Somme wat klop in die teelseisoen

Estimated reading time: 6 minutes

  • Reproduksie is die sleutel tot die oorlewing van kleinveeboerdery-ondernemings en daarom is dit belangrik dat produsente die reproduksiepotensiaal van hul ooitrop tydens elke teelseisoen bepaal.
  • Konsepsie- en skanderingpersentasie is twee parameters wat bereken word tydens die skandering van die ooie. Dit dui eerstens aan hoeveel ooie dragtig geskandeer is (CRS – conception rate at scanning) en tweedens hoeveel fetusse geskandeer is (SP – scanning percentage).
  • Konsepsie (CR – conception rate) tydens lamtyd word gebruik om uit te druk wat die verhouding ooie is wat gelam het, teenoor die aantal ooie wat gepaar is.
  • Lampersentasie (LP – lambing percentage) druk die verhouding van lammers gebore of gemerk uit teenoor die aantal ooie wat gepaar is. LP kan wissel van onder tot bo 100%, afhangend van die aantal lammers gebore.
  • Fekunditeit (Fec – fecundity) is ’n aanduiding van die meerlingpersentasie. Die parameter bepaal dus die aantal lammers wat deur ’n ooi geproduseer is.

Reproduksie is die sleutel tot die oorlewing van kleinveeboerdery-ondernemings en daarom is dit belangrik dat produsente die reproduksiepotensiaal van hul ooitrop tydens elke teelseisoen bepaal. Dit sal produsente in staat stel om ooie en ramme met vrugbaarheidsprobleme, asook probleme ten opsigte van die bestuur van die ooie en lammers, reeds vroeg te identifiseer.

Konsepsie- en skanderingpersentasie

Konsepsie- en skanderingpersentasie is twee parameters wat bereken word tydens die skandering van die ooie. Dit dui eerstens aan hoeveel ooie dragtig geskandeer is (CRS – conception rate at scanning) en tweedens hoeveel fetusse geskandeer is (SP – scanning percentage).

Beide hierdie waardes word uitgedruk relatief tot die aantal ooie wat gepaar is. Die parameters kan slegs bereken word indien produsente hul ooie ongeveer ses weke ná die einde van die paarseisoen vir dragtigheid skandeer.

CRS kan nie hoër as 100% wees nie, terwyl SP kan wissel van onder tot bo 100%, afhangend van die aantal fetusse. Hierdie twee parameters is die eerstes wat ’n aanduiding is van die sukses of mislukking van die teelseisoen. Die CRS vir ooigroepe van die ramme wat tydens ’n teelseisoen gebruik is, kan ook bereken word om te bepaal of ’n lae CRS die gevolg was van vrugbaarheidsprobleme by die ramme of ooie.

Lees meer oor hoe om ooie vir die teelseisoen voor te berei hier.

Konsepsie tydens lamtyd

Konsepsie (CR – conception rate) tydens lamtyd word gebruik om uit te druk wat die verhouding ooie is wat gelam het, teenoor die aantal ooie wat gepaar is. CR kan nie hoër wees as 100% nie en die ideale CR is bokant 90%. Hoe laer die CR, hoe groter is die aantal ooie wat vir een of ander rede nie gelam het nie. Dit is dus ’n aanduiding van die reproduksiepotensiaal van ’n kudde en moet vir elke teelseisoen bereken word.

Die CR vir ooigroepe van die ramme wat tydens die teelseisoen gebruik is, kan ook bereken word om te bepaal of ’n lae CR die gevolg was van vrugbaarheidsprobleme van die ramme of die ooie.

Lampersentasie

Lampersentasie (LP – lambing percentage) druk die verhouding van lammers gebore of gemerk uit teenoor die aantal ooie wat gepaar is. LP kan wissel van onder tot bo 100%, afhangend van die aantal lammers gebore.

Fekunditeit

Fekunditeit (Fec – fecundity) is ’n aanduiding van die meerlingpersentasie. Die parameter bepaal dus die aantal lammers wat deur ’n ooi geproduseer is. Fec word daarom gebruik om die verhouding van lammers gebore of gemerk relatief tot die aantal ooie wat gelam het uit te druk, en sal dus hoër as een wees. ’n Hoë Fec beteken dat ’n groot proporsie van die ooie meer as een lam tydens die lamseisoen geproduseer het.

Speenpersentasie

Speenpersentasie (WP – weaning percentage) word gebruik om die verhouding van lammers wat gespeen is relatief tot die aantal ooie wat gepaar is, uit te druk. WP kan wissel van laer tot hoër as 100%, afhangend van die aantal lammers wat gespeen is. Hierdie is ’n belangrike parameter om telers te help om teelseisoenprobleme te identifiseer met betrekking tot die vermoë van ooie om goeie gehalte lammers te produseer, asook ten opsigte van die bestuur van die ooi- en lamtroppe voor speen.

Oorlewingstempo

Oorlewingstempo (SR – survival rate) word gebruik om die aantal lammers wat gespeen is (oorleef tot speen) relatief tot die aantal lammers wat lewend gebore is, uit te druk. SR kan nie hoër as 100% wees nie en dit moet dus die produsent se doel wees om te verseker dat so ’n groot ’n gedeelte as moontlik van die lammers wat lewend gebore is, tot speen oorleef. ’n Kudde met ’n lae SR dui daarop dat ’n groot aantal lammers wat lewend gebore is nie tot speen oorleef het nie.

Mortaliteitstempo

Mortaliteitstempo (MR – mortality rate) word gebruik as uitdrukking van die verhouding van lammers wat voor speen dood is, relatief tot die aantal lammers wat lewend gebore is. MR kan wissel van 0 tot 100% en dit moet dus die produsent se doel wees om die MR so laag as moontlik te hou. ’n Kudde met ’n hoë MR dui daarop dat ’n groot aantal van die lammers wat lewend gebore is, nie tot speenouderdom oorleef het nie. MR kan ook bereken word vir spesifieke tydperke tussen geboorte en speen.

’n Som wat klop

’n Produsent paar 700 ooie waarvan 675 dragtig geskandeer is met 1 025 fetusse. Uiteindelik het 660 ooie gelam, 990 lammers is gebore en 920 lammers is gespeen. Sien meegaande berekeninge.

Vir meer inligting, kontak dr Willem Olivier by WillemO@dalrrd.gov.za.

Must read

Agri Wes-Kaap stel Jongboer van die Jaar 2026-kandidate bekend

Estimated reading time: 4 minutes Agri Wes-Kaap het vandeesweek die kandidate vir sy 2026 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Die organisasie het...

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na die volgende: BGP2: Jaar 3 skop...