Monday, October 14, 2024
HomeMagazines‘n Plaasslaghuis verg fyn bestuur

‘n Plaasslaghuis verg fyn bestuur

-

Estimated reading time: 7 minutes

  • ’n Produsent kan met ’n plaasslaghuis waarde tot sy produk toevoeg. Daar is egter verskeie faktore wat fyn bestuur moet word.
  • Baie streng streng gesondheidsvereistes geld vir slaghuise, aangesien daar met bederfbare produkte gewerk word en dit die gesondheid van verbruikers raak.
  • Johan en Linda Burger se Pure Plaas Slaghuis en Deli is sowat 20km buite Potchefstroom in Noordwes geleë. In die drie jaar vandat hulle die onderneming besit, het hulle geleer dat dit meer behels as net die verkoop van vleis.
  • Volgens die munisipale regulasies moet daar toilet-, stort- en aantrekgeriewe vir mans en dames (werknemers) beskikbaar wees. Die vloere en mure is geteel en die hoeveelheid wasbakke en ander geriewe stoot uiteraard so ‘n plek se boukoste op.
  • Die grootste uitdaging vir ’n plaasslaghuis is die hoeveelheid voete wat oor die drumpel kom.

’n Produsent kan met ’n plaasslaghuis waarde tot sy produk toevoeg. Daar is egter verskeie faktore wat fyn bestuur en deeglike beplanning vereis om so ’n onderneming oor die langtermyn lewensvatbaar en winsgewend te maak.

Veeprodusente raak dikwels kriewelrig as hulle sien wat verbruikers in slaghuise vir vleis betaal teenoor dit wat hulle vir hul produk ontvang. Indien ’n mens jou eie slaghuis begin, kom jy egter gou agter dat dié hoër pryse nie noodwendig buitensporige winste beteken nie. Trouens, dit kos dikwels fyn sny om hoegenaamd ’n wins te maak.

Boonop geld streng gesondheidsvereistes vir slaghuise, aangesien daar met bederfbare produkte gewerk word en dit die gesondheid van verbruikers raak. Daar moet ook aan die vereistes van die gesondheidsafdeling van die munisipaliteit waarin die plaas en slaghuis geleë is, voldoen word.

Lees meer oor die rooivleiswaardeketting.

Die begin van ’n droom

Johan en Linda Burger se Pure Plaas Slaghuis en Deli is sowat 20km buite Potchefstroom in Noordwes geleë. In die drie jaar vandat hulle die onderneming besit, het hulle geleer dat dit meer behels as net die verkoop van vleis.

Hulle het ’n paar aangrensende kleinhoewes wat saam sowat 40ha beslaan, waarop hulle met skape boer en mielies en lusern as voer vir die skape plant. Johan sê hy was sy lewe lank lief vir boerdery en veral vir die bewerking van vleis, maar as ingenieur het dit grootliks ’n stokperdjie gebly.

Met sy bewerking van wildsvleis, het hy voortdurend probeer om nuwe en beter produkte te maak. In die proses het hy goeie vleisverwerkingstoerusting aangeskaf en mettertyd vir hulself en bure vleis op die plaas begin bewerk.

Sowat ses jaar gelede het ’n ruimte, voorheen ’n slaghuis, in ’n klein sentrum beskikbaar geraak. Hulle het dit gehuur en hy het ’n nuwe koel- en vrieskamer ingerig. Hy sê die oppervlakte van die slaghuis is sowat 100m2. As hy dit van meet af moes bou, sou dit waarskynlik sowat R6 000/m2 gekos het.

Voldoening is ononderhandelbaar

Volgens die munisipale regulasies moet daar toilet-, stort- en aantrekgeriewe vir mans en dames (werknemers) beskikbaar wees. Die vloere en mure is geteel en die hoeveelheid wasbakke en ander geriewe stoot uiteraard so ‘n plek se boukoste op.

Dan kom die toerusting by. In sy geval het hy die meeste daarvan reeds gehad, maar indien ’n mens dit moet aankoop, gaan dit nuut minstens R250 000 en tweedehands sowat R100 000 kos. Goeie toerusting is noodsaaklik om gehalte vleisprodukte op die rakke te sit.

Munisipale gesondheidsinspekteurs doen gereeld inspeksie. Die slaghuis en al die toerusting word daagliks van hoek tot kant met spesiale antiseptiese seep gewas. Die geteelde mure vergemaklik die skoonmaakproses. Maandeliks word die hele slaghuis, koel- en vrieskamer deeglik skoongemaak met ’n reinigings- en ontsmettingsmiddel en ’n drukspuit.

Om mense te lok om by so ’n slaghuis te koop, moet jy ’n spesiale produk ontwikkel en gespesialiseerde dienste lewer.

