Monday, March 10, 2025
HomeMagazinesSit lewe in die doodmaakmaande

Sit lewe in die doodmaakmaande

Estimated reading time: 5 minutes

  • Optimale produksie en veral reproduksie is grootliks afhanklik van die kondisie waarin bulle en koeie tydens die dektyd is. Geslaagde voedingsbestuur deur die winter tot sowat drie weke ná die eerste reën, waartydens tekorte in beskikbare weidings kostedoeltreffend aangevul word, is die resep vir welslae.
  • Die ‘doodmaakmaande’ van Augustus is wanneer die veldgras droog en onsmaaklik is en baie min voedingswaarde het en duur sowat drie weke ná die eerste reën in.
  • Goedbeplande voedingsbestuur is nodig om hierdie uitdagings te oorkom en die bystand van voedingkundiges kan dan van groot waarde wees.
  • Dr Vlok Ferreira, nasionale tegniese bestuurder by RCL Foods se Molatek-handelsmerk, sê die oordeelkundige gebruik van lekaanvullings is uit ’n voedings- en ekonomiese oogpunt sinvol. Die geld wat daarin belê word, lewer dividende in die vorm van ’n hoër dragtigheidsyfer sowel as gesonder en swaarder kalwers teen speentyd.
  • Produsente kan hul volhoubare winsgewendheid ’n hupstoot gee deur ’n byvoedingsprogram te gebruik wat hul diere se gesondheid, produktiwiteit en reproduksie sal optimaliseer.

Optimale produksie en veral reproduksie is grootliks afhanklik van die kondisie waarin bulle en koeie tydens die dektyd is. Geslaagde voedingsbestuur deur die winter tot sowat drie weke ná die eerste reën, waartydens tekorte in beskikbare weidings kostedoeltreffend aangevul word, is die resep vir welslae.

In Suid-Afrika is die gewildste dektyd van begin Desember tot einde Februarie. Om by reënvalpatrone aan te pas, skuif produsente dit in sekere gebiede ’n maand vroeër of selfs ’n maand later. In sekere stelsels word ’n winterdektyd ook gebruik.

Dr Vlok Ferreira, nasionale tegniese bestuurder by RCL Foods se Molatek-handelsmerk, sê ongeag die stelsel wat ’n boer gebruik, is die kondisie van bulle en koeie met dektyd van deurslaggewende belang vir ’n goeie kalweroes. Dit is egter nie altyd maklik om dit in Suid-Afrika se uitdagende klimaatstoestande reg te kry nie.

‘n Moeilike tyd vir koei

Dit duur gemiddeld 284 dae vandat ’n koei dragtig geraak het totdat sy kalf. As sy in ’n somerdektyd op 1 Januarie dragtig raak, gaan sy waarskynlik op 12 Oktober kalf nadat haar vorige kalf in Mei of Junie (op ses tot sewe maande) gespeen is.

Teen speentyd was sy egter al ses tot sewe maande dragtig en moes sy vir haar suipende kalf sorg, terwyl die fetus intussen ook van haar energie begin tap het. Sy moes deur die vorige somer genoeg reserwes opbou om deur die winter te kom, sonder om te veel kondisie te verloor.

Dit sluit die ‘doodmaakmaande’ van Augustus, wanneer die veldgras droog en onsmaaklik is en baie min voedingswaarde het, tot sowat drie weke ná die eerste reën in. Die eerste gras wat begin uitloop, bestaan uit ’n groot persentasie vog met min volume, wat meebring dat die diere agter die groenigheid aanloop en dikwels heelwat gewig verloor.

Goedbeplande voedingsbestuur is nodig om hierdie uitdagings te oorkom en die bystand van voedingkundiges kan dan van groot waarde wees.

Lekaanvullings is sinvol

Dr Ferreira sê die oordeelkundige gebruik van lekaanvullings is uit ’n voedings- en ekonomiese oogpunt sinvol. Die geld wat daarin belê word, lewer dividende in die vorm van ’n hoër dragtigheidsyfer sowel as gesonder en swaarder kalwers teen speentyd. Dit kan die dragtigheidsyfer van verse verbeter deur hul ouderdom met eerste kalwing te verlaag, wat ekonomies voordelig is.

Dit is gewens dat koeie in die eerste 21 dae van dektyd dragtig raak. Vir elke siklus van 21 dae wat dit die koei langer neem om dragtig te raak, sal haar kalf met speen waarskynlik 15kg ligter weeg. Daarby het koeie wat vroeër dragtig raak ’n langer hersteltyd voor hulle weer gedek word en dragtig raak.

