Estimated reading time: 5 minutes
- Doringbome is deel van die Suid-Afrikaanse landskap en sekere tipes doringbome blom op verskillende tye danksy hulle onderskeie takstrukture.
- By doringbome bestaan die takstruktuur uit kort- en langtakke.
- In die meeste handboeke oor bome en doringbome word genoem dat die soetdoring oor ’n lang tyd blom.
- Van die bome wat eerste begin blom het, het vroeër opgehou blom, maar bome wat later begin blom het, het by die sinkronisering ingeskakel.
- Die massas blomme en stuifmeel wat deur doringbome geproduseer word, dra by tot die voeding en oorlewing van baie soorte bestuiwers en ander noodsaaklike insekte.
Blommende doringbome is oral te sien langs paaie in die areas waar hulle voorkom. Langs die N1, noord van Pretoria, sien jy vroeg in die lente kolle swarthaak (Senegalia mellifera) vol in blom. By Badseloop noord van Bela-Bela is die apiesdorings (Vachellia galpinii) oortrek met roomkleurige blomme.
Vanaf November begin die soetdorings (Vachellia karroo) blom en waar bome dig voorkom, sien ‘n mens plate geel blomme. Die vraag is waarom party soorte vroeg blom en ander weer later in die seisoen. Om die vraag te beantwoord, moet eers gekyk word na die takstruktuur van doringbome.
Takstruktuur bepaal blomtyd
By doringbome bestaan die takstruktuur uit kort- en langtakke. Die langtakke ontwikkel gewoonlik later in die seisoen en op elke knoop van die langtakke kom een blaar en twee dorings voor. Die groeiknop in die oksel van die blaar (okselknop) vergroot en vorm ’n korttak met of sonder blare.
By bome wat in Augustus/September blom, soos die koorsboom (Vachellia xanthohloea), kameeldoring (V. erioloba), enkeldoring (V. robusta), apiesdoring en ander, word die bloeiwyses in groepe op korttakke van die vorige groeiseisoen(e) gedra en begin dit reeds voor of gedurende die winter ontwikkel. In die lente is die bloeiwyses dus klaar gevorm en wag net vir die temperatuur om te styg voordat die blomme begin oopgaan.
By soorte wat later in die seisoen blom soos die soetdoring, witbasdoring (Senegalia polyacacntha), vlamdoring (S. ataxacantha) en ander, kom die bloeiwyses aan die punte van nuwe langtakke voor. Die langtakke moet dus eers uitgroei voordat die bloeiwyses in die oksels van die jong, dikwels gereduseerde blare begin vorm.
Blomtydperke verskil
In die meeste handboeke oor bome en doringbome word genoem dat die soetdoring oor ’n lang tyd blom. Ongelukkig is daar nog nie voorheen deeglike studies gedoen oor hoe en wanneer doringbome blom nie.
Ek het wel van 1990 tot 2014 soetdoringbome in Pretoria en omgewing dopgehou, en aantekeninge gemaak elke keer as hulle blom. Later is 100 bome gemerk en oor ’n tydperk van vyf jaar waargeneem. Die eerste bome het, afhangend van die seisoen, elke jaar tussen 28 September tot 5 November begin blom. Al die blommende bome het gelyktydig begin blom en na vier of vyf dae het al die blomme verwelk. ’n Paar dae later het al die bome weer gelyktydig geblom en die gesinkroniseerde blom het elke jaar so voortgeduur vanaf November tot in Februarie/Maart, met tot vier of vyf blomsiklusse per maand.
Van die bome wat eerste begin blom het, het vroeër opgehou blom, maar bome wat later begin blom het, het by die sinkronisering ingeskakel. Die duur van die blomsiklusse en die tydperke tussen blomsiklusse het, afhangend van weerstoestande, gewissel. Die langste blomsiklus wat waargeneem is het van 17 tot 27 November 1990 geduur en ’n ander een van 18 tot 27 November 2008.
Die anaboom (Faidherbia [Acacia] albia) se blomtyd verskil van al die ander Suid-Afrikaanse doringbome aangesien dit gedurende Mei/Junie begin blom. In die literatuur word daar vir ander dele van Afrika egter ander blomtye aangegee.
Lees meer oor hoe doringbome ook reddingsplante kan wees.
Blomkleure
Wat blomkleur betref kan Suid-Afrikaanse doringbome in verskillende groepe verdeel word. By die Senegalia-soorte is die blomme meestal wit of skakerings van roomkleurig. By die swarthaak (S. mellifera, met bolvormige bloeiwyses) en blouhaak (S. erubescens) kom daar soms bome met pienk blomme voor. Kyk ook na Braam en Piet van Wyk se boek Veldgids tot bome van Suider Afrika. By Vachellia-spesies het party roomkleurige blomme soos die enkeldoring en die trassiedoring (V. hebeclada). Die meeste ander soorte het egter donkergeel blomme, soos die soetdoring.
By die soetdoring is dit ook bekend dat manlike en tweeslagtige blomme op dieselfde bloeiwyse voorkom en die persentasie manlike blomme per bloeiwyse van 30 tot 100% kan wissel, met die gevolg dat enkele bome in ’n populasie nie peule dra nie.
Die massas blomme en stuifmeel wat deur doringbome geproduseer word, dra by tot die voeding en oorlewing van baie soorte bestuiwers en ander noodsaaklike insekte. Blaareters, beeste en bokke voed ook gereeld op doringboomblomme. In die Willowmore-omgewing het ek opgemerk dat daar by die soetdoringbome, tot op die hoogte waar die koedoes kan bykom, geen peule voorkom nie omdat hulle al die takpunte afgevreet het. – Emeritus Prof Hannes Robbertse, Universiteit van Pretoria
Vir meer inligting, kontak die outeur by hannesrobbertse000@gmail.com.