Tuesday, December 16, 2025

Nasionale RPO bepleit produsente se saak by BEK-indaba

Estimated reading time: 4 minutes

Die land se eerste bek-en-klouseer (BEK)-indaba is van 21 tot 22 Julie by die Landbounavorsingsraad se LNR-VIMP-kampus in Roodeplaat gehou. Dr Frikkie Maré van die Rooivleisprodusente-organisasie (Nasionale RPO) het tydens sy spreekbeurt uitdagings aan rooivleisprodusentekant bespreek en ’n paar belangrike punte vanuit ‘n produsenteperspektief benadruk.

Marktoegang

Hy het daarop gewys dat diere nie weens BEK vrek nie, maar dat dit eerder ‘n enorme ekonomiese impak het. Dit sny produsente se kele ekonomies af en markte gaan as gevolg van die siekte verlore.

“Ons moet twee belangrike aspekte onthou,” het hy gesê. “In baie gevalle is produsente se inkomste tot een of twee geleenthede per jaar beperk. En voorts verskil die totale bruto winsmarge van jaar tot jaar. Dit beteken dat die tydsberekening wanneer ’n produsent se diere onder kwarantyn geplaas word, baie belangrik is.”

Wanneer produsente se kuddes of plaas onder kwarantyn geplaas word voor speentyd, verloor hulle basies hul inkomste vir die jaar. Dit is juis wat in KwaZulu-Natal gebeur het toe die siektebeheerarea net voor speentyd uitgebrei is om ‘n groter gebied in te sluit. “Daardie produsente sit steeds met hul speenkalwers en sonder ’n inkomste, terwyl hulle voor die hof gedaag word as gevolg van uitstaande rekeninge wat nie betaal kan word nie.”

Marktoestande was boonop die afgelope twee jaar baie moeilik vir veeprodusente, wat beteken dat hulle min tot geen reserwes het om op terug te val nie en hulle geen inkomste genereer nie. “Die feit van die saak is,” het hy benadruk, “dat baie produsente wat tans onder kwarantyn is, nie hierdie krisis finansieel gaan oorleef nie.”

Regulasies

Hy het ook verwys na aannames uit talle oorde dat BEK versprei word deur produsente wat onverantwoordelik optree en nie die regulasies navolg nie. “Ons kan dit nie ontken nie, maar dit is ’n feit dat ander partye in die waardeketting ook onverantwoordelik optree, en dit sluit regeringsinstansies in. Hulle moet ook die blaam dra vir die situasie.”

Alhoewel baie rolspelers wel die regulasies noukeurig nakom, is daar ander wat doodeenvoudig net nie omgee nie en met hierdie verontagsaming van die reëls wegkom. Dipepeneneng Serage, die adjunk direkteur-generaal van landbouproduksie, biosekuriteit en natuurlike hulpbronbestuur, het tydens ’n vorige vergadering gesê wette bestaan om gevolg te word, nie om afgedwing te word nie. “Alhoewel dit sekerlik die ideale situasie sal wees, werk dit nie altyd in Suid-Afrika nie. As ons nie kan verseker dat die regulasies deur alle rolspelers in die waardeketting gevolg word nie, is die regulasies mos dan tevergeefs.”

Provinsiale operasionele sentrums

Die situasie wat die onderskeie provinsies betref, is ongelukkig baie verskillend. In sekere provinsies is daar goeie verhoudings tussen die bedryf en regering, terwyl dit in ander provinsies glad nie bestaan nie.

Dr Maré het gesê die Nasionale RPO ontvang verslae dat sommige rolspelers slegs die eerste vergadering bywoon, terwyl verkeersbeamptes of Suid-Afrikaanse Polisiedienslede nie eens weet wat die situasie behels en wat hulle te doen staan wanneer ’n voertuig met lewendehawe gestop word, of watter dokumentasie die diere moet vergesel nie.

Omheiningswet en rondloperdiere

Hoewel die Omheiningswet, 1963 (Wet 31 van 1963) bepaal dat grond, hetsy in besit of gehuur, omhein moet word indien vee daar aangehou gaan word, word hierdie wet nie wet nie toegepas nie. Die beweging van rondloper- en ongeïdentifiseerde diere is ’n groot bron van kommer wat aangespreek moet word.

“Dit maak nie saak hoe goed jou biosekuriteit is nie, as rondloperdiere al langs jou grensheining wei of hierdie ongeïdentifiseerde diere meng met jou kuddes, is al die reëls, regulasies, en naspeurstelsels wat bestaan tevergeefs.”

Wat wil ons hê?

Kommersiële produsente, het hy afgesluit, leef letterlik in vrees, aangesien baie van hulle besef dat hul boerderydae getel is indien hulle op grond van die huidige maatreëls onder kwarantyn geplaas sou word.

Die Nasionale RPO spreek die hoop uit dat die volgende probleme deur die Indaba aangespreek en opgelos sal word:

  • Voortgesette marktoegang vir alle rolspelers, wat moontlik gemaak sal word deur gekompartementaliseerde inenting.
  • Regulasies wat nie net weldeurdag is nie, maar prakties implementeerbaar is en deur alle rolspelers ooreengekom en toegepas word.
  • ’n Nasionale bloudruk wat deur alle provinsies gevolg kan word en op grond waarvan opleiding vir alle betrokkenes gedoen kan word oor die hantering van ’n BEK-uitbreking te hanteer. Sodoende kan die verskille wat tussen provinsies bestaan uitgewis word en kan wetstoepassing betrek word.
  • Laastens moet alle rolspelers, groot of klein, primêr of sekondêr, regering of bedryf, deurgaans dieselfde behandel word.

Insette en dokumentasie wat ten tyde van die BEK-indaba voorgelê is, is nou in die regering se hande en die verwagting is dat verdere samesprekings sal volg om ‘n plan op die tafel te sit. Geen tydlyne was teen druktyd nog hiervoor bekend nie. – Dr Frikkie Maré, Rooivleisprodusente-organisasie

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan dr Frikkie Maré by frikkie@rpo.co.za

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic)...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...