Estimated reading time: 7 minutes

Water is vir feitlik elke liggaamsfunksie van veediere nodig. Daarom is voldoende skoon, vars water wat deurentyd beskikbaar is, noodsaaklik vir die produksie, gesondheid en welsyn van vee.

Lees hier van watervoorsiening in intensiewe veestelsels.

Beeste en skape kan twee tot selfs drie weke sonder kos oorleef, maar hoogstens twee tot drie dae sonder water. In groot dele van Suid-Afrika kom hittegolwe dikwels voor en dan is aansienlik meer drinkwater nodig om die hittespanning te verlig.

Navorsers aan die Universiteit van Kentucky in Amerika skryf dat die voordele van oorvloedige skoon water onder meer die inname van droëmateriaal en daaglikse gewigstoename verhoog, melkproduksie verbeter, die risiko van siektes verlaag en sorg vir beter misverspreiding. Diere wei meer doeltreffend, wat weidingsbestuur vergemaklik.

Johan Barnard van Southern Cross Industries sê water is van uiterste belang vir die beheer van diere se liggaamstemperatuur, die inname van voedingstowwe, verwydering van afvalstowwe uit die liggaam, gewigsbeheer en dieregesondheid.

Suid-Afrika is oor die algemeen ’n droë land waarin die meeste veeboere op ondergrondse water aangewese is. Die uitdaging is nie net om water te verkry nie, maar om dit in diere se krippe te kry, wat vinnig ‘n duur storie kan raak.

Waterbeplanning in Suid-Afrika

In verskeie dele van die land is bo- en ondergrondse water besoedel. Soms kan vee dit glad nie benut sonder dat dit gesuiwer word nie. In groot dele van die Karoo en veral in die Noord-Kaap, waar ’n knellende droogte al ’n dekade en langer duur, het die ondergrondse water opgedroog en moet produsente water vir hul vee aanry. Van die kuddes is al feitlik tot niet.

Hy sê watervoorsiening moet deeglik beplan word. In Suid-Afrika is dit dikwels ’n geval van die getal diere wat by die beskikbare water aangepas moet word, eerder as andersom. Daar moet deeglik bereken word hoeveel water beskikbaar is en waar die bron geleë is in verhouding tot waar die water benodig word.

Dit is juis omdat die water nie so geredelik beskikbaar is nie, dat kilometers pypleiding dikwels nodig is om die water op al die punte op die plaas te kry. Gewoonlik moet damme op strategiese plekke opgerig word om water te versamel. Die op en af van duine en rante maak vloeibeheerkleppe, en soms selfs bykomende pompe, ’n noodsaaklikheid om die water te versprei. Dit alles kan watervoorsiening duur maak.

Verskillende waterbronne

Boorgate is in groot dele van die land en veral in die droër gebiede die hoofwaterbron. Johan sê daar is verskeie tipes boorgate, elk met sy eie uitdagings. As water raakgeboor word, moet bepaal word of dit syferwater is of ’n stroom (aar) wat ondergronds vloei.

Veegetalle moet by die beskikbare water aangepas word. Skape en bokke het gemiddeld 25ℓ water per dag nodig.

Syferwater kan net gebruik word tot die water op is, dan moet die boorgat eers rus totdat genoeg water ingesyfer het om die gat weer te vul. Dit kan minute, ure of selfs ’n paar dae duur. Benutting moet daarby aangepas word.

Waar ’n aar raakgeboor is, kan groter hoeveelhede water standhoudend gebruik word. Daar is egter altyd ’n bepaalde lewering wat voorskryf hoeveel water jy per uur kan onttrek. Dit is raadsaam om nie die volle lewering van die boorgat aanhoudend te benut nie, aangesien die ondergrondse reservoir mettertyd leeg kan raak. Daarom sal die water wat beskikbaar is bepaal hoeveel vee jy daarmee kan onderhou.

As ’n boorgat 100ℓ water per uur lewer, is 2 400ℓ water oor ’n tydperk van 24 uur beskikbaar. Dit beteken dat, as niks verkeerd loop nie, die boorgat 30 beeste kan onderhou wat elkeen tot 80ℓ water per dag benodig. Dan moet die windpomp nie gaan staan nie. As ’n sonpomp wat hoogstens agt ure per dag werk gebruik word, kan die boorgat hoogstens tien beeste onderhou.

