Thursday, September 12, 2024
HomeMagazinesKroon Vee Brahmane: ’n Ekstensiewe stoet wat intensief bestuur word

Kroon Vee Brahmane: ’n Ekstensiewe stoet wat intensief bestuur word

-

Estimated reading time: 8 minutes

  • Die grootste en een van die vrugbaarste Brahmanstoeterye in die land loop onder ekstensiewe toestande op weivelde suidoos van Vryburg. Die bestuur van hierdie stoet is egter intensief.
  • Die Kroon Vee Brahman-stoetery vier vanjaar sy vyftigste bestaansjaar.
  • Al die besonderhede van elke dier is op rekenaar beskikbaar. Die evaluering van elke bees begin net ná geboorte.
  • Elke bul wat hulle in die stoetery gebruik word in ’n kampstelsel geplaas, en koeie word dan sorgvuldig uitgesoek en by ’n spesifieke bul gesit om vordering na hul teeldoelwit te verseker.
  • Weidingsverbetering deur goeie weidingsbestuur word toegepas om produksie en winsgewendheid te verhoog.

Die grootste en een van die vrugbaarste Brahmanstoeterye in die land loop onder ekstensiewe toestande op weivelde suidoos van Vryburg. Die bestuur van hierdie stoet is egter intensief, met ’n groot databasis wat naspeurbaarheid en winsgewendheid tot ’n hoër vlak neem en dit makliker maak om aan die vereistes van die kopersmark te voldoen. ’n Unieke evaluasie- en seleksieprogram sorg daarvoor dat elke bees voortdurend geëvalueer word om genetiese doeltreffendheid en fenotipiese korrektheid te verseker.

Read it in English.

Die Kroon Vee Brahman-stoetery vier vanjaar sy vyftigste bestaansjaar, en hoewel nuwe tegnologie en metodes volgehoue vordering verseker, is die kundigheid en ondervinding wat oor dekades opgebou is die ruggraat van dié stoetery.

Klein begin tot vóór in die mark

In 1972 het Jan, toe hy nog in standerd agt (vandag graad tien) was, die Kroon Vee-stoetery met vyf koeie en ’n bul begin. In 1986 het hy en sy vrou, Irma, hulle by Vryburg in die hartland van vleisbeesboerdery kom vestig en die stoet stelselmatig uitgebrei. Intussen het hul twee seuns, Gideon en Jan jr, by die boerdery aangesluit en vandag boer hulle met een van die grootste stoetkuddes in Suid-Afrika.

In die beginjare was dit moeilik om as nuwe en onbekende teler teeldiere te verkoop, en moes hulle sterk op doeltreffende vleisproduksie fokus om winsgewend te boer en uit te brei. Deur die ras se swakpunte uiteindelik die sterkpunte van hul Kroon Vee-kudde te maak en goeie naverkopediens te bied, het hulle ’n gevestigde koperskorps opgebou wat hul teeldiere met vertroue en welslae gebruik.

Lees meer oor Brahmanbeeste hier.

Die sterk vleisproduksie-eienskappe wat sedert die beginjare gevestig is, bly die anker wat hulle op die voorpunt van doelgerigte teling hou.

Kopers is vir hulle die belangrikste beoordelaars van hul diere. Daarom word daar ná elke veiling gekyk na die diere wat die hoogste pryse behaal het en die redes daarvoor word geëvalueer, sodat hulle markgerig kan bly teel. Dit is veral die tipe bul wat speenkalfprodusente graag wil gebruik, wat ’n sterk invloed op hul paringsbesluite het.

Voortdurende evaluasie

Al die besonderhede van elke dier is op rekenaar beskikbaar. Die evaluering van elke bees begin net ná geboorte. Die kalf word eerste beoordeel volgens lewenskragtigheid en dan vir bouvorm om swak- en sterkpunte te identifiseer. Dan word daar na die koei en bul gekyk om te sien of die kalf uit die betrokke paring ’n verbetering is en of die paring die gewenste uitwerking gehad het.

Die kalf sal bepaal of die koei weer met dieselfde bul gepaar gaan word, ’n ander bul gebruik moet word en of ’n vers haar moet vervang. Vir hulle is dit juis hier waar die kuns van teling en die wetenskap ontmoet.

Elke bul wat hulle in die stoetery gebruik word in ’n kampstelsel geplaas, en koeie word dan sorgvuldig uitgesoek en by ’n spesifieke bul gesit om vordering na hul teeldoelwit te verseker. Vrugbaarheid, goeie groei, temperament, langslewendheid, aanpasbaarheid en gehardheid is die eienskappe wat vir hulle belangrik is.

Lees meer oor aanvullings vir oorwintering van grootvee hier.

‘n Rendement op vleiskapitaal bly hul belangrikste bestuursbeginsel. In kort beteken dit hoeveel netto kilogram vleis hulle per kilogram vleisbelading op die plaas produseer. Met dié inligting kan hulle selfs die winsgewendheid van osproduksie met koeiproduksie vergelyk en ook sien hoe hul winsgewendheid oor rasse heen vergelyk.

Die eienskappe wat winsgewendheid die grootste hupstoot gee, bly vrugbaarheid, kuddegesondheid en biosekuriteit, want een fout met ‘n siekte soos besmetlike misgeboorte, trigomonose of selfs bek-en-klouseer kan vernietigend wees.

