Beskerm só jou vee teen respiratoriese siektes

Estimated reading time: 1 minute

Respiratoriese siektes is multifaktoriaal en ontstaan weens komplekse interaksies tussen aansteeklike organismes soos bakterieë, virusse en parasiete.

Respiratoriese siektes vereis ’n omvattende begrip en voortdurende aandag, veral wat oorsake, risikofaktore, inentingsprogramme en veeartsenykundige behandeling betref.

Dr Andy Fraser, stigter en direkteur van Rooiberg-veeartsenydienste in Limpopo, sê respiratoriese siektes is een van die grootste gesondheidsuitdagings wat vee in Suid-Afrika en sub-Sahara Afrika raak.

Respiratoriese siektes is multifaktoriaal en ontstaan weens komplekse interaksies tussen aansteeklike organismes soos bakterieë, virusse en parasiete. Hulle affekteer die boonste en onderste lugweë, en sluit akute en kroniese vorme van longontsteking, emfiseem en interstisiële longsiektes in.

Suid-Afrikaanse veeproduksiestelsels wissel van uitgebreide weidingstelsels tot intensiewe voerkraalomgewings waar respiratoriese toestande dikwels met weerskommelings, vervoerstres, voedingstatus en gesondheidsbestuurspraktyke geassosieer word.

Oorsake van respiratoriese siektes

  • Bakteriese longontsteking: By skape en bokke is Mannheimia haemolytica, Pasteurella multocida en Bibersteinia trehalosi vir pneumoniese pasteurellose verantwoordelik. By beeste dra organismes soos die Pasteurella– en Mannheimia-spesies, Mycoplasma bovis en Histophilus somni tot beesrespiratoriese siektekompleks by.
  • Virale respiratoriese siektes: Besmetlike beesrinotrageïtis wat deur beesherpesvirus 1 veroorsaak word, kom tipies by voerkraalbeeste voor. Virusse soos beesrespiratoriese sinsitiale virus en parainfluensa-virus tipe 3 verswak die longe se natuurlike verdedigingstelsels en verhoog die risiko van sekondêre bakteriële infeksies.
  • Parasitiese respiratoriese siektes: Longwurminfeksies, soos dié wat deur Dictyocaulus-spesies veroorsaak word, lei tot parasitiese brongitis wat tot inflammasie, hoes en asemnood lei. Die voorkoms van hierdie siektes is dikwels seisoenaal en word deur weersomstandighede beïnvloed.
  • Kroniese en spesifieke toestande: Sommige respiratoriese probleme word met bestuurspraktyke of omgewingsveranderinge geassosieer. Skielike dieetveranderinge kan akute longemfiseem en edeem by beeste veroorsaak. Snotsiekte is ‘n virussiekte wat met respiratoriese tekens geassosieer word, veral in gebiede waar beeste, skape of wildebeeste saam wei.

Risikofaktore

Dr Fraser sê respiratoriese siektes by vee kom selde in isolasie voor en is gewoonlik die gevolg van talle interaksies tussen risikofaktore.

  • Omgewings- en bestuursverwante risiko’s: Toestande soos spanning weens vervoer, speen, oorbevolking en skielike weersveranderinge kan die immuunstelsel onderdruk en diere se vatbaarheid vir infeksies verhoog. Swak behuising, insluitend onvoldoende ventilasie, oormatige stof en hoë humiditeit, verhoog die risiko verder deurdat dit die oorlewing en inasem van patogene bevorder.
  • Voedingsfaktore: Onvoldoende voeding benadeel immuunfunksie en affekteer die dier se vermoë om respiratoriese infeksies teen te werk, asook om te herstel.
  • Gasheer- en kuddefaktore: Ouderdom is ’n belangrike bepalende faktor en jong diere is veral kwesbaar as gevolg van hul onderontwikkelde immuunstelsels.
  • Gelyktydige infeksies: Virus- of parasietinfeksies wat terselfdertyd voorkom, kan longverwante siektevoorkoms vererger.
  • Produksiestelselstressors: In uitgebreide weidingstelsels kan lang afstande tussen weiding of water fisiologiese spanning veroorsaak, wat die risiko van longontsteking verhoog.

Inentingstrategieë

Immunisering is die hoeksteen van respiratoriese siektebeheer by vee, maar moet altyd in oorleg met jou kuddeveearts en op grond van goeie bestuurspraktyke geskied. Behoorlike tydsberekening, skraagdosisse en volledige kuddedekking is noodsaaklik vir doeltreffende inenting. Serologiese monitering en veterinêre bystand is nodig om inentingsprogramme volgens jou plaas se risikoprofiel op te stel.

Wat siektebehandeling en bestuur betref, verduidelik dr Fraser, kan terapeutiese en antimikrobiese ingryping oorweeg word. Toepaslike antibiotika wat op kultuur- en sensitiwiteitstoetse gebaseer is, kan besmette diere red en siekteverspreiding beperk. Antimikrobiese middels wat onder veterinêre toesig toegedien word, verminder die risiko van weerstandigheid en residu’s.

Biosekuriteit en kuddebestuur

Dr Fraser beklemtoon die belangrikheid van doeltreffende biosekuriteitsmaatreëls soos die kwarantyn van nuwe of siek diere, gereelde kuddegesondheidsmonitering en beperke kontak met wild of ander vee om siekte-oordrag tussen spesies te voorkom.

Aangesien dit ’n groot gesondheids- en ekonomiese risiko inhou, is ‘n holistiese benadering nodig:

  • Ontwikkel ‘n deeglike begrip van die oorsake.
  • Gee aandag aan omgewings- en bestuursverwante risikofaktore.
  • Gebruik doelmatige inentingsprogramme.
  • Veterinêre behandeling en die gebruik van antimikrobiese middels moet oordeelkundig geskied.
  • Monitor jou kudde se gesondheid deurlopend.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan dr Andy Fraser by andy@rooibergvet.co.za of skakel 082 776 8853.

Voedingsteurnisse tydens speen

Estimated reading time: 7 minutes Speenskok kan verminder word deur speenfases geleidelik te implementeer pleks...

Regenerative, sustainable dairy and beef farming in synchronised action

A milking parlour and a beef cattle herd exclusively aimed at profitability, sustainability, and...

Bluetongue in sheep: The midge in the ointment

Estimated reading time: 7 minutes The only reliable method of preventing bluetongue in sheep is...

The wild side of nutrition

Estimated reading time: 4 minutes Various game animals roam the vastly different landscapes of South...