Tuesday, December 16, 2025

Hou jou windpomp aan die draai

Estimated reading time: 4 minutes

  • Daar is baie maniere om water uit die grond te kry, maar die tradisionele windpomp bly die maklikste en goedkoopste metode.
  • ‘n Windpomp moet ten minste twee keer per jaar gediens word.
  • Daar moet seker gemaak word dat die remkatrol nie geroes of beskadig is nie.
  • As die draaitafel se dele goed nagegaan is, kom die toringdop aan die beurt.
  • Dit is nuttig om sekere onderdele in voorraad te hou voordat jy begin met jou roetine-instandhouding van windpompe.

Daar is baie maniere om water uit die grond te kry, maar die tradisionele windpomp bly die maklikste en goedkoopste metode. En as dit boonop goed in stand gehou word, kan dit vir baie jare goeie diens doen.

Johan Barnard van Southern Cross Industries, ’n maatskappy wat windpompe vervaardig, sê hy glo die windpomp moet ten minste twee keer per jaar gediens word. “Dit is veral belangrik dat windpompe in Maart en September nagegaan word, omdat die wind gewoonlik sterk waai in Februarie en Augustus, en daar maklik partikels in die kop van die windpomp kan beland, wat weer die werkende dele kan beskadig,” gesels hy.

Begin by die remkatrol

Johan sê hulle het al geleer dat ’n windpomp van onder na bo gediens moet word. Die eerste stap, verduidelik hy, is om die remkatrol en sy ketting na te gaan. Hierdie is die begin van die remstelsel wat noodsaaklik is om die windpomp te beskerm teen winde wat teen meer as 45km per uur waai.

Daar moet seker gemaak word dat die remkatrol nie geroes of beskadig is nie. Dit is ook nodig om die ketting en sy koppeling aan die remkabel na te gaan vir enige skade wat sy werking kan vertraag.

Lees meer oor watervoorsiening in ekstensiewe veestelsels.

Die draaitafel

Die tweede stap is die draaitafel. Johan verduidelik dat hierdie gedeelte van die windpomp baie belangrik is. “Die hele windpompkop moet in die rondte kan draai na gelang van die wind se rigting. Dit is dus belangrik dat die koeëllaers (bearings) waarop dié kop rus, goed gesmeer is. Daarom moet die ghrieskoppie, wat aan die laers genoeg smering verleen, volgemaak word.

Die toringdop

As die draaitafel se dele goed nagegaan is, kom die toringdop aan die beurt. Daar is ook ’n ghrieskoppie wat gevul moet word. Die toringdop stabiliseer die windpompkop en moet daarom sorgvuldig nagegaan word.

“Die volgende stap is om die windpompkop te verwyder en die olie te dreineer. Die kop kan met verdunner (thinners) uitgewas word en die hoof-as se laers, ratte, tandwielratte en tandwieldraers moet nagegaan word vir defekte. As alles in orde is, word die kop weer met olie gevul,” verduidelik hy.

Johan het beklemtoon dat jy skoon olie in die kop moet gebruik en nie ou, vuil olie wat uit trekkers, vragmotors of motors getap is nie.

Wiel en stert

Die laaste stap wat Johan aanbeveel is om die wiel en stert van die windpomp en sy onderdele na te gaan. Hy sê hier is dikwels geroeste of verlore moertjies of boudjies wat vervang moet word.

“Hierna beweeg ons af na die toring en sorg dat alle verlore of geroeste boudjies vervang of afgeskuur en geverf word, sodat die windpomp weer vir nog ’n klompie maande kan sorg dat jou diere water kry.”

Lees meer oor hoe wildboere water aan wild voorsien.

Hou onderdele byderhand

Johan sê ook dat die meeste plase ver van die dorp geleë is en produsente nie altyd die regte onderdele het wat vervang moet word nie. In sy ervaring is dit nuttig om sekere onderdele in voorraad te hou voordat jy begin met jou roetine-instandhouding van windpompe.

Die onderdele wat hy voorstel, en wat dikwels vervang moet word, is die klein ratte, tandwielratte, bearings, hoof-as, sy-arms, asook die kruis-assie. Dit is die basiese onderdele wat as gevolg van slytasie kan breek en veroorsaak dat jou windpomp nie meer behoorlik werk nie. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Johan Barnard by 051 434 3861.

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...