Ontginning en verspreiding

Produsente kan nie altyd kies waar die waterbron gaan wees nie en soms is ’n waterpypnetwerk van kilometers lank nodig. In so ’n geval moet die netwerk fyn beplan word om, aan die een kant, die koste laag te hou en aan die ander kant, waterpunte in weikampe só te plaas dat die diere deur die dag genoeg kan suip sonder om ver te loop. So kan optimale produksie in stand gehou word.

Op die meeste ekstensiewe plase gebruik produsente nog windpompe om water uit boorgate te kry. (Foto verskaf deur Southern Cross)

Om die water te versprei, is gravitasie die goedkoopste opsie. Dit is wanneer die bron hoër lê as die punt waar die water benodig word. Dit bring ook uitdagings, omdat die gravitasievloei soms vinniger is as wat die pomp kan lewer. Dan moet eenrigtingkleppe in die pypleiding aangebring word om lugborrels te verhoed en te keer dat die pyp toe suig.

As die bron egter laer as die leweringspunt is, moet die gewig van die water teen die hoogte uit verplaas word. Eenrigtingkleppe op strategiese plekke kan met die verplasing help, maar dikwels gaan ’n drukpomp nodig wees. Oor ’n gelyk oppervlakte kan ’n Climax-windpomp water oor sowat 5km verplaas. Hoëdigtheid klas 3- of klas 6-poliëtileenpype word aanbeveel vir die pypleidings.

Johan sê windpompe is die mees algemene gebruik om water uit boorgate te onttrek. Indien dit reg in stand gehou word, kan Southern Cross se Climax-windpomp maklik 40 jaar lank kommervry werk. Om water 60m diep teen ’n lewering van 1 000ℓ te pomp, sal so ’n windpomp saam met die koopprys en instandhoudingswerk twee maal per jaar, die boer ongeveer R5 per dag kos.

Hierteenoor behoort ’n dompelpomp wat met son- of wisselstroomkrag aangedryf word, die boer gemiddeld R17 per dag oor twee jaar kos. Johan sê hul onderneming het onlangs ook stelsels ontwikkel wat met sonkrag werk, met ’n verskeidenheid pompsterktes.

Wat die Climax-windpompsilinder uniek maak, is dat dit ook gesamentlik met sonkrag- en gewone wisselstroompompe aangedryf kan word. Sonkrag kan dan deur die dag en wind deur die nag gebruik word om deurgaans water te onttrek.

Onderhoud van die waterstelsel

Die grootste uitdagings van uitgebreide waterverspreidingsnetwerke is om lekplekke op te spoor, veral as die pype ondergronds gelê is. Diere soos meerkatte, yster- en vlakvarke kan die pype oopgrawe en dit stukkend knaag om water te kry. ’n Mens kom dikwels eers agter dat daar ’n lekplek in die pypleiding is as die waterlewering ooglopend swak raak en die dam of krippe nie meer vol raak nie. Dan begin die tydrowende soektog na die lekplek.

Om water doeltreffend vir ’n ekstensiewe veeboerdery aan te wend is nie eenvoudig nie. Omdat dit gewoonlik permanente strukture is, is dit kostedoeltreffend om ’n kundige se raad in te win en die stelsel van die begin af reg te beplan en te installeer.

Waterbronne moet nooit ten volle benut word nie, maar eerder teen sowat 75% van hul vermoë. Daar moet altyd voorsiening gemaak word vir waterverliese weens krippe wat lek, afsluitkleppe wat foutief raak en ander onderbrekings. Verdamping speel ook ’n rol. Tydens hittegolwe suip die diere meer water en is die verdamping hoog.

Skape en bokke het gemiddeld 25ℓ water per dag nodig en vleisbeeste suip gemiddeld 80ℓ per dag. Melkbeeste wat lakteer kan tot 120ℓ water per dag nodig hê. Veegetalle moet dus by die beskikbare water aangepas word, sê Johan.

Vir meer inligting, kontak Johan Barnard by 082 403 6458 of sales6@southx.co.za.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer