Estimated reading time: 2 minutes
Die Amerikaanse dollar het in Desember 2025 onder R17 teenoor die rand verswak. Die rand het met sowat R0,59 versterk en die wisselkoers het aan die einde van die maand op R16,56 gestaan.
Die rand het met sowat R0,41 teenoor die euro versterk en die maand op R19,48 vir een euro afgesluit. Die verbruikersprysinflasie vir November 2025 is op 3,5% bereken, teenoor 3,6% in Oktober. Die produsenteprysinflasie het onveranderd op 2,9% gebly, en die primarentekoers het op 10,25% gestaan.
Mieliepryse daal
Die prys van geelmielies het in Desember met sowat R173 gedaal; van R3 602/t aan die begin van die maand tot ongeveer R3 429/t aan die einde.
Beeskarkasprys daal, speenkalfprys styg
Beeskarkaspryse het gedurende Desember 2025 afwaartse tendens getoon. Die gemiddelde A2-karkasprys het met sowat R2,03/kg gedaal, van R73,12/kg tot R71,09/kg. Die gemiddelde B2-karkasprys het met R3,08/kg gedaal tot R63,52/kg, teenoor die vorige maand se R66,59/kg.
Die gemiddelde C2-karkasprys het met sowat R1,94 gedaal en op R62,71/kg geëindig. Die gemiddelde speenkalfprys het daarenteen met 48 sent gestyg tot R41,18/kg.
Skaapkarkaspryse styg vir tweede maand
Skaapkarkaspryse vir Klas A het vir die tweede agtereenvolgende maand gestyg. Die gemiddelde A2-prys het met R2,26/kg toegeneem en in Desember R111,26/kg bereik. Pryse het in 2025 beter gevaar as in die vorige twee jare (Figuur 1). B2-skaapkarkasse het van R83,32/kg in November met 64 sent tot R83,96/kg in Desember gestyg.
Die gemiddelde C2-skaapkarkasprys het met sowat 88 sent toegeneem tot R84,24/kg, terwyl die gemiddelde speenlamprys met ongeveer 5 sent gestyg het tot R50,73/kg.
Figuur 1: Klas A2-skaapkarkasprys van 2023 tot 2025.
Varkkarkaspryse styg steeds
Die gemiddelde prys van O-varkkarkasse het weereens gedurende Desember toegeneem, met ’n gemiddelde styging van R1,08/kg. Die maand het met ’n gemiddelde prys van R39,22/kg afgesluit. – Carli Jacobs en Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat