Tuesday, October 8, 2024

Doringbome en waar hulle voorkom

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die naam Acacia verwys na die stekels of dorings wat op die plante voorkom maar die Australiese akasias, soos die wattels, het nie dorings nie.
  • Daar is in 2011 tydens die Melbourne internasionale botaniese kongres besluit om die Acacia genus in verskillende genera te verdeel.
  • Die verdeling van die Afrika-spesies in twee afsonderlike genusse is geregverdig, omdat duidelike verskille tussen die twee groepe voorkom.
  • Die Anaboom (Faidherbia albida), voorheen as inheemse akasias beskou, is op grond van verskillende kenmerke na die monotipiese genus Faidherbia oorgeplaas.

Die genus Acacia is reeds in 1754 deur P. Miller in The Gardiner’s Dictionary beskryf en het al die soorte (spesies) ingesluit wat in die tropiese, subtropiese en gematigde gebiede van die wêreld aangetref word. Die naam Acacia verwys na die stekels of dorings wat op die plante voorkom maar die Australiese akasias, soos die wattels, het nie dorings nie.

doringbome
Takkie met bloeiwyses van Vachellia karroo (Soetdoring).

Gemeenskaplike kenmerke van plante wat wel by die oorspronklike naam, Acacia, ingesluit was (ongeveer 1 350 soorte), is die geurige klein blommetjies wat in óf bolvormige bloeiwyses (hofies) óf langwerpige bloeiwyses (trosse of are) voorkom en die dubbelveervormige saamgestelde blare wat ten minste by die kiemplante voorkom.

Daar is in 2011 tydens die Melbourne internasionale botaniese kongres besluit om die genus in verskillende genera te verdeel. Sodoende het die Australiese ‘doringbome’ die naam Acacia behou, terwyl die Afrika-soorte onder die name Senegalia en Vachellia ingedeel is.

Lees meer oor wanneer doringbome blom hier.

Vachellia- en Senegalia-spesies

Die verdeling van die Afrika-spesies in twee afsonderlike genusse is geregverdig, omdat duidelike verskille tussen die twee groepe voorkom. Die mees opvallende verskille is eerstens die dorings.

By al die Vachellia-spesies kom daar by elke knoop (waar die blaar aangeheg is) twee reguit of effens gekromde stekeldorings voor. Die dorings is omvormde steunblare wat uitgroeisels aan weerskante van die blaarbasis is.

doringbome
Enkel bloeiwyse. Die pyl wys na die knoop en die blommetjie op die knoop van die bloeisteel.

By die Senegalia-spesies is die steunblare (wat gewoonlik vroeg afval) blaaragtig en sag terwyl haakvorming, wat soos katnaels lyk, by die knope en soms verspreid op die stingels voorkom. Tweedens is die blommetjies van die Vachellia-spesies in bolvormige bloeiwyses saamgepak terwyl hulle by die Senegalia-spesies (met uitsondering van drie spesies) in lang, aarvormige bloeiwyses saamgepak is.

Lees meer oor Suidwesdoringbome.

Uitsonderlike spesies

Die drie uitsonderlike spesies hierbo genoem, is Senegalia brevispica (Dorinkiedoring), S. kraussiana (Kusrankdoring) en S. schwinfurthii (Rivierrankdoring). By al drie spesies is die wit blommetjies in bolvormige bloeiwyses gegroepeer soos by die Vachellia-soorte, maar anders as by laasgenoemde is die bloeisteel nie verdeel in twee litte nie.

By die Vachellia-spesies is die bloeisteel verdeel in twee litte en op die knoop tussen die twee litte kom daar ook nog klein skubblaartjies met soms een of twee blommetjies voor. Hierdie drie spesies pas nie goed in by óf die genus Vachellia óf die genus Senegalia in nie.

‘n Verdere kenmerk wat hulle onderskei van die ander Suid-Afrikaanse doringbome, is die feit dat die sade groot styselkorrels bevat. By al drie kom haakdorings in stroke verspreid op die stingels voor. Al drie spesies kom net in die noord-oostelike deel van KwaZulu-Natal en in die suide van Mosambiek voor.

Die Anaboom

Die Anaboom (Faidherbia albida), voorheen as inheemse akasias beskou, is op grond van verskillende kenmerke na die monotipiese genus Faidherbia oorgeplaas. Die bloeiwyses stem ooreen met dié van die genus Senegalia, maar die dorings stem weer ooreen met dié van die genus Vachellia. Die sade bevat styselkorrels soos by die bogenoemde drie spesies.

Die Anaboom plant vegetatief voort deurdat nuwe plantjies op versteurde dele van die wortels ontwikkel. Hulle kom voor langs die Limpoporivier en vanaf KwaZulu-Natal, langs die oostelike dele van Afrika tot in Egipte, Israel en die Midde-Ooste. Hulle groei langs riviere, in droë rivierbeddings, langs waterpanne en plekke met ‘n hoë watertafel. Hulle kom voor in soortgelyke plekke in die noordwestelike dele van Afrika.

Die meeste soorte doringbome in Suid-Afrika kom in die meer gematigde dele van die land voor. Volgens Acoocks (1953) se veldtipes word groot gedeeltes van Suider-Afrika beslaan deur een of ander tipe doringveld soos die Kalahari-doringveld, die doringveld van die Springbokvlakte, Zoeloelandse doringveld, Oostelike Provinsie-doringveld en ander.

doringbome
Takkies met dorings en blare van V. karroo.

Die spesie met die wydste verspreiding is die soetdoring (Vachellia karroo) wat voorkom vanaf die Kaap, dwarsdeur Suid-Afrika tot in Zimbabwe, Botswana, Lesotho, Namibië, Mosambiek, Zambië, Malawi en suid-Angola. Die ander spesie wat ook tot ver suid voorkom, is die wag-’n-bietjiedoring (Senegalia caffra) wat langs die oostelike gedeeltes van die land vanaf Limpopo tot in die Suid-Kaap voorkom.

In die volgende artikel gesels ons oor hoe en wanneer doringbome blom en die nut van die blomme. – Emeritus Prof Hannes Robbertse, Universiteit van Pretoria

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...

Boosting communal sheep production

Estimated reading time: 8 minutes The National Wool Growers’ Association (NWGA) has significantly increased wool...

Veldverbetering is ’n 100-jaar wedloop

Estimated reading time: 7 minutes Charl, 2024 se Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur, sê dit is vir hom...

A healthy gut makes for a healthy pig

Estimated reading time: 5 minutes The diets of healthy pigs consist of a series of...