Monday, December 8, 2025

2025 Swellendam-skou: Skou tot voordeel van gemeenskap

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Die 193ste Swellendam-skou, wat vanjaar van 27 Februarie tot 1 Maart gehou is, was ten spyte van die erge reën die laaste dag van die skou wat meegebring het dat die perdekampioenskappe afgestel moes word, weer ’n groot sukses, het Suzaan Smit, voorsitter van die skou, na afloop daarvan gesê.

Plaas Media is die trotse media-borg van Swellendam-skou.

Kobie Smit van die plaas Uitvlugt, Swellendam, op Hessekwa Mauser, het in die tradisionele Boerperd-afdeling (driegang) deelgeneem.

Van die hoogtepunte op vanjaar se program was die landbou-oggend wat deur 240 mense bygewoon is, en ’n perde-, Angus-, pluimvee-, katte- en ’n jeugskou. “Die eerste twee dae van die skou was daar definitief meer besoekers as die vorige jare, maar die reën op die laaste dag het meegebring dat minder mense die skou besoek het”, het Smit gesê.

Volgens haar het die skou die afgelope vyf jaar R1,9 miljoen aan onderhoud en verbeteringe spandeer om te verseker dat hulle die beste geriewe vir die vertoners, uitstallers en die besoekers kan bied. “Hierdie geriewe stel die skou in staat om ander aktiwiteite tot voordeel van die dorp en die gemeenskap aan te bied. Net een van die aktiwiteite bring R12 miljoen na die dorp, terwyl die skou net R30 000 daaruit kry.”

Sy het beklemtoon dat die skou nie aan die skoubestuur nie, maar aan die hele gemeenskap behoort. Sonder die landbougemeenskap kan die skou nie voortbestaan nie, daarom moet meer boere by die skou betrokke raak, het Smit gesê.

Waardevolle inligting gedeel

Die skou het afgeskop met ’n suksesvolle landbou-oggend wat deur 240 boere en ander rolspelers in die landbou bygewoon is. Die twee genooide sprekers was JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder en konsultant vir Nedbank Private Wealth, en dr Johan van Deventer, afgetrede hoof uitvoerende beampte van Freshmark en nou mede-eienaar van Domaine Brahms.

Landman het gesê Suid-Afrika moet aanvaar dat die African Growth and Opportunity Act (AGOA) vir hom verlore is, dat uitvoerders na Amerika tariewe van 24 % of 25 % sal moet betaal, en dat Amerika enige geld waaroor hy ’n sê het, van Suid-Afrika sal afsny.

“Ons sal met verloop van tyd sien dat Suid-Afrika se produkte wat na Asië uitgevoer word, sal toeneem en landbou sal hier ’n al groter rol speel. Saoedi-Arabië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate sal met verloop van tyd die grootste invoerders van Suid-Afrikaanse kos en landbouprodukte word.”

Boerdery ’n trotse beroep

Van Deventer het gesê Suid-Afrika se boere moet trots op hul beroep wees. “Ons het die beste boere in die wêreld. Ek sal dit van enige platvorm af sê. Suid-Afrikaanse boere maak sonder die ondersteuning van die regering altyd ’n plan om struikelblokke te oorkom en te oorleef.”

Volgens hom kan Amerikaanse boere nie met Suid-Afrikaanse boere meeding nie. Hulle kry voortdurend subsidies, word vergoed vir rampe en oorproduksie en het alle hulp waarvan ’n boer net kan droom. “Hulle sal nie vir ’n jaar in Suid-Afrika oorleef nie”, het van Deventer gesê.

Wenlam haal R7 000

Altesame 40 lammers is vanjaar vir Swellendam-skou se slaglamkompetisie ingeskryf. Die kampioen lam (enkelkarkas aan die haak) is ’n Dorperlam wat deur Dirkie Steyn van die plaas Voorhuis, Swellendam, ingeskryf is. Die lam se lewende en slaggewig was onderskeidelik 42kg en 20,1kg, met ’n A2 gradering.

Altesame 40 lammers is vanjaar vir Swellendam-skou se slaglamkompetisie ingeskryf. Die kampioen lam (enkelkarkas) aan die haak is deur Dirkie Steyn van Voorhuis, Swellendam, ingeskryf. Van links is Jumarie Schoonwinkel, 2025 se skoukoningin; Kobie Smit (derde plek) van Lekkerbly, Swellendam; Edward Frits van H&S van Zyl Boerdery (tweede plek) van Swellendam; Dirkie Steyn; Nicholas Hodgson, bestuurder van Ruggens Boerdery Abattoir; en JG du Toit van OVK.

Die lammers in die tweede en derde plek in die afdeling enkellam aan die haak, is onderskeidelik deur H&S van Zyl Boerdery van Swellendam en Kobie Smit van die plaas Lekkerbly, Swellendam, ingeskryf. Die lammers wat die eerste drie plekke in die afdeling vir enkelkarkas aan die haak behaal het, is vir onderskeidelik R7 000, R5 500, en R4 200 op die slaglamveiling verkoop. Die koper van die wenkarkas is Esmari Schoonwinkel van Ruggens Boerdery, Swellendam.

