Estimated reading time: 6 minutes
Die belangrikste redes vir kastrasie by produksiediere is om te verhoed dat ongewenste genetika voortleef en om bestuur te vergemaklik. So sê dr Andy Hentzen van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Veeartsenykunde op Onderstepoort.
Onder die meeste omstandighede bly dit egter wenslik om nié te kastreer nie, omdat die voordele van die testosteroon in die manlike dier se liggaam, ’n uiters voordelige effek op groeiprestasie en vleisproduksie het.
Suid-Afrika se vleisproduksiestelsel is geskoei op die afronding van diere op ’n relatiewe jong ouderdom. Dit is slegs in uitsonderlike gevalle, soos met ’n os- of hamelboerdery, dat slagdiere werklik ouer as 18 maande word. In die geval van skape is dit selde dat manlike skape ouer as tien maande word voor hulle geslag word. Die ongewenste faktore kom dus selde ten volle na vore in slagdiere.

“As ’n mens ’n vinnige opsomming wil maak van die voordele van kastrasie, is die eerste beslis om te voorkom dat ongewenste genetika voortleef. Die tweede is die uitskakeling van negatiewe gedrag wat met die produksie van testosteroon gepaard gaan. Kastrasie minimaliseer daardie negatiewe gedrag van die manlike dier.
Kastrasie en vleisgehalte
“ ’n Ander rede het te make met die herhaalbaarheid van vleisgehalte. As jy byvoorbeeld 100 gekastreerde diere vergelyk met 100 ongekastreerde diere, sal die vleisgehalte in die gekastreerde groep minder variasie toon. Die rede is dat testosteroon in verskillende diere, en ook in verskillende rasse, in wisselende hoeveelhede geproduseer word.”
Hierdie laaste aspek, beklemtoon hy egter, is in die algemene Suid-Afrikaanse konteks minder belangrik, juis omdat diere hier so vroeg geslag word.
“Dit is wel waar dat wanneer ’n klomp manlike diere in ’n beperkte ruimte soos in ’n voerkraal saamgegooi word, testosteroon domineringsgedrag kan veroorsaak. Dit word hoofsaaklik gesien in die vorm van ry-gedrag, waar een dier die ander ‘ry’, asof hy hom wil dek. Hierdie gedrag het niks met seksualiteit te doen nie, maar is uit en uit ’n poging tot dominansie en is ongewens.
“Beide die dier wat die rywerk doen en die dier wat gery word, gebruik baie energie en vreet nie in daardie tyd nie. As die ryery dan tot ’n einde kom, is albei diere honger en kan hulle hulself oorvreet, wat weer tot spysverteringsprobleme lei.”
Metodes van kastrasie
As ’n mens dan móét kastreer, sê hy, is dit uiters belangrik om dit so vroeg as moontlik te doen, afhangend van die metode wat gebruik word. Indien jy ’n rekkie om die skrotum sit om die bloedtoevoer na die testes en die skrotum af te sny, moet dit binne die eerste drie dae ná geboorte gebeur.
Waar ’n burdizzo (’n tipe klamp) gebruik word om die saadstring en die bloedvoorsienende are af te knyp, moet dit binne die eerste sewe dae ná geboorte gedoen word.
’n Ander metode is die sogenaamde ‘oop kastrasie’, waar ’n stukkie van die skrotum afgesny en die testes ontbloot word, voor dit met spesiale tange afgesny word. Hier moet pynmedikasie sonder twyfel toegedien word.
“Daar is ’n vierde metode, waarna algemeen as die ‘kortsak-metode’ verwys word. Dit is waar die testes in die buikholte opgedruk word. ’n Rekkie word dan om die basis van die leë skrotumsak geplaas. Hoewel hierdie metode diere onvrugbaar maak, sal testosteroonproduksie voortduur, wat beteken dat die voordeel van die testosteroon-effek behoue bly, sonder die gevaar van reproduksie van ongewenste genetika.”