In die wintermaande is die verteerbaarheid en proteïen-inhoud van natuurlike weiding laag. Daarom is dit nodig dat ’n lekaanvulling só geformuleer is, dat dit die koei in staat stel om genoeg weiding te kan vreet om nie net in haar onderhoudsbehoeftes te voorsien nie, maar ook om haar kondisie te bou en te handhaaf. Voldoende fosfaataanvulling in die somer sal ook help om die dragtigheidsyfer te verhoog. Die koei se kondisietelling met dektyd behoort van 3 tot 3,5 en in ’n stygende tendens te wees.

Lees meer oor fasevoeding hier.

In die geval van bulle moet produsente, en veral stoettelers, hul bulkuddes se gesondheid en kondisie in die winter so onderhou dat hulle teen dektyd optimaal vrugbaar en lewenskragtig is. Die oogmerk moet wees om die bulle se kondisie deur die winter te onderhou of te verbeter. Teen dektyd behoort die bulle se kondisiepunt tussen 3 en 3,5 te wees. Bulle wat te vet is, se semenproduksie en -gehalte daal en hulle dek gewoonlik minder koeie as gevolg van ʼn gebrekkige libido.

Bulle se voedingsbehoeftes verskil van dier tot dier en dit kan nodig wees om bulle in eenvormige groepe volgens ouderdom en/of kondisie te verdeel, sodat hul voeding by hul besondere behoeftes kan aanpas. Speenkalwers het ’n heel ander voedingsbehoefte as volwasse bulle.

Jong bulle moet nog groei

Jong bulle het ’n aanvaarbare vlak van proteïen en energie nodig omdat hulle nog groei en genoeg voer moet kry om goeie groei, liggaamskondisie en liggaamstemperatuur tydens die koue wintermaande te handhaaf.

Ouer bulle moet dopgehou word om te verseker dat hulle nie in die aanloop tot dektyd hul liggaamskondisie verloor nie. Die vetbedekking moet voldoende wees, maar nie oordadig nie omdat dit tot vrugbaarheidsprobleme kan lei.

Om voedingsbestuur vir die kudde te verfyn, is dit noodsaaklik dat faktore soos ouderdom, gewig, produksiestadium, en die beskikbaarheid en gehalte van natuurlike hulpbronne op die plaas in ag geneem word. Die oogmerk van voedingsaanvulling moet wees om diere in staat te stel om hul volle genetiese potensiaal te verwesenlik.

Produsente kan hul volhoubare winsgewendheid ’n hupstoot gee deur ’n byvoedingsprogram te gebruik wat hul diere se gesondheid, produktiwiteit en reproduksie sal optimaliseer. ’n Voedingkundige kan baie help om dié uitdaging in ’n geleentheid te omskep, sê dr Ferreira. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Vlok Ferreira by 082 464 4661, of epos vlok.ferreira@rclfoods.com.

Jongste inligting help boere voor planttyd

Estimated reading time: 5 minutes Overberg Agri het onlangs sy jaarlikse voor-plant inligtingsdag by Rietpoel naby Caledon in die Suid-Kaap...

2025 Swellendam-skou: Skou tot voordeel van gemeenskap

Estimated reading time: 7 minutes Die 193ste Swellendam-skou, wat vanjaar van 27 Februarie tot 1 Maart gehou is, was ten...

2025 Riversdal-skou: Eg plattelands

Estimated reading time: 6 minutes Riversdal-skou met sy tema “Eg Plattelands” is vanjaar vir die 157ste keer gehou en het...

Katoen-verwysingsprys: Week van 3 tot 7 Maart

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde...

RSG Landbou: 10 Maart 2025 – geborg deur BKB

Die Nasionale Dohne Merino-veiling, wat op 1 Februarie in Bloemfontein aangebied is, kan met ‘n 100%-verkoopsyfer spog en volgens...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO....

Keep exploring...

Ekonomiese oorsig vir Maart: Landboumarkte wissel

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het ‘n goeie maand ervaar tydens Maart en het deurlopend teenoor die dollar versterk en ‘n redelike stabiele...

Quarterly pork industry report – Quarter 1 2024

Estimated reading time: 2 minutes The quarterly pork industry report provides insights into the pig industry over the past quarter, covering several contributors to the...