Voorbereiding van ooie vir die teelseisoen

270
Oiie in die teelseisoen
Om die beste uit jou ooie te kry, is dit nodig om hul voedingspeil voortdurend hoog te hou. Voeding en lampersentasie loop hand aan hand.

Estimated reading time: 7 minutes

In ’n skaapboerdery word gewoonlik rofweg geskat dat een derde van die kudde vir twee-derdes van die inkomste verantwoordelik is. Dit is baie gevra, maar met strategiese voeding en goeie bestuur is dit moontlik. Om hierdie som te laat klop, moet jy ’n stelsel in plek hê wat reproduksie verhoog.

Kenners meen dat hoewel elke teler sy eie stelsel gebruik, daar een gemene deler in alle suksesvolle teelprogramme is – die regte voeding aan ooie en ramme, op die regte stadium in hul reproduksiesiklus, en om die ooie só te bestuur dat jy meer lammers met minder ooie kan produseer.

Goeie liggaamskondisie

Dr Josef van Wyngaard, tegniese bestuurder van Voermol, sê alles begin by die kondisie van die ooie. ’n Goeie kondisietelling is tussen 3 en 3,5. Volgens die wetenskap is daar ’n sterk korrelasie tussen die goeie kondisie van ooie en hul vrugbaarheid, wat beter besetting, goeie melkproduksie en ’n groter aantal meerlinge beteken.

Uit sy ervaring kan goeie kondisie met die regte strategiese voeding bereik word, asook die regte bestuur van die ooie en ramme vóór, tydens en ná die paarseisoen. “Met ’n goeie stelsel kan jy jou lammeroes aansienlik verhoog. Wyle dr Jasper Coetzee het met navorsing bewys dat ’n teler tot 20 meer lammers per 100 ooie gedek kan produseer, deur die regte aanvullende voeding op die regte tyd te voorsien,” sê hy.

’n Goeie lammeroes is noodsaaklik om die skaapboerdery suksesvol te bedryf. Hoe meer lammers, hoe beter.

Ockert van der Merwe, bemarkingsbestuurder van QPro Voere, stem hiermee saam. Hy sê maer én oorvet ooie sal ’n laer besettingskoers teweegbring, maar voeg by dat skaapboere hul ooie reeds vóór die paarseisoen al moes uitgesorteer het.

“Ooie met uierprobleme moet teen dié tyd al uitgeskot wees en die res moet fisies gesond wees. Een van die aspekte wat dikwels misgekyk word, is die ooie se kloue. Daar moet aandag hieraan gegee word, want dit kan ook ’n aanduiding wees van haar vermoë om die lam in ekstensiewe omstandighede groot te maak,” verduidelik hy.

Lees meer hier oor hoe om die doodsondes met kuddebestuur te vermy tydens die teelseisoen.

Die rol van voeding

Volgens Ockert word lampersentasie grootliks deur die voedingspeil in die 180 dae voor paring beïnvloed. “Dit is in hierdie stadium dat eierselle wat bevrug gaan word, in die eierstokke ontwikkel. Ooivoeding tydens dragtigheid en ná lam het dus nie net ’n invloed op die lam nie, maar ook op die aantal lammers wat gebore gaan word,” meen hy.

Dit is derhalwe belangrik om ooie op ’n goeie voedingspeil te hou en gewigsverlies so ver as moontlik te voorkom. Voedingstremming by jong ooie, sê hy verder, veroorsaak dat hulle minder lammers produseer as ooie wat onder goeie omstandighede grootgemaak is.

“Jong ooie moet ten minste 80 tot 90% van hul volwasse liggaamsmassa bereik vóór paring. Dit is egter belangrik dat jong ooie oor ’n langer tydperk op goeie voeding moet wees om hul teikenmassa te bereik, en daar moet gewaak word daarteen om ooie nie te vinnig te voer en onnodige vetneerlegging te veroorsaak nie. Met oorvoeding tot op ouderdom 20 weke kan vetneerlegging in die uier plaasvind, wat uierweefselontwikkeling benadeel,” sê hy.

Kondisie en prikkelvoeding

Volgens Ockert is daar ’n direkte verband tussen liggaamskondisie en ovulasietempo. Die vlak van voeding net voor ovulasie speel ’n bepalende rol en ooie wat in massa toeneem vóór paring, toon verhoogde ovulasie.

Ockert se raad aan produsente is om die droë ooie sowat vier weke en langer voor paring op groen weiding met ’n fosfaatlek te onderhou, en daarna na prikkelvoeding oor te skakel. “Op droë weidings kan ’n proteïenlek met voldoende deurvloeiproteïen gegee word. Ooie wat in swak kondisie is, kan reeds op ’n produksielek geplaas word om kondisie te bou.

Strategiese voeding is die basis van ’n goeie lammeroes. Vir optimale reproduksie moet ooie reeds vier weke vóór paartyd prikkelvoeding ontvang.

Dr Van Wyngaard stem saam dat die ooie in ’n goeie kondisie gehou moet word, maar vir hom is dit belangrik dat die ooie vier weke voor paring reeds goeie prikkelvoeding moet kry vir maksimum besetting.

“Prikkelvoeding is ’n beter gehalte lek as die gewone onderhoudslek wat die ooie moet kry. Dit het ’n goeie deurvloeiproteïenfraksie en voldoende energie, spoorminerale en makrominerale. Vir die ooie wat op winterweiding moet loop is dit wenslik om ’n prikkelaanvulling met vitamien A te gee, wat vrugbaarheid verder aanhelp.”

Hy sê die gehalte van die veld bepaal die inname van die prikkelvoeding. “Dit word met ’n soutkomponent beheer, maar die duimreël is dat elke ooi sowat 350g per dag nodig het. Die inname van prikkelvoeding wissel egter van plaas tot plaas en moet goed bestuur word.”

Hy glo die ooie moet voor, gedurende en tot twee weke ná die paarseisoen prikkelvoeding ontvang. “Dit speel ’n groot rol in embrio-aanhegting nadat die ram die ooi gedek het en help met die voorkoming van embrioresorpsie,” meen hy.

“Die vars en oorvloedige kos wat beskikbaar is voor paartyd is bevorderlik vir die verhoging van die ooie se kondisietelling. Dit is ekstra koste en moeite om jou ooie in dié tyd op prikkelvoeding te sit, maar dit lewer altyd goeie dividende, omdat dit die ooie se vrugbaarheid verhoog en jou meerlingpersentasie heelwat verbeter.”

Addisionele bestuursfaktore

Behalwe voeding, wat die belangrikste aspek van die reproduksiestelsel is, is daar ander faktore wat met behulp van goeie bestuur, vir ’n goeie lammeroes kan sorg.

Dr Van Wyngaard se raad is om minstens ses weke voor die teelseisoen reeds die ooie uit te sorteer. Hy vertel dat sommige skaapboere so ver gaan om die ooie in groepe volgens hul ouderdom op te deel, maar sy ervaring is dat daar eerder na die verdeling van die kudde in twee groepe gekyk word – volwasse ooie en jong ooie – wat apart geprikkel en gepaar moet word.

In die tyd voor die paarseisoen moet daar ook na die diere se gesondheid omgesien word. Ooie moet vroegtydig teen siektes soos bloutong ingeënt, en teen interne en eksterne parasiete wat in die omgewing kan voorkom, gedoseer word. Hy raai produsente ook aan om vier weke voor paring addisionele spoorminerale vir die ooie te gee en hulle in ’n spaarkamp in te jaag.

Volgens Ockert moet die beide die ooie en ramme in die drie weke vóór en tydens paartyd nie oormatig hanteer word nie, en alle spuit- en skeerprogramme moet dan reeds afgehandel wees. “Omstandighede moet so spanningsvry as moontlik wees en die diere moet rustig wees, met voldoende kos.”

Dit ook ideaal, sê hy, om die ramme twee maande voor paartyd vir vrugbaarheid te laat toets en seker te maak hul kondisie is reg. Daar moet genoeg vrugbare en fikse ramme vir die paarseisoen beskikbaar wees.

“Sperme vorm reeds ses weke voor paring en dus moet die ramme reeds agt weke voor die teelseisoen goeie voeding inkry. Die duimreël is ongeveer 400 tot 600g kragvoer per ram per dag. Ramme moet nie vet en onfiks wees nie,” sluit hy af. – Koos du Pisanie, Veeplaas


Vir meer inligting, kontak
dr Josef van Wyngaard by 082 336 0626 of
Ockert van der Merwe by 079 290 9042.


Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene