HomeMagazinesDriegasheerbosluise: Pak dié bloeddorstige spesie met handskoene aan

Driegasheerbosluise: Pak dié bloeddorstige spesie met handskoene aan

Estimated reading time: 4 minutes

  • As draers van verskillende kiemspesies, kan bosluise siekteveroorsakend wees en die winsgewendheid van veeboerdery in Suidelike Afrika ernstig knou.
  • Driegasheerbosluise het ’n larf- (meer aktief gedurende laatsomer en herfs), nimf- (winter) en volwasse stadium (somer).
  • In hul volwasse stadium kom die bosluise hoofsaaklik op beeste as die hoofgasheer voor, maar hulle word wel ook gevind by bokke, skape en wild.
  • Identifiseer die bosluise wat op die plaas voorkom en vergewis jouself van die risiko wat die geïdentifiseerde spesies vir jou kuddes inhou.
  • Dit is die moeite werd om ’n goeie weidingsrotasiestrategie in plek te hê.

Mense en gewerwelde diere is natuurlike gashere vir bosluise wat aan die superfamilie, Ixodoida, behoort en ook verwant is aan spinnekoppe. As draers van verskillende kiemspesies, kan bosluise siekteveroorsakend wees en die winsgewendheid van veeboerdery in Suidelike Afrika ernstig knou.

Hierdie eksterne parasiete word in enkel-, twee- en driegasheerbosluise verdeel, en in hierdie artikel kom die driegasheerbosluisgroep onder die soeklig.

Oorsig

Driegasheerbosluise het ’n larf- (meer aktief gedurende laatsomer en herfs), nimf- (winter) en volwasse stadium (somer). Die onvolwasse bosluise is onsigbaar en kom gewoonlik in groot getalle tydens die wintermaande op beeste en ander tussengashere soos tarentale, hase en skilpaaie voor.

In hul volwasse stadium kom die bosluise hoofsaaklik op beeste as die hoofgasheer voor, maar hulle word wel ook gevind by bokke, skape en wild. In teenstelling met eengasheerbloubosluise (56 dae onder ideale toestande), het driegasheerbosluise ’n baie langer lewensiklus van tussen vyf maande tot langer as ’n jaar.

Lees meer oor hoe om die ontwikkeling van bosluisweerstandigheid te bekamp.

Verskeie tipes driegasheerbosluise

Die volwasse bruinoorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus) veroorsaak oorabsesse met ’n piek tussen Januarie en Maart.

Simptomatiese behandeling is reaktief, duur en nie altyd bevredigend nie. Die bosluis dra ook die protosoïese parasiet, buffelafkomstige Theileria parva (T. parva) oor, wat korridorsiekte of Ooskuskoors veroorsaak en tot vrektes by beeste kan lei.

Ander Theileria-spesies kan ook siektes en vrektes in sekere wildsbokspesies veroorsaak, soos T. taurotragi in elande, asook T. sable in swartwitpense en bastergemsbokke (veral kalwers).

Rhipicephalus warburtoni, of die bruin verlammingsbosluis, kom meer algemeen voor in die Vrystaat, Noord-Kaap en sekere dele van die Noordoos-Kaap. Die bosluise heg aan die ore, kop, nek en bors van jong Angora-bokke, wat tot verlamming van die gasheer kan lei. Die blink bruinbosluis of Karoobruinbosluis (Rhipicephalus simus) kom in die oostelike streke van die land voor. Dit kan bosluisgalsiekte veroorsaak en kruip gewoonlik tussen die kloue van skape, bokke en beeste in wat sweerklou tot gevolg kan hê.

Lees meer oor bosluise se gedragspatrone.

In die noordelike en oostelike dele van die land veroorsaak die bontbosluis (Amblyomma hebraeum) hartwater wat deur die Ehrlichia ruminantium-organisme veroorsaak word. Die bosluis veroorsaak ook absesse (veral rondom die uier) en skede-absesse gedurende die somermaande. Draers van die bosluis is ook meer vatbaar vir die beesbrommer wat tot maaierbesmetting (spykerwurm) kan lei. Die Karooverlammingsbosluis (Ixodes rubicundus) kom in die Karoo en Suid- Vrystaat voor en veroorsaak verlamming deur middel van die neurotoksiene in die speeksel van die wyfiebosluis. Indien die bosluis verwyder word kan herstel redelik vinnig plaasvind, maar sou die monddele van die bosluis agterbly, sal verlamming voortduur.

Voorkoming en behandeling

Enkele voorkomingsmaatreëls en behandelingsmetodes om jou kudde gesond te hou kan ingestel word:

  • Identifiseer die bosluise wat op die plaas voorkom en vergewis jouself van die risiko wat die geïdentifiseerde spesies vir jou kuddes inhou.
  • Dit is die moeite werd om ’n goeie weidingsrotasiestrategie in plek te hê. ’n Kamprotasie ná ’n winterdip help om meergasheerbosluise gedurende die somermaande te beperk. Hou in gedagte dat driegasheerbosluise meer as een gasheer het, en daarom is dit wenslik om kampe vir minstens ses maande te laat rus.
  • Daar is verskeie middels beskikbaar vir die behandeling van bosluise, wat onder andere ivermektien, dip- en opgietmiddels insluit. Dit is wenslik om een middel te gebruik totdat dit nie meer doeltreffend werk nie. Wanneer van verskeie produkte gebruik gemaak word, raak bosluise weerstandig teen die verskillende aktiewe bestanddele daarin. Die goeie nuus is dat dit langer neem vir driegasheer- as eengasheerbosluise om weerstand op te bou teen parasietteenmiddels. Die rede hiervoor is dat hierdie groep bosluise gedurende hulle volle leeftyd nie net op vee alleen leef nie, en dus minder aan behandelingsmiddels blootgestel word. – Dr Leon de Bruyn, Kowie Veeartsenykliniek

Dr Leon de Bruyn is die senior veearts by Kowie Veeartsenykliniek in Port Alfred, en voorsitter van die Oos Kaapse en Karoo-takke van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVV). Vir meer inligting, kontak hom by 082 569 7958 of leon@kowie-vet.com.

Must Read

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk...