Wanneer seleksie met ’n duidelike geformuleerde teeldoelwit – gegrond op objektiewe meting en teelwaardes vir ekonomies belangrike eienskappe – gedoen word, ontstaan die vraag: Is dit “papierbeeste” of die werklikheid?

Opgeleide en geregistreerde veekundiges wat in teling en genetika spesialiseer, word deeglik opgelei in die werking en biologie van gene, hoe hulle werking die anatomie en fisiologie kan beïnvloed, en natuurlik ook die produksie en funksionaliteit van teeldiere en hul nageslag. Meestal word veekundiges wat in genetika en teling geskool is ook opgelei in die estetiese of voorkoms, veral waar dit die funksie van teeldiere raak.

Teelwaardes neem alle bekende inligting in ag, naamlik die meting (gewig of objektiewe waarneming) van elke dier en dit wat hulle geneties bind (alle verwantskappe). Teelplanne neem alle eienskappe in ag en die mees gesogte teeldiere word bepaal deur deeglike verwerkings op die rekenaar.

Voorkoms teenoor funksionaliteit

Wanneer diere op grond van hul genetiese meriete as seleksiekandidate aangebied word, verwys sommiges in die bedryf na “papierdiere”. Dit is waarskynlik bloot omdat die magiese waarde om diere op grond van hul voorkoms te kies en só te koppel aan hul werklike genetiese meriete nou iets van die verlede is.

Diere met dieselfde genetiese meriete wat winsgewende nageslag teel, verskil dikwels in voorkoms. Hoe hulle lyk, is egter tog ’n aanduiding van hul funksionaliteit.

Alle genetiese meriete word geskoei op werklike metings en prestasie, nie andersom nie. Met ander woorde, die werklike gewig, meting, objektiewe waarneming of beskrywing binne groepe waar elke dier ’n gelyke kans gegun word om sy staal te wys, sê duidelik of hy beter of swakker, korter of langer, groter of kleiner, en meer of minder winsgewend is as ander wat ook hierdie gelyke kans gehad het.

Verskillende teelwaardes

Dit is dus werklike beeste met werklike metings wat saak maak vir kommersiële kopers wat ’n lewe wil maak met hul beeste en duidelik wil onderskei tussen teeldiere wat dit kan bewerkstellig of nie. Indien dit werk, is daar ’n verskil in die prestasie van die nageslag van ’n bul met hoë teelwaardes in vergelyking met ’n ander een met laer teelwaardes?

As voorbeeld is twee bulle met verskillende teelwaardes vir speengewig en melk (maternaal speen) se nageslag met mekaar vergelyk. Albei is in 2009 gebore, met ander woorde hul dogters het reeds kalwers gespeen.

Figuur 1: 

Grafiese voorstelling van die twee bulle se teelwaardes (soos op www.SABeefBulls.com).

Die logiese stap is nou om te kyk of die “papierwaardes” die werklikheid weerspieël. Elkeen het nageslag verwek met speengewigte wat gemeet is saam met die kalwers van ander bulle. Verder is daar ook dogters wat as teelkoeie geselekteer is en op hul beurt weer kalwers gespeen het en geweeg is saam met die kalwers van ander bulle se dogters.

Bul 1

Bul 1 se speengewig was 212kg in ’n speengroep van 203 speenkalwers met ’n gemiddelde speengewig van 221,5kg. Hy was dus 9,5kg ligter – nie op papier nie, op die skaal. Hy produseer 71 bulkalwers en 52 verskalwers wat in 24 speengroepe geweeg word. Die totale aantal kalwers in die groepe waarmee vergelyk is, is 925.

Die bul se nageslag weeg gemiddeld 10kg ligter as hul tydgenote (gemiddelde ouderdom van eie kalwers se moeders is 70 maande, teenoor die gemiddelde 66 maande van die ander bulle se kalwers se moeders).

Ten tye van die ontleding het sy dogters reeds 18 kalwers gespeen (dus kleinkinders uit sy dogters), waarvoor speengewigte in agt speengroepe aangeteken is. ’n Totaal van 592 kalwers is gespeen (en geweeg) in die agt speengroepe. Die dogters van ander bulle wat hul kalwers gesoog het, word dus prakties direk met die dogters van bul 1 vergelyk.

Gemiddeld weeg bul 1 se dogters se kalwers 21kg ligter (gemiddelde speengewig van 182kg) as die kalwers van dogters van ander bulle (gemiddeld 199kg). Weliswaar is die dogters van die bul slegs 23 maande oud, teenoor die ander kalwers se gemiddelde moeder-ouderdom van 54 maande.

