Friday, December 13, 2024

Rambestuur en winsgewendheid (Deel 5): Ramkoop: Só vermy jy ’n kat in die sak

Estimated reading time: 6 minutes

  • Produsente doen oor die algemeen baie moeite om ramme te selekteer wat sal bydra tot die verbetering van hul ooitroppe.
  • Indien daar probleme met ’n ram sou ontstaan, kan aantekeninge baie handig wees.
  • Ramme ervaar dikwels spanning tydens veilings en die aanpassing tot nuwe omstandighede en voeding.
  • Moenie huiwer om die ramme se testes te ondersoek en te meet nie.
  • Dit is altyd ’n goeie idee om aan ’n veldramklub te behoort en ’n ramteler vanuit die klub te kies.

In hierdie voorlaaste aflewering van ons reeks oor rambestuur en winsgewendheid, kyk ons na goeie bestuurspraktyke wat betaal by die aankoop van nuwe ramme.

Lees rambestuur se deel 1 hier.

Produsente doen oor die algemeen baie moeite om ramme te selekteer wat sal bydra tot die verbetering van hul ooitroppe. Ongelukkig laat die kopers van ramme soms een van die belangrikste fasette buite rekening, naamlik die feit dat ’n ram in sy geheel bloot die eindproduk mag wees van ’n ramteler se voedingsregime. Hierdie spreekwoordelike blindekol maak dat ’n koper nie altyd vooraf kan bepaal of ’n ram wel oor die nodige eienskappe beskik wat tot sy kudde se verbetering sal bydra nie.

Die enigste manier om slaggate soos dié te vermy, is om jouself daarvan te vergewis dat die teler by wie jy ramme koop, altyd ’n paar treë voor sy kopers is in terme van die vordering van sy kudde – met minder klem op die voedingsaspek.

Ramnommers en kaartstelsels

Baie kuddeprodusente steur hulle weinig aan ramme se nommers, terwyl ander die ram se oorplaatjie summier verwyder sodra dit op die plaas aankom. Oorweeg eerder om ’n kaartstelsel vir jou ramme te begin. Dit is ’n uitstekende bestuurspraktyk waarmee inligting soos die datum van aankoop, besonderhede van die teler, ’n beskrywing van die ram, die aankoopprys, siektes, inentings, voeding ensovoorts aangeteken word.

Indien daar probleme met ’n ram sou ontstaan, kan aantekeninge baie handig wees. Dit is byvoorbeeld raadsaam om die nommer en ander inligting beskikbaar te hê van ’n ram wat gedurende sy latere lewe probleme ontwikkel wat aan teling toegeskryf kan word, en dit met die teler uit te klaar. Dit is ook handig om ’n kaartstelsel in plek te hê vir potensiële kopers van jou eie ramme.

’n Belangrike punt is om voor die voet die nodige entstowwe vir die nuwe ramme toe te dien sodra hulle op die plaas aankom. Wees veral versigtig vir bloutong. Vra ook die vrugbaarheidsertifikate van die ramme aan. Telers sê dikwels die kopers soek dit nie, en kopers sê die telers het dit nie beskikbaar nie. In so ’n geval, laat liewer die ramme weer toets as om oor hul vrugbaarheid te twyfel.

Lees rambestuur se deel 2 hier.

Voedingsaspekte

Ramme ervaar dikwels spanning tydens veilings en die aanpassing tot nuwe omstandighede en voeding. Dit kan lei tot veranderinge in hul saadproduksie, ’n ring op die kloue, veranderinge van die wolkleur en kartel, en selfs ook versteurings in hul grootpense, byvoorbeeld suurpens. Ek sien dikwels ’n maand na die veiling ramme wat kondisie verloor het, waar die testes pap geword het en saadgehalte afgeneem het.

Vra die ramteler uit oor die ram se voer. Indien die mengsel nie geredelik nagemaak of aangekoop kan word nie, koop genoeg kos by die teler om die ram geleidelik na jou eie voerprogram oor te skakel. Dit is ’n goeie bestuurspraktyk om die verandering in voer geleidelik oor ’n tydperk van tien tot 14 dae te laat plaasvind. Dit kan ook ’n groot skok vir ’n ram wees om hom af te skeer en in die veld te sit sonder byvoeding, indien hy gewoond is aan ’n hoë voedingspeil.

Lees rambestuur se deel 3 hier.

Testesmassa en skrotumomvang

Daar is ’n eksponensiële verhouding tussen testesmassa en skrotumomvang: 28cm = 250gm; 34cm = 500g; 40cm = 1 000g. Voeding speel ’n groot rol in die bepaling van die skrotale omvang. Dit is dus beter om ’n indeks by groepe jong ramme onder oë te kry, as om na die werklike mates te kyk.