Sonder betroubare data rakende gewigte, vrugbaarheid en produksie kan ’n mens ook nie bestuursinligting kry om te gebruik om die onderneming te verbeter of te laat groei nie. Al die diere word vier maal per jaar in Februarie, Mei, Augustus en November geweeg. Die speen van kalwers, inentings en kudde-evaluasie koördineer hulle hiermee.

’n Voordeel van dié stelsel is dat alle diere optimaal geëvalueer kan word aan die hand van hul nageslag en produksierekords, en dit doen hulle elke keer wanneer kalwers gespeen word.

Lees meer oor ‘n meer natuurlike benadering tot veeboerdery hier.

Evaluasie en uitgroei van kalwers

Elke bul se bul- en verskalwers word geskei en langs mekaar in die veilingskrale gesit. Dit is wanneer hul bestuurspan en werkers betrek word om die groepe kalwers te evalueer en bepaal watter bulle die gewenste nageslag produseer. Dit is veral die werkers wat die beeste daagliks versorg en in die veld waarneem, wat soms kenmerke uitwys wat misgekyk kan word.

Die evaluasie van die groepe is eintlik ’n evaluering van die bul. Die vaars van die beste groepe kry gewoonlik meer koeie, terwyl die swakker bulle uitgeskot en vervang word.

Daarna word elke kalf in elke groep beoordeel. Daar word veral gekyk na temperament, skedes en naelvelle, bouvorm en gekorrigeerde speengewigte. Swak presteerders word uitgeskot en die swakker groeiers en hul moeders word dan ook uitgehaal. Wanneer hulle die kalwers speen, word elke koei ondersoek om te bepaal of sy weer dragtig is. Sy moet dragtig wees wanneer haar kalf gespeen word.

Smoor geslagsiektes onder jou kudde so.

Die kalwers wat behou word gaan na buiteplase, waar hulle elke drie maande geweeg word om hul groei onder natuurlike toestande te meet. Die verse word gedek as hulle sowat 18 maande oud is en tussen 340 en 360kg weeg. Die verse word apart gehou en ná hul tweede kalwing in die koeistelsel opgeneem.

Die bulle groei op natuurlike weidings uit en word op die jaarlikse veiling aangebied as hulle sowat drie jaar oud is. Tydens die afrondingstydperk voor die veiling stap die bulle minstens 2km per dag om te verseker dat hulle fiks bly, spiere bou en nie vet neerlê nie. Fiksheid verbeter ook die gehalte van hul semen, sê Jan jr, wat hierdie afdeling bestuur.

Die noukeurige rekordhouding van elke dier en die gebruik van moderne hulpmiddels verseker naspeurbaarheid. Dit stel hulle in staat om diere wat presteer goed aan te wend, en diere wat teleurstel nie onwetend oor en oor te gebruik nie.

Weidingsbestuur

Weidingsverbetering deur goeie weidingsbestuur word toegepas om produksie en winsgewendheid te verhoog. Daar is ’n klompie kampe waar baie rooigras welig groei. Dit is een van die swakker grasspesies wat die beeste nie so goed benut as die natuurlike vingergrasse nie. Baie van die rooigras sny hulle jaarliks om die ou materiaal te verwyder, groei te stimuleer en veldgehalte te verbeter. Die gesnyde gras gebruik hulle dan as hooi in die afrondingsprogram vir die bulle.

Om weidings doeltreffend te bestuur, beraam hulle elke jaar teen die einde van die reënseisoen in Mei hoeveel gras beskikbaar is en hoeveel diere dit kan dra. In goeie jare is die belading een grootvee-eenheid (GVE) per 9ha. Met dié stelsel kan hulle betyds vir swakker reënjare beplan.

Lees meer oor grondwaardering hier.

Die mark en toekoms van Brahmane

Nuwe markgeleenthede word ook voortdurend ondersoek. Deur ’n gedeelte van die uitskot-bulkalwers as osse op die veld markgereed te maak, is weidingsbestuur meer soepel. Dit help ook dat hulle die voordele van nougesette seleksie oor dekades vir ekonomies belangrike eienskappe self kan benut.

Hulle glo die toekoms van Brahmanbeeste lê in Afrika, waar die beperkings van bek-en-klouseer ’n kleiner uitdaging as in die res van die wêreld is. Dit is ’n mark wat volgens hulle beslis ontgin kan word.

Lees meer oor volhoubare veldbestuur in soetveldgebiede hier.

Gideon en Jan jr glo die Brahman is veral voortreflik in enige kruisteelprogram. Hulle beplan om die welslae wat tot nou toe behaal is, verder uit te bou deur hulpmiddels soos kunsmatige inseminasie en embrio-oorplasing te gebruik om geneties vinniger te vorder.

’n Waardevolle les wat hulle by bul pa geleer het, is dat hulle baie beeste het, maar net een naam. Hulle wil die naam, Kroon Vee, met integriteit en deursigtigheid beskerm en die leuse dat ‘as jy dit kan droom, kan jy dit doen’ met passie uitleef. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Jan van Zyl by 082 444 5222 of jan@kroonvee.com, of besoek www.kroonvee.com.

Must Read

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae oor onder andere, die voedingswaarde...
Chris Schutte and his wife Reinette Schutte with AFMA chairperson Anina Hunter. Schutte received the Lifetime Achievement Award.

AFMA honours excellence