Bybal-ontsteking of epididimitis is ’n probleem wat ’n boer se ramtrop soos ’n dief in die nag bekruip. Dit versprei stilweg van een ram na ’n ander en hul vrugbaarheid neem stelselmatig af, tot jy op ’n dag besef jy het ’n groter probleem as waarvoor jy begroot het. Die lammeroes word jaarliks kleiner en die aantal ramme wat elke jaar vervang moet word, word elke jaar groter.
Veeplaas het by twee veeartse, dr Bertus Nel van Calvinia en dr Roland Larson van Graaff-Reinet, gaan aanklop om meer uit te vind oor dié siekte.
Dr Nel verduidelik dat die bybal of epididimis uit ’n reeks kronkelende buisies bestaan. Die pasgevormde sperme beweeg stadig deur hierdie buisies totdat dit volwassenheid bereik en die volwasse sperme word dan in die bybal geberg totdat dit tydens dekking gebruik word.
Oorsake van bybal-ontsteking
Dr Larson sê alhoewel trauma ook inflammasie van die bybal kan veroorsaak, is die oorsaak merendeels van bakteriese oorsprong. Drie kategorieë bakteriese organismes in hierdie verband word algemeen geïdentifiseer:
- Kategorie A: Brucella ovis.
- Kategorie B: Haemophilus somnus, Mannheimia haemolytica, M. multocida en Actinobacillus seminis.
- Kategorie C: Corynebacterium pseudotuberculosis en Trueperella pyogenes.
“Afhangende van die betrokke organisme(s), kan dit ’n aansteeklike siekte wees waar ’n hele groep ramme besmet kan word. Daarom moet die oorsaak van die betrokke epididimitis vasgestel word.”
Volgens dr Nel besmet en vernietig B. ovis alle voortplantingsorgane van die ram. “Infeksie van die bybal is die algemeenste simptoom en word ook die maklikste waargeneem, maar die res van die testes en ander geslagskliere word ook aangetas.”

Siektetekens
Dr Larson sê die grootte en tekstuur van albei teelballe behoort dieselfde te lyk. Van die eerste tekens wat hy gewoonlik raaksien, is dat die testikel vergroot, dit is gevoelig en die tekstuur verander. Sommige ramme het soveel pyn in die betrokke testikel dat hulle mank raak.
Dr Nel verduidelik ook dat die siektetekens dikwels eerste in die ram se saad waargeneem word. Die teenwoordigheid van etterselle en baie dooie sperme dui op dié probleem. Soos die siekte vorder, verhard die bybal en as die siekte ’n gevorderde stadium bereik, kan ’n duidelike vergroting van die bybal waargeneem word. In hierdie stadium is die ram gewoonlik heeltemal onvrugbaar.
Ander siektetekens waarna hy oplet, is dat die een teelbal gewoonlik baie swel, die ram vreet sleg, drink min water en is gewoonlik kreupel aan die kant waar die teelbal aangetas is. Ná ’n paar dae sak die swelsel en die verharding van die bybal kan gevoel word.
Aansteeklike onvrugbaarheid
Die oorsaak van aansteeklike epididimitis is Brucella ovis. Volgens dr Larson word net skape aangetas, waarvan die ramme die ergste geraak word. Wanneer ooie besmet word, kan aborsies soms plaasvind.
Dr Nel sê B. ovis is hoogs aansteeklik. “ ’n Besmette ram skei duisende van die bakterieë saam met elke ejakulasie uit. Tydens paring sal elke ram wat ’n spesifieke ooi direk ná ’n besmette ram dek, ook aansteek. Daarby versprei vlieë ook die bakterieë en indien dit op die slymvlies van ’n gesonde ram beland, sal hy ook aansteek.”
B. ovis-bakterieë versprei baie doeltreffend as gevolg van die ramme se normale gedrag. Jong ramme ruik aan die penis-opening van volwasse ramme en word op dié manier besmet indien die volwasse ram besmet is. Groot ramme “dek” ook jong ramme om dominansie te toon en besmet op dié manier die jong ramme. Verder kan ramme wat in ’n klein kampie of stal saamdrom ook aansteek omdat die voer en water besmet raak.
Die HPA-groep
Dr Larson sê daar is verskeie teorieë oor die oordra van die organismes in die HPA-groep (Haemophilus, Pasteurella en Actinobacillus spp). “Die feit bly staan dat infeksie van ram tot ram oorgedra kan word en van ’n ooi na haar lam. Veral jong rammetjies is vatbaar. Die probleem kom veral voor waar rammetjies intensief grootgemaak word,” verduidelik hy.
Stop venereal diseases in their tracks
Die siektetekens is dieselfde as by aansteeklike onvrugbaarheid en infeksies sonder simptome kom ook dikwels voor.
Hierdie organismes kom algemeen in die natuur voor. “Infeksies kan ook deur klein wondjies aan die vel of via die geslagskanaal plaasvind. Waar die epididimis of teelbal ’n abses toon, kan oorweeg word om die betrokke testikel te verwyder.
Voorkomende wenke
Dr Larson gee die volgende wenke om die probleem in ’n kudde te voorkom:
- Bevestig die vrugbaarheid van die ramme voor die teelseisoen. Vrugbaarheid behels nie net die ondersoek van die teelballe nie. Baie infeksies kom voor waar geen waarneembare letsels voorkom nie.
- Koop slegs ramme van erkende telers en moenie aanvaar dat hulle wel vrugbaar is nie.
- Toets alle ingekoopte ramme en dring aan op serologie om Brucella ovis uit te skakel.
- Bevestig watter probleme betrokke is indien enige twyfel oor saad se gehalte bestaan. ’n Veearts kan vir ’n mens die beste advies gee nadat die diagnose bevestig is.
- Aansteeklike onvrugbaarheid kan uitgeroei word. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel dr Bertus Nel by 082 628 2621 of
dr Roland Larson by 049 892 4783.







