Estimated reading time: 7 minutes
Beeste in voerkrale presteer beter en hul uitslagpersentasie is hoër wanneer fasevoeding toegepas word. Fasevoeding is ’n voedingsbestuurstelsel waarin die voedingswaarde en roumateriale van die rantsoen stelselmatig aangepas word om optimaal aan die dier se voedingsbehoefte te voorsien binne die spesifieke fisiologiese stadium waarin die bees is.
Die voedingsvereistes van beeste wissel volgens die ouderdom, ras, geslag, liggaamskondisie, omgewing en fisiologiese status van die dier. Deur dít in gedagte te hou, kan bestuurstrategieë aangepas word om die rantsoene doeltreffend te benut en vleis maksimaal te produseer.
Afronding op die plaas
Dr Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder van Voermol Voere, sê ten spyte van die voordele van so ’n stelsel, moet die besluit om speenkalwers, ouer osse en koeie self op die plaas af te rond, nie ligtelik geneem word nie.

Talle produsente doen dit jaarliks om waarde tot hul diere op die plaas toe te voeg, maar soms word daar nie deeglik vooraf aan alles gedink nie. Die winsgewendheid van so ’n stelsel word grootliks bepaal deur die verhouding van die koopprys van die speenkalf of -lam tot die graan- en vleisprys, want die berekening van die bruto marge word daarop gebaseer. ’n Dier wat self geproduseer is, het natuurlik ook ’n waarde.
Francois sê daar is verskeie opsies om diere op die plaas af te rond. Dit kan op ’n eenvoudige manier gedoen word deur diere met minimale geriewe en toerusting in ’n kafeteriastelsel te voer. Dié stelsel hou die voordeel in dat min kapitaal nodig is, omdat duur geriewe nie geskep hoef te word nie. ’n Baie eenvoudiger rantsoen, wat steeds goeie resultate kan lewer, is ook hiervoor nodig.
In so ’n stelsel word die diere in kleiner kampies of krale gehou en kry hulle ’n konsentraat-graanmengsel met ruvoer wat apart beskikbaar is. Die voorsiening van skoon, vars water is baie belangrik.
In ’n groter voerkraal met menggeriewe, waar voerkonsentraat saam met graan en ruvoer in ’n totaal gemengde rantsoen (TGR) gemeng en gevoer word, is dit makliker om fasevoeding toe te pas, sodat die rantsoen in die voedingsbehoeftes van ’n dier in ’n spesifieke fisiologiese fase kan voorsien.
Volgens Francois wys navorsing dat deur fasevoeding toe te pas, die diere beter presteer en die uitslagpersentasie hoër is. Hy glo ’n aanvangsfase van minstens 14 dae, gevolg deur ’n groeifase van sowat 70 tot 80 dae, en dan ’n afrondingsfase van 30 dae, werk uitstekend. Indien ’n beta-agonis of medisinale voerbymiddel in die afrondingsrantsoen gebruik word, moet daar vir die voorgeskrewe onttrekkingstydperk voorsiening gemaak word.
Backgrounding van ligte kalwers
Die ouderdom en die gehalte van die dier wat in die voerkraal ingaan, is van uiterste belang in die besluit oor watter stelsel gevolg gaan word. As ligte kalwers van minder as 200 tot 220kg gevoer gaan word, is dit ekonomies voordelig om hulle eers op natuurlike weiding vir die voerkraal voor te berei. In die volksmond staan dit as backgrounding bekend.

In dié tyd kry die diere ’n rantsoen met ’n relatiewe hoë natuurlike proteïeninhoud op goeie veldweiding. Die diere se groeitempo sal weliswaar laer wees as die tipiese 1,6kg per dag in die voerkraal, maar dit gee die diere die geleentheid om goed te ontwikkel en ’n stewige raam te bou.
Ná afloop van dié fase word die diere dan in die voerkraal aangepas, waar hulle deur verskillende fases van voeding gaan.
Aanpassing van die rantsoen
Die onderskeie fases – van die aanvangstydperk deur die groeistadium totdat die diere afgerond word – vereis dat die rantsoen voortdurend aangepas word om so goed as moontlik aan die diere se voedingsbehoeftes om te kan groei, voldoen.