Voor- en nadele van testosteroon
Die grootste voordeel van testosteroon is groei en vleisproduksie, sê Andy. “Testosteroon is ’n androgene hormoon, wat beteken dat dit die liggaam opbou. Hierdie hormoon gebruik al die aminosure en vetsure in die liggaam as boustene om proteïen te vervaardig, wat groei en spierontwikkeling bevorder.
“Ongekastreerde diere groei dus vinniger en groter, en sit meer spiere aan as hul gekastreerde maats. Vir ons produksiestelsels hier in Suid-Afrika is dit dus uiters voordelig, want vir dieselfde hoeveelheid kos wat die diere kry, groei hulle vinniger.”
Die negatiewe effekte van testosteroon op vleisgehalte kom eers later in die dier se leeftyd na vore.
“Die rumen produseer ’n stof genaamd skatool. Dit is hierdie stof wat verantwoordelik is vir die sogenaamde ‘ramgeur’. In herkouers tree die effek hiervan op vleisgehalte eers in ’n heelwat later stadium in. Op die ouderdom waarop diere in Suid-Afrika geslag word, het dit nog geen bespeurbare effek op die smaak, kleur of sagtheid van die vleis nie. By beeste sal dit ná die ouderdom van 18 maande ’n effek begin hê, en by skape na twaalf maande.”
Om nié te kastreer nie
As ’n vleisproduserende land wat vroeg slag, is dit verseker in Suid-Afrika die moeite werd om nie te kastreer nie. Die enigste uitsondering sou in ’n os- of hamelboerdery wees.
“Die voordele daarvan om nie te kastreer nie, maak dit die moeite werd om eerder oplossings vir die nadele van ongekastreerde manlike diere in jou bestuurstelsel en infrastruktuur te vind. By skape is die voordeel in groei en karkasgewig enigiets tussen 800g en 1,2kg, terwyl dit by beeste tussen 2 en 12kg kan wees,” sê Andy.
Die oorwegende meerderheid van voerkrale, sê hy verder, verkies om ongekastreerde lammers en kalwers aan te koop.
Pynbestuur by kastrasie
Volgens die norme van pynbestuur by kastrasie wat deur die Internasionale Dierewelsynsinstituut (AWI) aanbeveel word, is die ouderdom waarop rekkies aangesit moet word, binne drie dae ná geboorte. As ’n burdizzo gebruik word, moet dit binne sewe dae gebeur. In jong diere, volgens die AWI, is die pynpersepsie nog nie so goed ontwikkel nie en is die ervaring van pyn baie minder as by ouer diere.

“Sou daar individuele diere wees wat later in hul lewens gekastreer moet word, moet pynstillende medikasie gebruik word en ’n gekwalifiseerde veearts moet die prosedure uitvoer. Hoewel dit nie wetlik verpligtend is nie, is dit wel vanuit ’n welsynsoogpunt uiters belangrik.”
Groeihormone
Wat groeihormone betref, dien testosteroon op sigself as ’n doeltreffende groeihormoon, maar as groeihormone dan nog bykomend toegedien word, sê Andy, is die effek heelwat groter. “As jy bykomende androgene groeihormone gebruik, verhoog jy die plafon van groeiprestasie by ongekastreerde diere dramaties.”
Om kastrasie – indien dit gedoen móét word – met omsigtigheid te hanteer en dit streng volgens welsynsvoorskrifte aan te pak, kan ekonomies lonend vir sommige produsente wees, sluit hy af, maar produsente sal toenemend sensitief moet wees vir verbruikers se persepsies oor praktyke op die plaas.
“Daar is ’n groeiende tendens onder verbruikers om eise te stel oor die manier waarop voedsel geproduseer word. Enige praktyk wat die persepsie van wreedheid dra, sal toenemend onaanvaarbaar word.”
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Andy Hentzen by andreas.hentzen@up.ac.za.
