Estimated reading time: 7 minutes
- Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas Trywell in Carnarvon, was die naaswenner van die Noord-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie.
- Hy dien op die direksie van die Karoolam Konsortium en is ook ’n bestuurslid van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Noord-Kaap.
- Sybrand glo dit is belangrik om saam met die natuur te boer ten einde die veld se biodiversiteit te verbeter.
- Die verbetering van sy veld het reeds goeie vrugte afgewerp.
- Hy en ’n paar vriende het onlangs begin om self hul skaapvleis onder die handelsmerk Lamb and Legacy te bemark.
Geen boer kan op sy eie sukses behaal nie en om alleen die mas te probeer opkom is moeilik. Vat eerder hande met jou gemeenskap en gebruik wat tot jou beskikking is. Wees trots op dit wat jy produseer en bly gemotiveerd om hoër te vlieg.
Só meen Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas Trywell in Carnarvon, ’n omgewing waarvoor hy werklik lief is. Hy boer op vier plase: Op die een boer hy met Dohne Merino’s, wat hy as sy stokperdjie beskou, en op die ander drie met Witdorpers.
Hy het vanjaar baie goed in die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) se Lamb Champs-kompetisie op Graaff-Reinet presteer en was die naaswenner van die Noord-Kaapse Jongboer van die Jaar-kompetisie. Sy Karoo-lamsvleis is selfs by die parlementsete in Februarie bedien. Hy dien op die direksie van die Karoolam Konsortium en is ook ’n bestuurslid van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Noord-Kaap. Wanneer jy met hom gesels, kom jy gou agter dat dit ’n talentvolle jong man is wie se skaapboerdery hom na aan die hart lê.
Droë- of wonderwêreld
Diegene wat al deur die Karoo gery het, sal wonder wat so spesiaal aan hierdie stuk aarde kan wees, maar volgens Sybrand is dit die ideale omgewing waarin skape met min reën moddervet kan word. “Carnarvon is ’n baie lekker distrik om in te boer, want selfs tydens droogtes kan ’n mens nog op bossieveld staatmaak en is dit nie nodig om so vroeg al te begin voer nie. Die diere is ook baie goed by die omgewing aangepas. Skape het al in wintertemperature van tot -8°C gelam, en die lammers het oorleef.”
Hy vertel onder meer van ’n proef wat hy saam met prof Philip Strydom van die Universiteit Stellenbosch gedoen het. Hulle het ’n trop lammerooie in drie groepe verdeel: Een groep het net in die veld gewei, die tweede het beide veld en voer gekry, en die derde net voer. Die uiteinde was dat die groep in die veld die beste gegroei het. Daarom kan Karoolam Konsortium-lede met trots hul diere van die veld af bemark.
Boer in pas met die natuur
As Karoo-boorling is droogtes nie vir hom vreemd nie, en daarom poog hy om in pas met die omgewing te boer. Hy het by sy pa geleer om sy veld met passie te versorg en het sy weidingsprogram aangepas om hierdie ideaal te bereik.
“Ek deel my weidingsprogram in vier seisoene op. Een kamp word in die lente bewei en rus in die somer en herfs, waarna dit weer in die winter bewei word. In my stelsel moet elke kamp vir drie jaar bewei word en een jaar rus. Dit help om redelike drukbeweiding op die veld toe te pas, maar die veld kry weer genoeg tyd om te herstel. In die Karoo kan ons nie bekostig om te streng drukbeweiding toe te pas nie, omrede die omgewing en reënval net nie geskik is daarvoor nie.”
Sybrand glo dit is belangrik om saam met die natuur te boer ten einde die veld se biodiversiteit te verbeter. “Ek glo nie daaraan om onnodig jakkalse te jag nie, hoewel ek predasiebestuur sal toepas mits ’n ernstige probleem ontstaan. As die biodiversiteit op die plaas goed is en daar is genoeg kos vir muise en hase, het ek nie ’n probleem met jakkalse wat skape vang nie. ’n Jakkals verkies om wild te vang en het sy doel in die ekosisteem. Ek glo nie daaraan om een element uit te haal nie.”
