het vir die eerste keer sedert Oktober 2023 gestyg. In Januarie het die VPI het na 5,3% jaar-op-jaar geklim en die PPI na 4,7% jaar-op-jaar. Die prima-uitleenkoers het onveranderd gebly op 11,75%, nadat die Monetêre Beleidskomitee (MBK) op 27 Januarie vergader het.

Die geelmielieprys het ‘n sterk opwaartse tendens tydens Februarie beleef. Die prys het met meer as R300/ton geklim en ʼn hoogte punt van R4 000/ton behaal waarna die maand teen R3 992/ton gesluit het. Hierdie styging in die prys kan heel moontlik toegeskryf word aan lae tot geen reën val en hoë maksimum temperature wat ons tydens die maand van Februarie ervaar het.

Die wolmark het gedurende die maand ‘n effense groei getoon en dit danksy óf ‘n stabiele Australiese wolmark of die rand wat tydens die veilings verswak het. Die aanwyserprys vir gesertifiseerde skoonwol het in Februarie teen R173,69/kg gesluit. Die bokhaarmark het sy eerste veiling van 2024 in Februarie gehad met pryse wat ‘n opwaartse tendens sedert die laaste veiling van 2023 toon. Die aanwyserprys vir die veiling was R373,22/kg.

Beeskarkaspryse het tydens Februarie taamlik stabiel gebly met effense prys verswakkings in A2- en B2-pryse terwyl C2-pryse redelik aan die einde van Februarie verswak het. Die maand het met ‘n gemiddelde A2-prys van R54,95/kg, die B2-prys van R48,30/kg en die C2-prys van R45,58/kg afgesluit. Die gemiddelde speenkalfprys (Figuur 1) het ‘n afwaartse tendens hierdie maand beleef. Die gemiddelde prys het teen R34,70/kg gesluit.

 Al die skaapkarkaspryse het tydens Februarie ‘n afwaartse tendens in pryse ervaar behalwe A2-pryse wat ‘n sywaartse beweging ervaar het. Die A2-prys het teen R84,09/kg gesluit, die B2-prys het teen R67,02/kg gesluit en die C2-prys het teen R53,37/kg. Die gemiddelde speenlamprys (Figuur 1) is steeds op ‘n afwaartse tendens sedert die begin van die jaar. Die gemiddelde prys het teen R36,17/kg gesluit.

Die afwaartse tendens in die prys van klas O-varkkarkasse het verder voortgeduur. Die prys het die maand teen R31,61/kg afgesluit. – Meyer van der Merwe, Siphiwe Tshabalala  en WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.

Figuur 1: Die gemiddelde speenkalf en speenlampryse vir 2024