Veeboere in groot dele van die land gaan dié winter met geil weidings in hul kampe tegemoet ná wydverspreide, goeie reën. Die voedingswaarde van dié oorvloedige weiding kan egter misleidend wees, en kan die winsgewendheid van ondernemings knou. Die regte voedingsaanvullings kan dié probleem hokslaan.

Voeding bly een van die belangrikste bestuurbare faktore vir reproduksie in ’n veekudde, sê dr Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder: herkouers, by Nutri Feeds. Hy sê dit is belangrik om te onthou dat ’n gebalanseerde voedingsprogram, wat gereeld by die toestand van beskikbare weidings en die produksiestadia van diere aangepas word, eerder die oplossing is as om op ’n enkele voedingstof te fokus.

Dit is noodsaaklik dat die tekorte aangevul word om optimale produksie te verseker, sonder dat koste uit die oog verloor word. Daarom word die samestelling van die byvoeding vir spesifieke tye van die jaar verander en is die raad van ’n voedingkundige goud werd.

Aanvullings vir oorwintering

Voedingsaanvullings vir vee wat op natuurlike weidings oorwinter, vloei voort uit die aanvullingsprogram wat in die vorige somer en herfs gevolg is en smelt weer saam met byvoeding ná die winter. Genoeg droëmateriaal in die vorm van weiding of hooi moet deur die hele winter beskikbaar wees en die produksiestelsel behoort by die beskikbaarheid van droëmateriaal aangepas te word. Waar oesreste beskikbaar is, moet die byvoeding by die voedingswaarde van die reste aangepas word.

Volgens die Landbounavorsingsraad (LNR) se standaarde, benodig ’n droë koei van 450kg sowat 4kg energie en 0,75kg proteïen per dag net om haar te onderhou. Sowat twee maande voordat sy moet kalf, is haar voedingsbehoefte nagenoeg 25% hoër en haar behoefte aan proteïen verdubbel gewoonlik in dié tyd.

Diere vreet selektief en het ’n voorkeur vir grasspesies met ’n hoë voedingswaarde. Die eienskap kom veral na vore waar gespaarde kampe in die winter bewei word en vee in staat is om ’n relatiewe hoë persentasie proteïen uit die droë veld te benut. Namate die voedingswaarde, smaaklikheid en verteerbaarheid van die gras afneem, neem die diere eenvoudig nie meer genoeg droëmateriaal in om in hul onderhoudsbehoeftes te voorsien nie, en is ’n proteïenlek in die wintermaande nodig.

Weidings is die goedkoopste voedingsbron vir vee. Met die goeie reëns oor groot dele van die land gaan veeboere die winter in met ’n hoë opbrengs ruvoer op weidings wat normaalweg uit eenjarige en meerjarige grasse bestaan.

Een- vs. meerjarige grasse

Eenjarige grasse – tipiese soetveld – behou hul voedingswaarde beter deur die hele jaar. Dié grasse plant voort deur saad te stort wat in die volgende gunstige tyd ontkiem en nuwe plante vorm. Dié grasse word ook gewoonlik eerste deur die vee benut en sonder goeie weidingsbestuur kan dit maklik oorbenut word en uitsterf. Dan neem die drakrag van die weidings af en meerjarige gewasse begin oorneem.

Meerjarige grasse het normaalweg ’n baie hoë voedingswaarde tydens die reën- en groeityd, tot en met blomtyd. Daarna word die voedingstowwe weer na die wortels verplaas, sodat die pol die droë tyd kan oorleef. Die blare en stingels wat dan beskikbaar is, is baie veselagtig en verteer moeilik.

In goeie reëntye groei die gras ook baie weliger en bereik dikwels tot twee keer hul normale lengte. Om die gras regop te hou, groei die stingels dikker en is sulke materiaal in die winter nog méér onverteerbaar.

In die wintermaande neem die voedingswaarde, smaaklikheid sowel as die verteerbaarheid van die gras af en is dit die tyd wat die diere gewoonlik hul kondisie verloor. Om maer diere en diere in ’n dalende kondisie in die winter met byvoeding te probeer reg dokter, is duur en meestal onsuksesvol.

’n Lekprogram vir die hele jaar

Die welslae van oorwintering op veld word al in die somer gelê, wat beteken dat die lekaanvullingsprogram vroeg al oordeelkundig beplan moet word. Diere behoort die strawwe droë tyd in ’n goeie kondisie in te gaan. Voedingstekorte moet dus deur die jaar aangevul en die toediening daarvan gereeld aangepas word namate weidingtoestande verander.

