Friday, February 3, 2023

Riglyne vir beesdip en die beheer van weerstandsontwikkeling by bosluise

Estimated reading time: 6 minutes

Die gebruik van dipmiddels sal in die toekoms waarskynlik steeds die belangrikste hulpmiddel vir die toepassing van bosluisbeheer bly. Dr Tom Strydom, internasionale tegniese direkteur van anti-parasitiese middels en reproduksie by MSD Animal Health, sê egter dat bestaande metodes van bosluisbeheer hersien moet word. Daarmee saam moet nuwe bestuur- en beheerstrategieë gevestig word.

Volgens hom is dit juis nodig om die ontwikkeling van weerstand by bosluise teen dipmiddels te vertraag. Daar moet ook gepoog word om die nadelige uitwerking van dipmiddels op die omgewing te beperk, terwyl daar steeds aan die behoeftes van kliënte voldoen word.

Hy meen voorgestelde maatreëls rondom bosluisbeheer moet op die vermindering van toekomstige generasies van bosluisbevolkings gemik wees, ten einde die strategiese gebruik van plaagdoders te verminder of om dit oor tyd te implementeer. Suksesvolle bosluisbestuurspraktyke op ’n plaas behels dus ’n goeie begrip van die ekologie en epidemiologie van parasiete.

Lees meer oor bosluisoorgedraagde siektes hier.

Strategieë teen bosluise in beeste

Dr Strydom sê dat dipmiddels dikwels, met kort tussenperiodes, veral gedurende die piekseisoen (somermaande) toegedien word. Intervalle van behandeling met dipmiddels om enkelgasheerbosluise te beheer, word elke 21 dae in dié strategie toegepas. Dit kom daarop neer dat die behandeling op ál die bosluise in die parasitiese fase (larwes, nimfe en volwassenes) gefokus is.

’n Alternatiewe beheerstrategie om te oorweeg is die behandeling van diere slegs wanneer onaanvaarbare vlakke van besmetting voorkom. Dit staan as drempelbehandeling bekend. Dié benadering kan gevolg word wanneer voldoende ekologiese inligting beskikbaar is en bestuurstelsels dit moontlik maak.

Spesifieke bosluisgenerasies word sodoende behandel (ideaal gesproke die eerste generasie van die nuwe bosluisseisoen, wanneer besmettingsvlakke laag is), metmin tot geen skade aan die dier. DrStrydom sê dié strategie het ten doel om toekomstige generasies van bosluise te beperk en terselfdertyd die nodigheid vir behandeling later in die seisoen te verminder of selfs uit te skakel.

Geskikte middels vir bosluisbeheer

Suksesvolle en volhoubare metodes van bosluisbeheer op plase, sê hy, steun sterk op die korrekte toediening van ’n dipmiddel. Toedieningsmetodes geskied normaalweg deur ’n dompeldip, spreidip, handspuit, of die gebruik van opgiet- en inspuitbare samestellings.

’n Chemiese produk vir parasietbeheer moet vir die produsent ekonomies wees, en dit moet maklik toegedien kan word. Dit moet ook ’n vinnige uitwerking hê en verhoed dat bosluise eiers lê, sodat diere beskerm is teen daaropvolgende besmettings met bosluislarwes.

Daarmee saam moet dit ook omgewingsvriendelik wees, met minimale impak op nie-teiken organismes soos miskruiers. Hy sê ’n enkele produk waarteen bosluise nié weerstand sal ontwikkel nie, wat veilig vir diere en mense is, nié ’n lang ontrekkingstydperk vir melk en vleis het nie, en ’n breë-spektrum doeltreffendheid het, is ongelukkig nog nooit vervaardig nie.

Die laaste chemiese produk wat meer as 40 jaar gelede wêreldwyd ontwikkel is, is amitras, ’n opgietmiddel wat alle bosluisspesies teiken. Sedertdien is die makrosikliese laktone-plaagdoder en die groeireguleerder, fluazuroon, ontwikkel. Volgens dr Strydom is daar egter beperkinge tot dié produk. Dit is slegs geregistreer vir die beheer van enkelgasheerbosluise, wat reeds weerstandigheid daarteen op baie plase in Suid-Afrika en die wêreld ontwikkel het.

Tabel 1: Dipmiddels beskikbaar in Suid-Afrika. (Bron: Dr Tom Strydom, MSD Animal Health)

GroepAktiewe bestanddeel
OrganofosfateChlorfenvinfos
Sintetiese piretroïedeFlumetrien Deltametrien Alfa-sipermetrien Sipermetrien Alfametrien
Formamidiene /amidieneAmitras Simiasol
Makrosikliese laktoneIvermektien Doramektien Moksidektien Abamektien Eprinomektien
Bosluis-groeireguleerdersFluazuroon
FenielpirasoolFiproniel

Leer hoe om bloubosluise te stuit hier.

Riglyne vir toediening

Parasietweerstandigheid word gereeld as die rede vir ’n gebrek aan bosluisbeheer op diere voorgehou. Dr Strydom sê dat tensy daar konkrete bewyse van weerstand teen dipmiddels is, dit belangrik is om die korrekte dosis en toediening te bepaal. Dit speel net so ’n belangrike rol in bosluisbeheer as die gehalte van die produk en die potensiaal van weerstandsvorming teen ’n dipmiddel.