Indien inligting nie in die vorm van ’n indeks beskikbaar is tydens die aankoop van ramme nie, kan die volgende maatstawwe help:

  • Enige ram met ’n skrotumomvang van onder 28cm is waarskynlik onvrugbaar, behalwe as hy pas tussen die ooie was.
  • Moenie ’n tweetandram met ’n skrotumomvang van onder 34cm koop nie.
  • Indien beskikbaar, koop ramme met ’n skrotumomvang van tussen 35 en 40cm.

Moenie huiwer om die ramme se testes te ondersoek en te meet nie – dit is immers waarvoor jy betaal. Die omvang kan maklik met ’n kleremaatband gemeet word. Druk die testes af in die sak en meet die omvang op die breedste punt. Die res van die ram is eintlik net daar om die testes te ondersteun en vir jou ’n idee te gee van die tipe gene wat sy sperme aan die eiersel gaan oordra.

Die stelling, “as die ram se testes te groot is, hang hulle op die grond,” is nie waar nie. Testes hang op die grond as ’n ram se stringe weens genetiese faktore te lank is. Die ramme met die grootste testes in my rekords, wat oor 15 jaar strek, het kort stringe gehad. Die meeste ramme met té lang stringe, se testes was ondergemiddeld en het swak saad produseer.

Lees rambestuur se deel 4 hier.

Die nut van veldramklubs

Dit is altyd ’n goeie idee om aan ’n veldramklub te behoort en ’n ramteler vanuit die klub te kies. Dit is waar jy kan evalueer wie se skape gehard is en op die veld regkom sonder om uitmekaar te val.

Enkele waarskuwings:

  • Let daarop dat ramme wat vir veilings ingeskryf word, binne twee maande van mekaar gebore moet wees. Ek het eenmaal ’n veilingskatalogus van veldramme gesien waar al die ramme wat ná die toets as stoetramme geklassifiseer was, minstens ses maande ouer as die ander was. Hulle het ook die laagste gemiddelde daaglikse toename gehad, aangesien hulle al uitgegroei was.
  • Langwerkende groeistimulante kan ingeplant word net voor die ram na die veldramtoets gaan, en dit sal vir ses of sewe maande werk. Sulke ramme het dikwels pap testes en selfs melk in hulle spene.
  • Die ramme kom van wyd en syd bymekaar en siektes soos peestersiekte, bybalontsteking (brusellose), Johne se siekte en jaagsiekte kan na jou plaas oorgedra word, asook parasiete soos knoppieswurm en dies meer.

Hou in gedagte dat, alhoewel veldramklubs die beste plek is om telers te vergelyk en te kies, die ramme dalk nie behoorlik vir die paarseisoen voorberei is nie. Indien die veldramklub nie die ramme ekstra voer gee in die na-toetsfase nie, moet ’n ram minstens twee maande kans kry vir aanpassing en voorbereiding voor gebruik.

“Ek was so opgewonde oor my nuwe stoetram dat ek hom sommer langs die pad tussen die ooie afgelaai het,” is iets wat ’n mens nié wil hoor nie. Ramme behoort ses weke geleentheid te kry om by hul nuwe omstandighede aan te pas.

Goeie naverkopediens

’n Goeie teler sal altyd kontak maak met sy kliënte om uit te vind of hulle tevrede is, en of hulle weet watter inentings en doserings gedoen is en wanneer om die ramme weer te behandel. Die teler sal ’n ram kosteloos omruil as daar fout is. Indien ’n koper onraad vermoed, moet die teler dadelik gekontak word om die moontlikheid te bespreek dat die ram omgeruil sal moet word, selfs al gebeur dit eers ses maande later.

Lees deel 6 hier.

In die laaste aflewering van hierdie reeks in die volgende uitgawe, kyk ons na selfteling van ramme, al dan nie, asook enkele interessante punte rondom kunsmatige inseminasie. – Dr Johan van Rooyen, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 082 463 3087 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.

Must read

Hoogte- en laagtepunte – dié week op Plaas TV

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Agri Fertilizers & Chemicals het onlangs ‘n dag in Groblersdal aangebied wat hoofsaaklik op...

Dam owners must register safety risk dams by 60-day deadline

Estimated reading time: 3 minutes Minister Pemmy Majodina of the Department of Water and Sanitation has issued an urgent directive for dam owners to register their properties posing a safety risk. This notice, published in...

Avoiding panic keeps potato prices affordable

Estimated reading time: 3 minutes South Africans can look forward to a stable, affordable supply of potatoes over the festive season. After a year of tumultuous weather that resulted in supply constraints and high prices...

Landboumarkte: November 2024

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het gedurende November weereens ‘n stabiele maand teenoor die euro ervaar, maar het verswak teenoor die dollar. Die rand het gedurende November teen R18,06 teenoor die Amerikaanse dollar...
meteorology water meter rain gauge

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 12...