Om die biodiversiteit op die plaas te verbeter, het hy en buurman, Ryan Tippet, begin om mense bewus te maak van vreemde diere, voëls en insekte wat in die omgewing voorkom. Hulle het op sosiale media ’n groep gestig waarvan meer as 200 mense reeds lede is. As iemand iets interessant in die veld opmerk, kan hulle ’n foto daarvan neem en dit op die groep plaas. Ryan doen gewoonlik die navorsing om lede in te lig oor die dier, insek of voël wat hulle gesien het. “Op dié manier kan ons mense van die natuur bewus maak en hulle motiveer om ons omgewing op te pas.”
Proewe verbeter boerdery
Die verbetering van sy veld het reeds goeie vrugte afgewerp. Hy werk saam met die Landbounavorsingsraad (LNR) in die Wes-Kaap, wat gereeld opmetings op sy plaas doen. Plase in die Carnarvon-omgewing se drakrag is sowat 32ha/GVE (grootvee-eenheid), terwyl dit op Sybrand se plaas 20ha/GVE is.
Hy gebruik ook proewe om sy boerdery te verbeter. Hy en Tippet beplan om binnekort ’n proef oor drukbeweiding te begin. Hy is intussen by ’n studiegroep betrokke wat vyf-jaar toetse op Gys van Wyk – wat buite Carnarvon boer – se wolskape doen. Tydens dié toetse gee elke produsent tien ooie van verskillende rasse en Van Wyk boer op dieselfde manier met hulle almal. Die doel van die projek is om te bepaal wat die mees ekonomiese ooi is wat beste in die omgewing sal aard.
“Dit is verbasend hoeveel tipes skape uit net een ras in die Carnarvon- en Williston-omgewings voorkom. As deel van die projek word gekyk na onder andere die groei van die ooi, hoeveel wol afgeskeer word en watter tipe lam daardie ooie jaarliks lewer. Die gemiddeld van elke wolskaap binne die groep en ras word ook bereken.” Sybrand is betrokke by allerlei projekte wat in sy omgewing aangebied word. Hy glo elke distrik behoort sy eie proewe te doen om die beste resultate tot voordeel van daardie omgewing te verkry.
Slim seleksie met stelsels
Dit is vir hom belangrik om genoeg data oor sy boerdery in te samel om ingeligte besluite te kan neem. Dus het hy vir hom ’n radiofrekwensie-identifikasie (RFID)-stelsel ontwerp. “Ek sien potensiaal in rekordhouding, daarom sal ek my hand diep in die sak steek om korrekte langtermyndata te gebruik om doeltreffende seleksies te maak. Gevolglik kry ek my geld terug, omdat my skape beter presteer.
“Ek het sowat 2 000 ooie op die stelsel. Danksy dié manier van doen kan ek presisieboerdery op my ekstensiewe boerdery begin toepas. Elke jaar word die swakste diere uitgeskot en word die kudde mettertyd verbeter. Ek teel ook my eie ramme, maar sal so een keer in vyf jaar nuwe Dorperramme aankoop. Ek koop meer gereeld ramme vir die Dohne Merino-kudde aan, omdat my kudde nog baie jonk is.”
Raak betrokke
Sybrand moedig produsente aan om by organisasies en geleenthede in hul omgewing betrokke te raak. Hy vertel dat hy by die Karoolam Konsortium en RPO betrokke geraak het, juis omdat dit voordelig vir skaapprodusente in sy omgewing is. “Ek glo produsente moet hande vat. Hoewel elke organisasie se doelwitte verskil, kan hulle mekaar ondersteun – solank daar iemand is wat daardie brug kan wees.”
Hy en ’n paar vriende het onlangs begin om self hul skaapvleis onder die handelsmerk Lamb and Legacy te bemark, wat groot belangstelling gewek het. Dit is belangrik om die regte inligting aan verbruikers te voorsien, en daarom het hulle ’n webblad gestig waarop insiggewende inligting oor rooivleis sowel as die gaarmaakmetodes van verskeie snitte beskikbaar is.
Sybrand is ’n noemenswaardige leierfiguur in die skaapbedryf. Onder sy sagmoedige geaardheid skuil ’n gedugte produsent wat die toekoms van die skaapbedryf in die Karoo aanspoor. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Sybrand Venter by 082 781 1689.