Sy wenke vir die korrekte toediening van dipmiddels is as volg:

  • Wanneer ’n dipmiddel met handbespuiting of spreidip toegedien word, moet die dipkonsentraat korrek voorberei word.
  • Deeglike benatting van die dier is nodig om te verseker dat die dip kontak maak met alle bosluise op die dier.
  • Behoorlike bestuur van dompeldiptenks of -baddens behels die korrekte vermenging van die dipoplossing wanneer die bad vir die eerste keer gevul word. Dit verseker dat die korrekte konsentrasie van die dipmiddel ten alle tye gebruik word.
  • Die korrekte aanvulling van die dipoplossing is ook noodsaaklik met daaropvolgende dipprosedures.
  • Lees die etiket op die produk en volg die instruksies rondom wateraanvulling noukeurig.

Onderdosering en weerstand

Opgietsamestellings word ook dikwels vir die ontwikkeling van bosluisweerstandigheid op plase blameer, sê dr Strydom, terwyl dit eintlik aan onderdosering toegeskryf kan word. Dit dra grootliks tot die ondoeltreffendheid van die produk en die ontwikkeling van bosluisweerstandigheid by.

Hy verduidelik dat die doeltreffendheid van ’n opgietsamestelling staatmaak op dié middel se vermoë om op die oppervlakte van die dier se vel te versprei. Alle gedeeltes van die dier waar bosluise voorkom moet bereik kan word. Die instruksies vir die meeste opgietsamestelings bepaal dat diere teen ’n dosis van 1m/10kg liggaamsgewig behandel moet word. Daarmee saam moet die diere op die rugkant (dorsaal), van agter die skedel of tussen die skouerblaaie, tot by die begin van die stertwortel behandel word.

Dit word aanbeveel dat beesrasse met ’n wye lyfraam, of diere wat in ’n goeie kondisie is, aan beide kante (ongeveer 10 tot 15cm vanaf die ruglyn) met die middel bedek word. Die totale dosis moet dus verdeel word, sodat die helfte aan die een kant en die res aan die ander kant van die dier toegedien word. Sodoende sal die produk na die ventrale dele van die dier se lyf versprei.

Vind uit hoe om bosluisweerstandigheid te voorkom onder jou kudde.

Bestuur van weerstandigheid

Dr Strydom sê die weerstand wat bosluise teen dipmiddels opbou is ’n natuurlike genetiese proses. Dit ontwikkel in ’n bosluispopulasie wat voortdurend aan die dipmiddel blootgestel word. Van die bosluise in die populasie word minder deur die middel aangetas en reproduseer dan, wat veroorsaak dat weerstand geneties na hul nageslag oorgedra word.

Bosluise se weerstandigheid teen chemikalieë in dipmiddels is oorerflik en solank chemikalieë gebruik word om parasiete te beheer, kan die proses van weerstandsontwikkeling nie gestop word nie. Die hooffaktor wat versnelde ontwikkeling van bosluisweerstandigheid op ’n plaas bevorder, sê hy, is die herhaaldelike gebruik van plaagdoders, met kort tussenperiodes. Die geïntegreerde gebruik van chemiese produkte met ander nie-chemiese metodes van bosluisbeheer sal altyd meer suksesvol wees.

Ander faktore wat die ontwikkeling van bosluisweerstandigheid versnel is behandelings in tye van die jaar wanneer die vrylewende refugia-bevolking laag is, byvoorbeeld tydens wintermaande, asook die gebruik van swakgehalte produkte, langwerkende produkte in tye van die jaar (winter) wanneer bosluisbesmettings laag is, en doserings wat laer of hoër as die aanbevole dosis is.

Sy raad om die ontwikkeling van weerstand in bosluise te vertraag sluit die volgende in:

  • Stel langer behandelingsintervalle in.
  • Beperk die getalle bosluise wat aan die plaagdoder blootgestel word deur die drempelbehandelingstrategie toe te pas. Dus, moenie diere behandel wat nie behandeling nodig het nie.
  • Vermy die gebruik van langwerkende produkte in tye van lae bosluisbesmetting.
  • Gebruik hoë-gehalte produkte teen die aanbevole dosis.
  • Fokus op bosluisbestande beesrasse.
  • Pas streng biosekuriteitsmaatreëls toe deur te verhoed dat bosluisbesmette diere van ander plase jou weidings met weerstandige bosluise besmet. Selfs grasbale wat vir voer aangekoop word kan met bosluislarwes besmet wees. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Tom Strydom by tom.strydom@merck.com.

Must read

RSG Landbou: 2 Februarie 2023 – geborg deur Plaas Media

Daneel Rossouw van Nedbank is eerste aan die woord in Donderdag se aflewering van RSG Landbou. Hy brei uit oor die uitdagings wat die landbousektor in 2023 in die gesig staar. Hy praat ook...

Grace Breeding’s NFT outperforms standard nitrogen fertilisers

Estimated reading time: 3 minutes Grace Breeding, a forward-thinking agricultural climate technology company developing biological-based products, recently unveiled the results of a field study conducted, in collaboration with University of Londrina (UEL), on maize...

Update on potato tuber moth in South Africa

Estimated reading time: 2 minutes Potato tuber moth remains a concern to many potato producers in South Africa’s key production areas. This pest causes severe damage to potatoes, which results in losses to growers...

January sees several new WOAH-reportable disease outbreaks

Estimated reading time: 3 minutes The Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development (DALRRD) has reported new foot-and-mouth disease (FMD) outbreaks as well as a new outbreak of African Swine Fever (ASF) to...

Graan SA bespreek Wes-Kaapse graansake

Estimated reading time: 7 minutes Graan SA het onlangs jaarvergaderings in vier verskillende streke in die Wes-Kaap, naamlik Streek 26 (Swartland), Streek 27 (Overberg), Streek 30 (Nuwe Era) en Streek 32 (Suid-Kaap), gehou. Tydens...