Bul 2

Bul 2 se eie speengewig was 170kg in ’n speengroep van 38 speenkalwers met ’n groepgemiddelde speengewig van 149kg. Hy weeg dus 21kg meer as sy groep se gemiddeld. Sy ma was 61 maande oud en die gemiddelde koei-ouderdom van die ander kalwers se moeders was 67 maande. Net soos bul 1, het hy oor ’n skaal geloop en is hy werklik geweeg en is nie bloot ’n papierinskrywing nie.

Bul 2 is die vader van 31 nageslag (ten tye van die ondersoek) met speengewigte in ses speengroepe van 209 speenkalwers. Sy nageslag weeg gemiddeld 6kg swaarder as die nageslag van ander bulle se kalwers (moeder-ouderdom 80 maande teenoor ander kalwers se moeder-ouderdom van 70 maande).

Ten tye van die ondersoek produseer sy dogters 13 speenkalwers, wat in ses speengroepe met ’n totaal van 382 speenkalwers geweeg word. Sy dogters is gemiddeld 35 maande oud teenoor die ander koeie se ouderdom van 60 maande, maar sy kleinkinders weeg gemiddeld 4kg swaarder as die kalwers van dogters van ander bulle.

Verskil in opbrengs

Op grond van die gemete verskille tussen die nageslag van die bulle en die nageslag van ander bulle wat op presies dieselfde plaas en speengroepe aan presies dieselfde toestande blootgestel is, bereken teen die huidige speenkalfprys van naastenby R34/kg, is die verskil in opbrengs tussen die bulle op grond van hul speenkalwers se gewig en hul dogters se speenkalwers se gewig bereken.

Tabel 1: Verskil in opbrengs tussen die twee bulle.

 Nageslag bul 1:

 

Verlies aan inkomste per kalf in vergelyking met ander speenkalwers se gemiddeld

Nageslag bul 2:

 

Ekstra inkomste in vergelyking met ander speenkalwers se gemiddeld

Eie kalwers– R340 per kalf+ R204 per kalf
Kalwers van dogters– R714 per kalf+ R136 per kalf

Die werklike verskil aan produksie per speenkalf vir direkte nageslag van bul 1 en bul 2, in vergelyking met hulle tydgenote, is dus R544 per kalf. Die verskil van die twee bulle se verse se kalwers is R850 per kalf.

Albei bulle is as kuddevaars gebruik, en het dus die toetse op grond van voorkoms en funksionele bouvorm geslaag. Blote visuele voorkoms kon egter nie verhoed dat die verkeerde keuse gemaak word oor die winsgewendheid van die nageslag van so ’n kuddebul nie.

Wetenskaplike onderbou en korrekte gebruik van teelwaardes, gegrond op werklike metings, gee aanleiding tot die werklikheid om wins tussen twee moontlike seleksiekandidate duidelik te omskryf en dit moontlik te maak vir kopers om wins te verseker. Dit is nie net op papier nie, maar die werklikheid.

’n “Papierbrug”

’n Nuwe pad word gebou en dit is nodig om ’n kloof oor te steek deur ’n nuwe brug te bou. Die wetenskaplike siviele ingenieur kry al sy apparate bymekaar. Hy meet die afstand noukeurig wat met die nuwe brug oorbrug moet word.

Hy kry al die besonderhede van die grondstowwe, hul eienskappe, breekkrag, maksimum en minimum houvermoë, en inligting oor hoe die samevoeging tot die funksionaliteit en leeftyd van die beplande brug sal bydra. Sy berekenings sluit natuurlik koste in, dit bepaal risiko en bou ekstra waarborge in, en hy het selfs sketse van hoe die brug sal lyk en esteties sal inpas by die omgewing. Sy volledige verslag is op papier.

Padbouers wat al lank in die land is, staan ook langs die kloof en vat die maklike uitweg deur die afstand te skat. Op grond van hul skatting beveel hulle aan wat die sterkte en die bewapening van die beton moet wees, asook die dikte van die ondersteunende pilare en die ankerkabels. Die ontwerp sal vir ’n baie mooi brug sorg.

Ek ry eerder oor die “papierbrug”, want ek weet die ontwerp is gegrond op wetenskaplike beginsels, goed nagevors en voldoen aan alle internasionale standaarde vir veiligheid en funksionaliteit. Natuurlik moet die voorkoms die brug se funksie wys, want dan voel dit nog veiliger om oor die kloof te ry.

Vir meer inligting, kontak dr Japie van der Westhuizen by 082 331 9923 of japie@studbook.co.za. – Dr Japie van der Westhuizen , SA Stamboek