Normaalweg word die verandering aan die rantsoen gedoen deur die hoeveelheid en vorm van die vesel, energie, proteïen en minerale aan te pas soos wat die diere deur die onderskeie fases vorder. ’n Gewilde opsie is om die fases af te sluit deur ’n beta-agonis soos Zilmol (reg. nr. V16978), in die afrondingsfase te gebruik, sê Francois.
Om speenkalwers geslaagd af te rond, moet ’n produsent aan verskeie aspekte aandag gee. Om die kalf te voer totdat die dier slaggereed is, vereis sowat 1,2 ton voer. Die voer bestaan normaalweg uit sowat 70% graan en/of mieliesemels (hominy chop). Die ander 30% bestaan uit afrondingskonsentraat, ’n hoë proteïenkonsentraat of oliekoek, en ruvoer wat hooi, strooi of kuilvoer kan wees.
Bepalende winsfaktore
Omdat graan (mielies of neweprodukte van die graanbedryf) so ’n groot deel van die rantsoen uitmaak, gaan die mielieprys, en meer spesifiek die verhouding tussen die mielie- en vleisprys, tot ’n groot mate die winsgewendheid van afronding bepaal. Net soos met die speenkalfprys, moet produsente onthou dat deur graan te gebruik wat hulle self produseer, dit soveel kos as wat hulle sou kry as die graan bemark is.
Die berekening van die bruto marge is uiters belangrik, aangesien dit die potensiële wins of verlies bo die voerkraalkoste aandui. Dit moet faktore in ag neem soos die begin- en bemarkbare massa van die dier, die speenkalfprys, die vleisprys, voerkoste, voerverbruik en -doeltreffendheid, verwerking en mortaliteite.
Die grootste enkele inset is die koopprys of waarde van die speenkalf. Eie aanteel se waarde moet bepaal word en streng teen die markwaarde van die speenkalf opgeweeg word. Die waarde van die speenkalf in rand per kilogram word bepaal deur die gewig en die gehalte van die kalf, met ’n premie wat aan diere van goeie gehalte gekoppel kan word.
Lees hier van voeding in die skaapbedryf.
Wenke vir ’n goeie speenkalf
’n Goed ontwikkelde speenkalf se vermoë om voer meer doeltreffend in vleis om te sit, is gewoonlik beter as kalwers wat nie so goed ontwikkel het nie. ’n Ideale speenkalf weeg tussen 220 tot 280kg.
Die doeltreffendheid waarmee voer benut word om vleis aan die karkas te pak, is baie belangrik. Doeltreffende voerbenutting word deur verskeie faktore bepaal, soos die genetiese vermoë van die kalf om dit te verwesentlik, die energie-inhoud van die rantsoen, die begin- en eindgewig van die dier, die gehalte van die geriewe, voerbakbestuur, die gebruik van oorimplantate en ander groeibevorderaars, ensovoorts.
Die gemiddelde gewigstoename van die dier moet saam met die voerdoeltreffendheid van die dier gemonitor word.
Skoon, koel drinkwater moet altyd beskikbaar wees. ’n Speenkalf drink normaalweg sowat 50ℓ water per dag. As die dier te min drink, sal dit ’n negatiewe invloed op die voerinname hê. Diere se waterbehoeftes sal op warm dae aansienlik styg.
NPN-bronne as veevoer vir herkouers
Die eindgewig van diere in ’n voerkraal behoort gemiddeld 440kg te wees om teen ’n uitslagpersentasie van 58 tot 60%, ’n karkas van sowat 250kg te lewer. ’n Goeie speenkalf behoort dié gewig ná ongeveer 120 tot 130 dae in die voerkraal te bereik. As ’n produsent ’n swaarder karkas wil produseer, is dit raadsaam om Zilmol in die afrondingsfase te gebruik om te verhoed dat die diere te veel vet aansit.
Kalwers moet ook die nodige inentings, doserings en behandelings kry volgens die veearts se aanbeveling. Daarna moet die kalwers optimaal gevoer en bestuur word om mortaliteite tot die minimum te beperk. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Francois van de Vyver
by 083 419 4562 of epos francois.vandevyver@tongaat.com.