Francois sê dit is daarom belangrik om fosfaat- en spoormineraalaanvulling in die somer te gee. Van April totdat die eerste ryp voorkom, behoort ’n mengsel van die somer- en winteraanvulling vir die diere beskikbaar te wees. Wanneer die lekinname beduidend begin toeneem, is dit tyd om na die winterlek oor te slaan.

In die wintermaande raak die weidings skrapser, is dit nie meer so smaaklik nie en verteer dit ook moeiliker. Aanvullings is dan nodig vir diere om hul kondisie te behou.

Vir baie produsente gaan die uitdaging vanjaar wees om hierdie aanpassings betyds te maak, vóór die diere kondisie begin verloor, al lyk dit asof daar nog ’n oorvloed gras beskikbaar is. In die wintermaande is proteïen (stikstof) die vernaamste tekort wat diere op natuurlike weidings ondervind. Daarom is winteraanvulling in die vorm van ’n nieproteïenstikstof (NPN)-gebaseerde lek noodsaaklik.

Die oogmerk van byvoeding is om tekorte in die natuurlike weiding aan te vul en sodoende die verteerbaarheid en inname van die gras te verbeter, sê Francois. Ureum word gewoonlik in winterlekke as stikstofbron gebruik, wat die mikrobiese aktiwiteit in die rumen stimuleer. Dit lei tot beter vertering en hoër inname van die laer gehalte weiding.

Dit is belangrik om die inname van winterlek fyn dop te hou. As die beeste skielik baie meer lek vreet, beteken dit dat die veld en die spesifieke lek nie meer hul voedingsbehoeftes bevredig nie. Die diere moet dan na ’n ander kamp verskuif word of die lek moet aangepas word.

Aanvulling vir die koeikudde

Met die konvensionele dektyd in die somer, beteken dit dat koeie teen die einde van die winter swaar dragtig is en hoër voedingsbehoeftes het. Kalwers kom ook gewoonlik aan voor die eerste reën val, wanneer die weidingsgehalte nog swak is. Dragtige diere, koeie wat kalwers het en jong, groeiende diere behoort dan ’n produksielek te kry wat ekstra energie sal verskaf.

Wanneer die somer aanbreek, moet die koeie se kondisie ’n stygende neiging hê om te verseker dat hulle ’n goeie kans op herbesetting het. In dié tyd soog hulle ook kalwers, en soos wat die kalwers groei en meer energie uit die koeie tap, begin die nuwe fetus ook te groei.

Daar moet dus deurentyd aandag gegee word om die koeikudde, wat die fabriek van die vleisbeesboerdery is, só te voed dat hul genetiese potensiaal ten volle verwesenlik word, deur ’n produksielek te bly voorsien totdat die veld hulle weer kan onderhou. Met goeie weidings behoort ’n fosfaatlek in die somer voldoende te wees.

’n Tekort aan energie en ’n wanbalans tussen energie en proteïen en ander voedingstowwe, is waarskynlik die grootste enkele oorsaak van swak reproduksie by vee. Energie is belangrik vir groei, seksuele volwassewording, follikel-ontwikkeling, ovulasie, oestrus en onderhoud van die plasenta en ander verwante organe tydens dragtigheid. Energiewanbalanse lei ook dikwels tot metaboliese steurnisse wat aborsies en lae kalf-/lamoorlewing kan veroorsaak.

Net so beïnvloed proteïen die groei en volwassewording van reproduksie-organe en hormoonproduksie, wat proteïenvoorsiening volgens behoefte noodsaak. Wanneer na reproduksie gekyk word, sê Francois, moet veeboere seker maak ál drie lekke (somer-, winter- en produksielek) voldoen aan die behoeftes vir die betrokke produksiestatus teenoor wat die veld in daardie seisoen verskaf.

Vitamiene en minerale

Die rol van vitamiene moet nie onderskat word nie. Dit is wyd bekend dat vitamien A ’n belangrike rol in reproduksie speel en daar is veral in die droë tyd nie genoeg daarvan in weidings nie. Vitamien E speel ’n geringer rol, maar dit is ook belangrik, omdat dit die opname van ander voedingstowwe soos selenium beïnvloed.

Heelwat minerale soos fosfaat, sout, magnesium, koper, sink, molibdeen, mangaan, kobalt, ensovoorts, is ook deurslaggewend vir die opneembaarheid van voedingstowwe en die onderhoud en reproduksie van diere.

Talle voedingstowwe is regstreeks by reproduksie betrokke en kan nie in afsondering beskou word nie. Die voedings- en lekprogram van enige veekudde moet gebalanseerd wees en in samewerking met ’n voedingkundige beplan word. – Deur Andries Gouws, Veeplaas