Estimated reading time: 4 minutes
Die Riversdal-skou, met sy 2024-tema ‘Eg plattelands’, is een van die bestendigste skoue in die Wes-Kaap en het vanjaar sy 155ste skou gehou. Pieter van Wyk, die skouvoorsitter, sê ondanks die reënerige weer gedurende die skou, het die gemeenskap die skou goed ondersteun. Al die afdelings van die skou het goed afgeloop.
Die skou het van 14 tot 18 Februarie plaasgevind en het vanjaar gespog met ‘n sterk vleisbeesafdeling. Meer as tien vleisbeesrasse het deelgeneem. Martin Seyffert, die beesafdeling se hoofbeoordelaar, het tydens die skou opgemerk dat die gehalte van die beeste merkwaardig was, ten spyte van ‘n kleiner aantal inskrywings per ras. Daar was veral sterk kompetisie tydens die interraskampioenskap.
Ander afdelings wat elke jaar goed ondersteun word, is die perdekampioenskap, die Suid-Kaap Merino-streekskampioenskap, die Wes-Kaap Boerbokklub-kampioenskap, die Wes-Kaap Kalahari Red-kampioenskap, die pluimveekampioenskap en ‘n Boerboelskou.
Lees meer oor die onlangse Griekwastad-skou hier.
Boerbokke sorg vir sterk mededinging
Altesaam 13 Boerbok- en twee Kalahari Red-telers het vanjaar met 258 bokke aan die Wes-Kaap Boerbok-klubkampioenskap en die Wes-Kaap Kalahari Red-kampioenskap deelgeneem. Joubert van der Merwe en Charles Willemse, die beoordelaars, het tydens die skou gesê Boerbokke is nou goed in die Suid-Kaap gevestig en dié gebied spog met topgehalte Boerbokke.
Mededinging tussen die telers was veral in die Boerbok-afdeling baie sterk. Die teler wat die beste gevaar het, was Andries Vollgraaff van die Tekoa Boerbokstoet in Ceres. Hy het die meeste punte op die skou behaal en is ook as die teler van kampioene aangewys.
Volgens Johan Cronjé, voorsitter van die skou se pluimvee-afdeling, het die pluimveeskou vanjaar 308 inskrywings gelok. Groot- en kleinras hoenders, kalkoene en verskillende soorte eende is ingeskryf. Daar is ook met eiers geskou.
Spoedskeerkompetisie weereens gewild
Van Wyk sê die spoedskeerkompetisie wat elke jaar tydens die skou saam met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se Skaapskeer- en Wolhanteringskompetisie aangebied word, is baie gewild en lok elke jaar baie toeskouers.
Altesaam 22 skeerders het vanjaar aan die spoedskeerkompetisie deelgeneem. Die skeerders het in die eerste rondte in 11 spanne van twee skeerders elk teen mekaar meegeding. Die 12 vinnigste skeerders het daarna in ses spanne van twee skeerders elk teen mekaar meegeding, en daarna het die vinnigste ses skeerders kans gekry om elkeen op sy eie ‘n skaap te skeer.
Die vinnigste vier het in die halfeindrondte in twee spanne van twee skeerders elk teen mekaar te staan gekom, waarna die twee vinnigste skeerders aan die eindrondte deelgeneem het. Die wenner van 2024 se spoedskeerkompetisie op Riversdal-skou is Klein John Khatne. Hy het prysgeld van R7 000 ontvang.
Sterk fokus op die jeug
Van Wyk sê die skou fokus elke jaar sterk op die jeug. Gedurende die tweede dag van die skou is verskeie programme vir die jeug aangebied, insluitend ‘n jeugskou waaraan 189 leerders vanjaar deelgeneem het. Leerders kon aan die volgende klasse deelneem: suiwel- en vleisbeeste, vleis-, melk- en veselbokke, wol- en vleisskape, pluimvee, konyne en perde, sowel as kulinêre kuns en suiwelbereiding. Die dag is afgesluit met ‘n massa-atletiekbyeenkoms waaraan verskeie skole in die omgewing deelgeneem het. – Hugo Lochner, Plaas Media