Die lammers wat die eerste drie plekke in die afdeling vir enkelkarkas aan die haak behaal het, is vir altesame R16 700 op die slaglamveiling verkoop. Die wenkarkas was ’n Dorperlam met ’n lewende en slaggewig van onderskeidelik 42kg en 20,1kg, met ’n A2 gradering. Die kopers van die drie karkasse is van links Julian du Plessis van Nova Voere, die koper van die karkas in die derde plek (R4 200); Esmari Schoonwinkel van Ruggens Boerdery, Swellendam, die koper van die kampioenkarkas (R7 000); en Lynn-Mari Schoonwinkel van Ruggens Boerdery, Swellendam, die koper van die karkas in die tweede plek (R5 500). Saam met hulle is Frans Hugo, OVK se bestuurder in die Suid- en Wes-Kaap; en Gertjie Odendaal, die afslaer van die slaglamveiling.

Angusskou groei

Swellendam het vanjaar vir die tweede jaar ’n Angusskou aangebied. Sewe Rooi en Swart Angus-telers het met 45 beeste aan die kampioenskappe deelgeneem.

  • Die grootkampioen Rooi Angus manlike dier, Joyce’s Bomb Squad, is deur Seymour Currie van Joyce’s Angus, Wolwedans, Malmesbury, vertoon. Die bul was ook die kampioen-bulkalf. Van links is Francois du Toit van Afrivet; Jumari Schoonwinkel, skoukoningin; RC Malherbe, senior beoordelaar; Theuns Bruwer, hulp-beoordelaar; Lee-Roy Afrikaner, die bul se hanteerder; en Seymour Currie.

RC Malherbe van Hertzogville, die hoofbeoordelaar van die Angusse, het na afloop van die skou gesê die diere wat aan die skou deelgeneem het, was van hoogstaande gehalte.

  • Die grootkampioen Swart Angus vroulike dier, Groote Post Diana 5, was ook die junior kampioen vroulike dier. Sy is deur Peter Pentz van Groote Post Farms, Darling, ingeskryf. Van links is Sonja de Beer, algemene bestuurder van Wozani Berg Gasoline; Peter en Josh Pentz; RC Malherbe, senior beoordelaar; Theuns Bruwer, hulp-beoordelaar; en Chris Marthinus, die hanteerder.

Die opperste kampioen vroulike dier van die skou, die Rooi Anguskoei, Groote Post PNP180005, is deur Peter Pentz van Groote Post Farms, Darling, vertoon en die opperste kampioen manlike dier van die skou, die Swart Angusbul, Joyce’s Ox Nche, deur Seymour Currie van Joyce’s Angus, Wolwedans, Malmesbury.

  • Peter Pentz van Groote Post Farms, Darling het die opperste kampioen vroulike dier op die skou, die Rooi Angus-koei Groote Post PNP180005, vertoon. Van links is Brady Dabner, sameroeper van die vleisbeesafdeling van die skou; Suzaan Smit, voorsitter van Swellendam-skou; Peter Pentz; sy seun Nick en kleinseun Josh.

Jeugskou een van grootste streekskoue

Die jeugskou op Swellendam is elke jaar een van die grootste streekjeugskoue in die Wes-Kaap. Vanjaar het meer as 180 kinders van regoor die Wes-Kaap aan die jeugskou deelgeneem. Die kinders het in drie ouderdomsgroepe in 13 kategorieë meegeding, het Johannes Human, organiseerder van die jeugskou gesê.

Die skou se goeie fasiliteite bring mee dat die jeugskou van krag tot krag gaan. Selfs met die erge reënweer kon die kinders droog skou, het Human gesê.

Katteskou goed ondersteun

Swellendam-skou is die enigste skou in die Wes-Kaap wat ’n katteskou aanbied. Leonard Ferreira, organiseerder van die katteskou, het na afloop van die skou gesê daar het vanjaar 64 katte aan die skou deelgeneem.

Leonard Ferreira, die organiseerder van die katteskou, met die Maine Coon, Colorkats Just Lucas of Asgard. Die kat is nege jaar en twee maande oud en was ’n vorige kampioenkat van Swellendam-skou.

Die grootkampioen kat is deur Stephen Whines en Georgina Greeff van Asgard Maine Coons van Table View, Kaapstad, ingeskryf. – Hugo Lochener, Plaas Media

Die kampioenkat van Swellendam-skou is die Maine Coon, Dbl Master, Jnr Ch & SA triple Sup Ch Melluandia *PL Paddington of Asgard (Imp). Die mannetjiekat is twee jaar en nege maande oud. Die eienaars van die kat is Stephen Whines en Georgina Greef van Asgard Maine Coons, Table View, Kaapstad.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...