Dink aan jou klante

Die grootste uitdaging vir ’n plaasslaghuis is die hoeveelheid voete wat oor die drumpel kom. Vleis is ’n fantastiese produk, maar as dit eers gesny is het dit ’n kort rakleeftyd van twee tot hoogstens vier dae. Indien die vleissnitte nie in dié tyd verkoop word nie, moet dit gevries word.

Terselfdertyd is dit noodsaaklik om ’n genoegsame verskeidenheid vleis in die vertoonkoelkas aan klante te bied. Hierdie uitdaging raak al hoe groter omdat die ekonomie voortdurend ’n groot deel van kopers se besteebare inkomste so knou dat hul koopgewoontes verander het.

’n Mens moet ook onthou daar verliese is as jy ’n karkas bewerk. Indien die karkas ontbeen word, is die verlies sowat een derde van die karkasgewig. Met die maak van biltong en droëwors verloor jy twee derdes van die gewig van die vleis waarmee jy begin het.

Hulle ondervinding is dat mense gewoond geraak het om voorafverpakte vleis by kettingwinkels te koop; hulle weet dikwels nie meer wat ’n prys per kilogram beteken nie. Hulle wil graag ses tjops of twee biefstukke koop en dadelik sien wat dit kos. As hulle hoor die lamsvleis kos R150/kg het hulle geen benul wat ses tjops gaan kos nie. In die slaghuis vra hulle eerder vir R100 se tjops.

Goeie bemarking

Daarby het mense ’n weerstand teen bevrore vleis, biltong, droëwors en ander produkte opgebou en glo die gehalte daarvan neem af wanneer dit gevries word. Burger sê egter as ‘n mens goeie vleis reg vries, verloor dit bykans geen gehalte nie.

Om klante te lok, moet ’n mens die slaghuis bekendstel deur plaaslik te adverteer, maar die beste advertensie is steeds mense wat vir mekaar vertel dat dié slaghuis besonderse produkte en vleis van uitstaande gehalte verkoop.

Johan slag van sy eie plaasdiere en koop ook karkasse by die abattoir, ’n groothandelaar, asook by ’n buurman wat ’n voerkraal bedryf. Indien ’n mens jou eie diere deur die slaghuis wil verkoop, moet dit by ’n geregistreerde abattoir geslag word. Dit is moeilik om klein getalle diere by groot abattoirs te laat slag; die voerkrale geniet voorrang.

Brandstof en ligging

Die afstand tussen ’n plaasslaghuis en ’n geregistreerde abattoir kan ’n groot rol speel in die lewensvatbaarheid van die nuwe onderneming. Die loon van die werkers in die slaghuis moet ook in ag geneem word.

Johan sê in hulle geval is die slaghuis baie strategies langs ’n hoofroete geleë en hy reken sowat 70% van hulle klante is mense wat stilhou om versnaperings soos biltong en droëwors vir die pad te koop. Daarom maak dié produkte sowat twee derdes van die slaghuis se omset uit. Hulle biltong en droëwors is uiters gewild.

Hy glo indien hy die slaghuis na die kleinhoewe skuif, sal sy omset met minstens die helfte daal.

Goeie diens bly ’n wenner

Om mense te lok om by so ’n slaghuis te koop, moet jy ’n spesiale produk ontwikkel en gespesialiseerde dienste lewer. Sy boerewors is byvoorbeeld baie gewild. Daar is geen geheime resep nie, maar die gehalte van die vleis wat hy in die wors gebruik, is uitstekend.

Hul bewerk onder meer ook bees-, skaap- en varkkarkasse vir produsente wat kliënte het waaraan hulle vleis regstreeks lewer. Dié bewerkte vleis word netjies verpak.

Daarby bewerk hulle ook wildkarkasse vir jagters en bied ’n spesiale diens waar die karkasse oor die naweek op die kleinhoewe afgelaai kan word. Dit word in ’n koelkamer gehou tot dit slaghuis toe geneem en bewerk word.

Doen jou huiswerk

Produsente wat beplan om slaghuise op plase te begin, moet hulle deeglik vergewis van al die uitdagings. Die mededinging van kettingwinkelgroepe is byna oorweldigend en ’n slaghuis kan kwalik met hulle meeding deur vleis goedkoper te probeer bemark.

Dit is eerder gehalte en diens wat mense moet lok – die berekening van produkpryse moet baie oordeelkundig gedoen word. Johan sê Vrydae en die dae rondom maandeinde is wanneer ‘n slaghuis gerat moet wees om uitstekende diens te lewer. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir navrae, kontak Johan Burger by 082 821 2393 of johan.burger@sibanyestillwater.com.

Must Read

Resilience is a way of life: Stockman School wraps up

In the last session of the 16th Livestock Registering Federation (LRF) Stockman School, two speakers brought the concept of resilience together nicely by focussing...