‘n Kykie na doringboomblare

Estimated reading time: 5 minutes

  • Beskrywings van Suid-Afrikaanse doringbome maak selde melding van die twee soorte blare (langtakblare [eufille] en korttakblare [katafille]) wat veral by die genus Vachellia voorkom.
  • Afgesien van die klier op die blaarsteel kan kleiner kliere ook op die hoofas van die blaar tussen twee teenoorstaande pinnas voorkom. Die kliere skei nektar af wat deur veral miere versamel word.
  • Doringbome se blare vou toe sodra dit donker word of as die temperatuur te hoog word.
  • Die blare van doringbome, veral jong blare, het oor die algemeen hoë voedingswaarde vir diere. In die literatuur is deur verskillende outeurs melding gemaak van die ruproteïenwaarde van doringboomblare.

In die eerste artikel van die reeks is genoem dat die blare van bome wat aanvanklik as Acacias beskou is, dubbelveervormige blare besit, ten minste by die kiemplante.

By die Australiese wattels soos die Silwerwattel (Acacia dealbata), Groenwattel (A. decurrens) en Swartwattel (A. mearnsii) is die blare wel dubbelveervormig saamgestel, maar by die Rooikrans (A. cyclops), Swarthout (A. melanoxylon) en Portjackson (A. saligna) is die ‘blare’ op volwasse bome afgeplatte organe wat in werklikheid omvormde blaarstele is. By laasgenoemde soorte ontbreek die hoofas, die sytakke (pinnas) en blaartjies (pinnule) en het slegs die kiemplante dubbelveervormige saamgestelde blare.

Beskrywings van Suid-Afrikaanse doringbome maak selde melding van die twee soorte blare (langtakblare [eufille] en korttakblare [katafille]) wat veral by die genus Vachellia voorkom. Die term langtakblare kan verwarrend wees, omdat die eerste (onderste) blare van die langtakke ook katafille is. Die belangrikste verskil tussen die eufille en katafille is dat die blare van die eufille meer sytakke (pinnas) bevat as dié van die katafille.

Op die blaarstele van die eufille kom daar gewoonlik ’n blaarsteelklier (Foto 1) wat óf sittend óf effens gesteeld kan wees, voor. By die meeste Vachellia-soorte ontwikkel die katafille op die korttakke vroeg in die lente, nog voordat langtakke ontwikkel. Omdat daar ’n hele aantal katafille per korttak voorkom, is die bome reeds vroeg in die lente vol blare wat bydra tot die voedingswaarde van die bome.

By Senegalia-soorte met haakdorings op die stingel soos by S. ataxacantha (Vlamdoring), kom daar haakdorings agter op die hoofas van die blaar voor wat hulle minder aantreklik maak vir blaarvreters.

Klik hier vir meer oor doringbome se oorsprong.

Blare en miere

Afgesien van die klier op die blaarsteel kan kleiner kliere ook op die hoofas van die blaar tussen twee teenoorstaande pinnas voorkom. Die kliere skei nektar af wat deur veral miere versamel word. Die miere beskerm dan die boom teen ander skadelike organismes soos klein insekte en swamme.

Met die uitsondering van die kameeldoring (V. erioloba) met geswolle dorings, bied die Suid-Afrikaanse spesies nie duidelike huisvesting vir die miere aan nie, maar by V. cornigera (Bullhorn acacia) wat in Meksiko en Sentraal-Amerika voorkom en die Whistling thorn wat in Kenia voorkom, verskaf die bome huisvesting vir miere in die geswolle dorings wat hulle uithol. By V. cornigera kom daar op die punte van die pinnulas ook nog proteïenryke struktuurtjies voor (Belt se liggaampies) wat die miere versamel.

Die teenwoordigheid van die miere kan ook nadelig wees vir die bome, omdat die miere was- en wolluise beskerm ter wille van die nektar wat hulle van die plantluise verkry.

Slaapbewegings van blare

Doringbome se blare vou toe sodra dit donker word (nocturnal movements) of as die temperatuur te hoog word. Die bewegings is meer opvallend by jong eufille en die blare van kiemplante.

Om dit moontlik te maak is die blaarbasisse, sowel as die basisse van die sytakke (pinnas) en blaartjies (pinnulas), omvorm tot ’n soort gewrig (pulvinus). Dit is ’n effens opgeswelde deel van die blaarbasis met plooie óf aan die bokant óf aan die onderkant. As die plooie op die bokant van die pulvinus voorkom sal die blaar, of onderdeel daarvan, opwaarts beweeg. As die vou aan die onderkant van die pulvinus voorkom sal die blaar of onderdeel na onder vou (Foto 3 en Figuur 4). 

Figuur 1: Sketse van lengtesnitte van pulvinus van S. polyacantha (witstamdoring) (A) en S. schweinfurthii (rivierrankdoring) (B).

Aan die onderkant van die plooi kom daar vergrote selle met effens verdikte wande met groot stippels (kleppe) voor, wat ‘motorselle’ genoem word. Dit speel ’n rol by die oop- en toevou van die blare wat ’n baie ingewikkelde proses is. By die kruidjie-roer-my-nie (Mimosa pudica) vou die blare vinnig toe as ‘n mens aan hulle raak en hoe dit plaasvind kan in ’n Google-soektog met die soekwoorde ‘how does Mimosa pudica move’ gevind word.

Lees meer oor doringbome se blomtyd.

Voedingswaarde van blare

Die blare van doringbome, veral jong blare, het oor die algemeen hoë voedingswaarde vir diere. In die literatuur is deur verskillende outeurs melding gemaak van die ruproteïenwaarde van doringboomblare. WR Teague wat tussen 1980 en 1990 in die Oos-Kaap navorsing gedoen het op soetdoring en ’n groot aantal publikasies die lig laat sien het, meld dat Boerbokke die blare bo grasweiding verkies het.

Verskillende noodsaaklike elemente kom in die blare van doringbome voor. Een nadeel is dat blare van party doringbome hoë konsentrasies blousuur kan bevat, soos onder andere die papierbasdoring (V. sieberiana). – Emeritus Professor Hannes Robbertse, Universiteit van Pretoria

Lees meer oor doringbome se nut op die plaas.

In die volgende artikel gesels ons oor die nut van doringbome op die plaas.

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel...

Pak die lente- en groenweidingsuitdagings trompop

Estimated reading time: 4 minutes Die lenteseisoen in Suid-Afrika se somerreënvalgebiede kan om verskeie redes...

Unlocking production potential, one step at a time

Estimated reading time: 8 minutes Unlocking the full production potential of the livestock industry –...