Só ry ‘n familieboerdery die voerkraaltrein

Estimated reading time: 7 minutes

  • Jan Boshoff van Jan Boshoff Boerdery sê hulle familieboerdery het die voerkraalbedryf betree en gaan nie dit verlaat nie.
  • Dit beteken egter nie dat die voerkraalbedryf ’n maklike een is nie en dit is ook nie ’n bedryf wat jy met klein getalle vinnig gaan laat groei nie. Jou ekonomie van skaal moet balanseer om winsgewend te wees en selfs dan moet jy weet dat die marges baie laag is.
  • Familielede wat by die boerdery betrokke is, werk almal in verskillende vertakkings.
  • Die leuse van die boerdery se beesvoerkraal is eenvoudig: Vir elke 2ha wat aangeplant is, wil hulle een bees teen ’n wins van R500 voer.
  • Die Boshoffs hou goeie verhoudings met drie abattoirs in stand en die diere sal geslag word by die abattoir wat op daardie stadium die meeste sin maak.

“As die trein op die stasie is, moet jy reeds daar wag. Jy kan nie dan by die stasie wil aankom nie.” Hierdie woorde van Jan Boshoff, patriarg van Jan Boshoff Boerdery, is die rede waarom dié Delmas-familieboerdery in Mpumalanga nie sporadies die voerkraalbedryf betree en weer verlaat nie.

Dit beteken egter nie dat die voerkraalbedryf ’n maklike een is nie en dit is ook nie ’n bedryf wat jy met klein getalle vinnig gaan laat groei nie. Jou ekonomie van skaal moet balanseer om winsgewend te wees en selfs dan moet jy weet dat die marges baie laag is. Só sê Chris Boshoff, Boshoff Boerdery se voerkraalaankoper.

Volgens Chris help die boerdery se diversiteit om risiko’s te verskans. Só sal hulle eerder chop inkoop en mielies verkoop as die prys reg is, of die mielies vir hul beeste voer as die prys swak is. “Ons sif wel enige mielies eers op die plaas, sodat ons nie gruis verloor nie. Op dié manier kry ons ’n beter gradering op ons mielies.” Verder hoef hulle ook nie sifkoste aan ’n silo te betaal nie.

Lees meer oor die splinternuwe voerkraal-ekspo hier.

’n Familie-waardeketting

Familielede wat by die boerdery betrokke is, werk almal in verskillende vertakkings. So is pa Jan en Chris oorhoofs verantwoordelik vir die voerkraal asook vir die besproeide en droëlandgesaaides, wat uit mielies, sojabone en droëbone bestaan. Jan se dogter, Ester Hertzog, is verantwoordelik vir die boerdery se finansies, terwyl haar man, Barry, die Bonsmara-stoet, Boshoff Bonsmaras, bestuur. Chris se vrou, Melanie, bestuur die beesvoerkraal en sy ma, Retha Boshoff, bedryf ’n kommersiële Vleismerino-kudde.

Die leuse van die boerdery se beesvoerkraal is eenvoudig: Vir elke 2ha wat aangeplant is, wil hulle een bees teen ’n wins van R500 voer. Chris sê om dié stewige ambisie te bereik, is twee dinge onontbeerlik: bedryfskennis en ’n betroubare ondersteuningsnetwerk.

Bedryfskennis sluit die dieptekennis van die totale voerkraalstelsel – van die inkoop van vee tot die verkoop aan die abattoir – in. Jy moet vertroud wees met alle wetlike vereistes vir jou spesifieke grootte voerkraal en daaraan voldoen.

En dan moet die somme ook klop. “Dis belangrik om jou pryse te ken en te sorg dat dit op datum is,” sê hy en voeg by dat weeklikse markverslae, soos Agricultural Market Trends (AMT), hier van groot waarde is. “Oor die algemeen móét jy jou mark ken.”

Buiten vir ekonomiese en bedryfskennis, is dit ook belangrik dat die voerkraal se aankoper(s) die nodige kundigheid oor diere se bouvorm het. “Jy moet ’n oog vir die dier hê,” sê Chris, wat self ’n junior Bonsmara-keurder is.

Kry goeie voerkraalwenke hier.

Koop reg vir jóú

Chris doen self die Boshoffs se voerkraalaankope en sê dat elke produsent moet uitwerk hoe die somme op sy/haar plaas klop. Winsgewendheid verskil van voerkraal tot voerkraal. “Kies die regte dier vir jóú kraal.” Die Boshoffs glo dat elke bees winsgewend gevoer kan word, maar hoe daardie dier gevoer word, sal verskil.

Chris woon weekliks veilings by om die regte diere vir hul voerkraal in te koop. Sowat 2 200 diere word jaarliks deur die Boshoffs se voerkrale slaggereed gemaak en die meerderheid word of by Standerton of by Ermelo se veilingskrale gekoop.

