HomeMagazinesGoeie genetika is die middelpunt

Goeie genetika is die middelpunt

-

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) se Molatek/Veeplaas/Breedplan-stoetteler van die jaar-toekenning vir 2023, het aan twee Namibiërs, Heinz en Almut Gruhn, die eienaars van die Otongovi Hereford-stoet van die plaas Otongovi naby Windhoek gegaan.
  • Die toekenning gaan gepaard met streng kriteria wat deur ’n onafhanklike paneel beoordeel word. Dit sluit onder meer algemene kuddebestuur, kuddevrugbaarheid, genetiese bestuur (‘n teelplan en die verkoop van genetiese materiaal) asook die teler se gemeenskapsdiens in.
  • Heinz vertel dat hy eintlik ’n outo-elektrisiën is. Hy het destyds ’n vooruitstrewende besigheid in Windhoek gehad, toe sy skoonpa hom en sy vrou, Almut, in 1995 gevra het om die boerdery oor te neem.
  • “Ons het aanvanklik met die kruisdiere aangegaan en uit die kruiskoeie ons graderings gedoen. Ons het ’n geregistreerde Hereford-bul gebruik tot ons by volbloed-Herefords uitgekom het. Dit was ’n lang pad om te stap, maar dit was opwindend,” sê Heinz.
  • Vir Heinz en Almut is dit belangrik om net die beste genetika in hul stoet te kry en in 2014 het hulle begin met kunsmatige inseminasie (KI).

Die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) se Molatek/Veeplaas/Breedplan-stoetteler van die jaar-toekenning vir 2023, het aan twee Namibiërs, Heinz en Almut Gruhn, die eienaars van die Otongovi Hereford-stoet van die plaas Otongovi naby Windhoek gegaan. Die gesogte toekenning is tydens die 2023 LRF Veeskool aan Heinz oorhandig.

Die toekenning gaan gepaard met streng kriteria wat deur ’n onafhanklike paneel beoordeel word. Dit sluit onder meer algemene kuddebestuur, kuddevrugbaarheid, genetiese bestuur (‘n teelplan en die verkoop van genetiese materiaal) asook die teler se gemeenskapsdiens in.

Die beginjare

Heinz vertel dat hy eintlik ’n outo-elektrisiën is. Hy het destyds ’n vooruitstrewende besigheid in Windhoek gehad, toe sy skoonpa hom en sy vrou, Almut, in 1995 gevra het om die boerdery oor te neem. Almut het landbou studeer en was baie opgewonde om plaas toe te gaan, maar Heinz het nog gewik en weeg of hy sy besigheid wou laat vaar. Aanvanklik het hy probeer om die kers aan beide kante te brand en het net naweke uitgegaan plaas toe. Sy hart het egter al hoe meer na die boerdery se kant toe begin trek.

“My skoonouers het kommersieel met Afrikaner/Hereford-kruisings geboer. Ons het aanvanklik daarmee aangegaan, maar toe ons eers ons voete op die plaas vind, het ons besluit om ons eie bulle te begin teel – nie om te verkoop nie, maar net vir eie gebruik.” Dit was die begin van die Otongovi-stoet wat vandag met van die bekendste Hereford-telers in die wêreld kan meeding. Kopers van wyd en syd kom jaarliks om bulle by hulle te koop.

Lees meer oor die belangrikheid van goeie genetika in beeskuddes hier.

’n Eie bulkudde

“Ons het aanvanklik met die kruisdiere aangegaan en uit die kruiskoeie ons graderings gedoen. Ons het ’n geregistreerde Hereford-bul gebruik tot ons by volbloed-Herefords uitgekom het. Dit was ’n lang pad om te stap, maar dit was opwindend,” sê hy.

Volgens Heinz het die Hereford-ras eintlik lankal sy hart gesteel en hul raseienskappe het hom vinnig oortuig dat dit die regte diere vir die omgewing was.

“Omdat ons langs die Swart Nossobrivier boer waar die kwik in die winter tot -14°C daal, groei die diere se haarkleed om hulle warm te hou, maar in die snikhete somer van Namibië verhaar hulle weer vinnig tot ‘n gladder haarkleed. Op dié manier is die Hereford-ras uiters aanpasbaar in ons streek.”

Ander eienskappe van die ras wat hom aangetrek het, was die diere se goeie temperament, die gemak waarmee hulle hanteer kan word, hul vermoë om in die veld af te rond asook die koeie se goeie melkeienskappe en speen van hul kalwers. Boonop is die Hereford ’n baie vrugbare dier wat dit ekonomies die moeite werd maak om met dié ras te boer.

Die kommersiële kudde

Hulle het ’n kommersiële kudde wat uit Brahman/Hereford-kruisings bestaan. Die rede vir dié kruising is die Brahman se vinnige groei en vermoë om vleis aan te sit, terwyl die Hereford vir die regte temperament en baie goeie melkproduksie sorg. Dit alles is nodig om suksesvol op die veld te boer.

Heinz se uitgangspunt is dat hulle nie hul diere voer nie. Met hierdie kruising is daar nie probleme om gras in vleis om te sit nie.

Die Molatek/Veeplaas/Breedplan-stoetteler van die jaar-toekenning was vir hom en Almut ’n besonderse prestasie, maar dit was die kulminasie van ’n lang en moeisame pad wat hulle geduldig moes stap.

Hy glo een van die redes waarom hulle die toekenning verower het, was hul noukeurige rekordhouding. “Dit geld vir die hele stoet, van geboorte-aantekeninge waar die koei en kalf geweeg word, tot by die laaste inweeg op 600 dae.”

Lees meer oor die wenresep van goeie genetika en veeboerdery hier.

Kyk oor die grense

Omdat hulle albei baie doelgerigte en presiese mense is, het hulle ook besluit om weg te breek van die Suid-Afrikaanse Hereford-beestelersgenootskap en ’n Namibiese Hereford-klub te stig wat mettertyd ook ’n telersgenootskap geword het. Hulle het later ook by Breedplan aangesluit met die doel om hulself en hul stoet aan internasionale standaarde te meet.

“Hereford Namibië was die eerste Breedplan-ras wat ’n internasionale ontleding begin doen het, en ook die eerste ras wat enkelstap-ontledings doen. Met ander woorde, ons word met telers in die Suidelike Halfrond, Nieu-Seeland en Australië vergelyk. Dit is wat die stoet so uniek maak. Daar is verder ook ’n direkte koppeling met telers in die Verenigde State en Kanada vanwaar ons semen invoer. Prof Frikkie Neser sê ons stoet kan as ’n internasionale koppelkudde beskou word,” vertel hy.

Nog ’n stap nader

Vir Heinz en Almut is dit belangrik om net die beste genetika in hul stoet te kry en in 2014 het hulle begin met kunsmatige inseminasie (KI). Vir Almut was dit ’n groot uitdaging, maar sy het haarself daarin geskool en vandag kan hulle die beste genetika in die wêreld op die stoet gebruik.

“Ons kies bulle uit die Semex-katalogus en die agent voer die semen vir ons in. Op hierdie manier kan ons internasionaal-presterende bulle gebruik. Ons het ook al ’n stap of twee verder gevorder, omdat ons Senshub Allflex-nekbande vir die koeie gebruik. Hiermee kry ons op die selfoon sowel as op die rekenaar die boodskap wat aandui watter koeie op hitte is en wanneer hulle ge-KI kan word. Dit help ons om nog nader aan presisieboerdery te beweeg.”

Goeie genetika is vir Heinz en Almut die middelpunt van hul stoetery. Hulle glo die tyd om net met die oog te koop, is iets van die verlede. Daar is drie faktore waarna hulle kyk as hulle saad aanskaf. Dit is die syfers en teelwaardes van die bul self, asook dié van die vader van die bul sowel as die syfers van die moederlyn.

“Ons beskou hierdie syfers as ’n goeie hulpmiddel om saad aan te skaf. Daarom raai ons kopers aan om die plaas te besoek en self te kom kyk hoe ’n kruisdier lyk.”

Hulle glo die kommersiële koper is goed ingelig en kan nie maklik geflous word nie. In hulle ervaring wil die kommersiële vleisprodusent nie net na die bulle kom kyk en dan sy besluit neem nie. Hulle wil ook die syfers sien voor daar besluit word op ‘n bul.

“Ons ideaal is dat produsente keer op keer moet terugkom en weer bulle kom koop. Daarom moet ons gedurig op die uitkyk wees vir nuwe genetika. Een van ons lojale kopers het vanjaar sy vier-en-twintigste bul by ons gekoop – hy boer in die klipperige gebied van die Khomas Hochland.

“Ons glo the sky is the limit en dit is ook waarom ons by Breedplan aangesluit het. As stoetboer is daar eindelose teelmateriaal aan die ander kant van ons landgrense en dit is vir almal beskikbaar om die ras te verbeter,” sê Heinz. – Koos du Pisansie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Heinz of Almut Gruhn by +264 81 220 7106 of gruhnalmut@gmail.com.

Must Read

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se...