Monday, March 3, 2025

Produksiedata en winsmarges van Bonsmara-stoetbulle

Estimated reading time: 3 minutes

Doeltreffende voerkraalproduksie is direk gekorreleer met winsgewendheid wat volhoubaarheid versterk. Verskeie faktore beïnvloed produksie en hulpbrondoeltreffendheid waaronder groei, voerinname, siektetoestande, mortaliteit en uitslagpersentasie.

Uit ’n hulpbronvolhoubaarheids- en voedselsekerheidsoogpunt is die omskakeling van voer in bruikbare beesvleis uiteindelik die toepaslike meting wat oorweeg moet word. Voeromsetverhouding (VOV) is ’n algemene meting wat evalueer hoe doeltreffend voer in lewende gewig en uiteindelik in beesvleis omgeskakel word. Die verhouding word uitgedruk in die kilogram voer wat ’n dier verbruik om 1kg lewende gewig op te tel (Oosthuizen, 2016).

Gemiddelde daaglikse toename

Van 1990 tot 2022 het Sernick Bonsmara meer as 3 500 bulle vir gemiddelde daaglikse toename (GDT), individuele voerinname en VOV getoets. Hierdie individuele prestasietoetsing is gemik op seleksie vir genetiese doeltreffendheid. Figuur 1 toon die GDT vir die bulle wat oor tyd getoets is. Figuur 1 toon dat die GDT oor tyd verhoog as gevolg van seleksie. Die laaste 10% van die bulle wat getoets is (2020 tot 2022) het ’n verhoging in GDT (p<0,05) van 0,22kg getoon teenoor die eerste 10% (1990 tot 1993) wat ’n verbetering van 12% verteenwoordig.

Voerinname oor tyd

Wat voerinname oor tyd betref, was daar ’n 6% (0,57kg/kalf/dag) afname (p<0,05) in voerinname. Voerinname as ’n persentasie van liggaamsmassa het met 0,29% afgeneem van 3,18 na 2,89%. ’n Hoër variasie in voerinname is duidelik teenoor die variasie in GDT weens die hoër getalwaarde van voerinname teenoor GDT (tot ’n mate). Die hoër variasie beklemtoon die geleentheid om diere met laer voerinname te selekteer met die oog op verbeterde VOV.

Voeromsetverhouding

VOV verteenwoordig die gekombineerde effek van GDT en voerinname. Dit illustreer ’n daling (p<0,05) in VOV van 1,06kg (19%). Die laer, en gevolglik meer doeltreffende VOV, is hoofsaaklik as gevolg van ’n hoër GDT alhoewel die laer voerinname ook bygedra het.

Die effek van die verbeterde VOV deur die verhoging in GDT en daling in voerinname, is finansieel gekwantifiseer. Die GDT-, voerinname- en VOV-data is ’n aanduiding van verhoogde produksie, maar moet finansieel gekwantifiseer word om die relevansie van produksieverbetering vanuit ’n ekonomiese oogpunt te bepaal.

Verhoging in winsmarge

Om die finansiële effek te kwantifiseer, is al die veranderlikes en pryse in die winsmarge-berekeninge konstant gehou behalwe vir GDT, voerinname en gevolglik VOV, soos aangedui in Figuur 2.

Dit blyk dat die winsmarge betekenisvol met 56% verhoog het sedert die aanvanklike produksiedata (10% van die data, 1990 tot 1993) tot en met die gemiddelde produksiedata (1990 tot 2022) en ’n verhoging van 50% tot en met die laaste produksiedata (10% van die data, 2020 tot 2022).

Lees meer oor bulvoeding in die teelseisoen.

Die verhoogde winsmarge is die resultaat van die verbeterde VOV van 8,6 en 8,1%. Dit is duidelik dat die verbeterde voerdoeltreffendheid omgeskakel is in ’n betekenisvolle verhoogde winsmarge en dat dit tot ekonomiese volhoubaarheid bydra.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Louis Steyl by louis@bonsmara.co.za.