Een van die belangrikste goed om te onthou, is dat jy nooit vir die afslaer moet kwaad word nie. “Hy het een van die heel moeilikste werke. Hy moet twee partye (koper en verkoper) by dieselfde plek kry en niemand gee om hoe hy dit regkry nie. Daarom moet jy daarby berus dat die bod soms op jou en soms teen jou val,” sê Chris en onderstreep met sy woorde die noodsaaklikheid van boere-ordentlikheid en respek. “Beleefdheid en eerlikheid is ’n moet in hierdie bedryf. Jy kan nie jou naam koop nie.”

Aangesien integriteit vir die Boshoffs hoë punte tel, verkies hulle om diere by bekende veilingshuise se veilings te koop. “Dit is ’n sekuriteitsbuffer; daar sal nie sommer gesteelde diere by hulle veilings verkoop word nie.”

’n Voltydse werk

Nadat Chris nuwe diere aangekoop het, word hulle op ’n trok gelaai en na die Boshoffs se grond tussen Delmas en Leandra vervoer. Om aan die biosekuriteitsmaatreëls vir bek-en-klouseer te voldoen, word die diere eers vir 30 dae op ’n buurplaas in kwarantyn geplaas.

Melanie sê wanneer die diere afgelaai word, word hulle volgens gewig verdeel en ontvang elektroniese (EID) én visuele oorplaatjies. Die fisiese datum waarop die dier in die voerkraal aankom asook sy oorsprong, word op die oorplaatjies neergeskryf.

“Ons gebruik beide, vir ingeval een dalk verloor,” sê sy en voeg by dat die voerkraal se rekordstelsel redelik duur is. Daarom is dit stelselmatig in die boerdery ingebring. Een van die toestelle wat hul stelsel se koste opjaag, is die Tru-Test-skaal wat gebruik word om die diere te weeg. Die gebruik van hierdie elektronika verminder egter menslike foute en bespaar tyd en arbeid.

Wanneer die kwarantyntydperk afgehandel is, word die diere na afrondingskampe by die voerkraal geskuif. In die stadium mik Melanie se span vir gewigstoename van tussen 700g en 1,1kg/dag – niks meer nie. “Aanvanklik bou ons net raam en as die dier vinniger as 1,1kg per dag groei, gaan die raam nie behoorlik vorm voor jy vleis begin aansit nie,” verduidelik sy.

Nadat die diere eers op die veld afgerond is, word hulle na die voerkraal geskuif. Daar word hulle rantsoen aangepas om vinniger gewig aan te sit en sodra ’n dier slaggereed is, gaan hy abattoir toe.

Hou verhoudings slaggereed

Die Boshoffs hou goeie verhoudings met drie abattoirs in stand en die diere sal geslag word by die abattoir wat op daardie stadium die meeste sin maak.

“As ons minder beeste het wat geslag word, dan slag ons by nabygeleë, kleiner abattoirs. Wanneer meer diere slaggereed is, ry ons eerder verder na een van Sernick se abattoirs toe,” verduidelik sy. Vervoerkoste het hier die grootste invloed, omdat dit tussen die potensiële inkomste per bees verdeel moet word.

Die Boshoffs gebruik ook Sernick se veevoere in hul voerkrale. Een van die voordele om by ’n Sernick-abattoir te slag, is dat hulle dadelik gekontak word indien daar ’n probleem met die diere se uitslagpersentasie is.

Twee ander vennote waarsonder die Boshoffs se voerkraal nie kan funksioneer nie, is hul voerkraalveearts en insetverskaffers. “Ons rekening vir veemedisyne draai maandeliks by R100 000 en dié koste moet so goed as moontlik bestuur word,” sê sy. “Vir my is dienslewering vanaf my veearts en medisyneverskaffers van uiterste belang, want so bly ‘n mens op datum van die nuutste en beste produkte.”

Daarom glo die Boshoffs in vroeë diagnose. “Minstens een werker by die voerkraal moet oor goeie veemanskap-eienskappe beskik. So ’n mens kan baie vroeg sien as ’n dier onder druk verkeer.” Om vroeë opsporing te vergemaklik, poog die Boshoffs verder ook om die veearts minstens een keer in twee maande by die voerkraal te kry.

Nóg ’n belangrike stukkie raad is dat voerkraaleienaars hul plaas goed moet ken en moet weet wat die unieke gesondheidsuitdagings daar is. “Ons het spesifiek probleme met Asiatiese en Afrika-rooiwater. Daarom weet ek dat ek die diere vroegtydig daarvoor moet inent,” sê Melanie. – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, epos Melanie Boshoff by melanie@boshoffbonsmaras.co.za.

Must read

Agri Wes-Kaap stel Jongboer van die Jaar 2026-kandidate bekend

Estimated reading time: 4 minutes Agri Wes-Kaap het vandeesweek die kandidate vir sy 2026 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Die organisasie het...

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na die volgende: BGP2: Jaar 3 skop...