Onderskei tussen vrotpootjie en sweerklou

0
1870
Jannie Fourie

Vrotpootjie en sweerklou word dikwels met mekaar verwar. Jannie Fourie, die NWKV se produksieadviseur in Caledon, Wes-Kaap, verduidelik hoe produsente tussen dié twee siektes kan onderskei.

VROTPOOTJIE

Oorsaak en oordrag:

Vrotpootjie word deur die Dichelobacter nodus-bakterie veroorsaak. Dit is hoogs aansteeklik en enige wonde soos bosluisbytplekke, beserings of stukkende plekkies, is moontlike plekke waar kieme die kloue kan binnedring.

Die oopsper van kloutjies as die dier loop, verhoog die voorkoms van vrotpootjie. Swaarder diere soos ramme en swaar dragtige ooie is dus meer vatbaar. Jong skape is meer vatbaar as gevolg van ʼn swakker immuunstelsel.

In die somermaande, ná goeie reëns, is vrotpootjie een van die groot oorsake van mankheid by skape. Die kiem hou van ʼn klam, warm omgewing en kan vir tot twee weke in die omgewing oorleef en vir maande in die draerdier. In sekere gebiede kom vrotpootjie dwarsdeur die jaar voor, maar die organisme het ʼn minimum van 10°C en 50mm reën nodig om te oorleef.

Simptome:

  • Net die kloutjie is geraak.
  • Skape loop mank. Kloutjies is vuil en smetterig met ʼn slegte ruik. Die kloutjie is warm en pynlik en met hantering trek die skaap sy voet terug. Sommige skape staan op hul knieë. Skape vreet minder en verloor kondisie. Soos vrotpootjie vorder, word die sool en buitenste hoef beskadig. Die hoef word sag, krummelrig en los. Wanneer die horingagtige dele oopgesny word, loop daar onwelriekende grysgeel smetterigheid uit.

Behandeling:

  • Sonder aangetaste skape af en hou hulle op ’n droë sementvloer.
  • Knip aangetaste dele van die hoef met ʼn hoefskêr weeg. Maak seker alle aangetaste dele is skoongeknip, anders kan die siekte hervat.
  • Gebruik ʼn voetbad met 10%-sinksulfaat- of koper-oplossing en laat skape elke dag daardeur loop totdat die kloutjies droog en gesond lyk. Kontaktyd van 1 tot 2 minute sal voldoende wees.
  • Was die aangetaste dele met ʼn antiseptiese middel of waterstofperoksied en behandel daarna met antibiotiese sproei.
  • Spuit diere binnespiers met oksitetrasiklien.
  • Hou skape wat genees het in ’n aparte kudde, want hulle kan draerdiere wees.
  • In erge gevalle kan parafiengaas en verbande gebruik word. Vervang die verbande elke 2 tot 3 dae.
  • As ’n skaap nie op behandeling reageer nie, slag die dier.

Voorkoming:

  • In nat toestande, vermy modderige krale, vleierige kampe en nat aangeplante weiding.
  • Sny hoewe gereeld kort.
  • Modderige plekke op die plaas, soos waterkrippe wat lek en nat krale, dien as bron van besmetting en kan met landboukalk behandel word, want die kiem kan nie in ʼn alkaliese omgewing oorleef nie.
  • Hou alle diere vir vier weke uit besmette kampe.
  • As sinkvlakke laag is op jou plaas, kan lekaanvullings in voermengsels gebruik word.
  • Hou alle aangetaste skape apart.
  • Met die aankoop van skape, maak seker dat dit van ’n plaas kom wat skoon van vrotpootjie is.
  • Spuit skape twee keer per jaar met vitamien A in en maak seker van sinkvlakke met behulp van lekke of gebruik van middels op mark wat sink en vitamien A aanvul.
  • Dit is ’n goeie praktyk om diere voorkomend een keer per maand deur ʼn 10% sinksulfaat- of kopersulfaat-voetbad te jaag.
  • Hou deeglik rekords van diere wat behandel is en skot probleemdiere uit.
  • Sorg dat seleniumvlakke in diere korrek is. Dit help met siekteweerstand.
  • Selekteer streng teen vrotpootjie.

Benodigdhede vir vrotpootjie:

  • Hoefskêr
  • Wond-aërosol
  • Antibiotikum (oksitetrasiklien)
  • Ontsmettingsmiddel
  • Spuit en naalde
  • Voetbad met sink of kopersulfaat

SWEERKLOU

Oorsaak en oordrag:

Dit is ʼn bakteriële infeksie in die pootgewrig as gevolg van klein wonde veroorsaak deur beserings soos bosluise tussen die kloutjies, steekgras, duwweltjies, dorings, skerp klippe, los drade wat rondlê, diere wat ver moet loop en vars brande. Hierdie wonde kan mikroskopies klein wees, maar verleen toegang vir die bakterieë om die vel binne te dring. Die bont-, bontpoot-, hartwater- en kloutjiesbosluis is die grootste oorsaak van die bytplekke op skape se pote. Hierdie bosluise het groot monddele en veroorsaak groot wonde. Sweerklou kry jy normaalweg by swaar dragtige ooie en by swaar ramme. Sweerklou kom meer by ouer skape voor.

Simptome:

  • ’n Abses bokant of tussen die klouetjies.
  • Aan die begin loop die skaap mank en wil nie op die kloutjie trap nie.
  • Normaalweg word net een kloutjie aangetas.
  • Die poot is warm as mens daaraan vat, as gevolg van ʼn abses wat bokant die kloutjie of tussen die hoewe gevorm word. Swelling kan op die hoef en tussen die kloutjies gevoel word. Soms bars die abses oop met etter wat uit die wond loop. Die dier het baie pyn en met aanraking sal die skaap sy poot probeer wegtrek.

Behandeling:

  • Behandeling sal suksesvol wees indien dit betyds opgemerk word.
  • Maak die klou goed skoon en ontsmet wondjies.
  • Knip hoewe kort.
  • Absesse moet oopgemaak word vir dreinering en probeer om soveel as moontlik etter uit die wond te masseer.
  • Behandel met antibiotika en ’n anti-inflammatoriese middel.
  • As die gewrig beskadig is, moet die dier geslag word.
  • Spoel wonde uit met waterstofperoksied.
  • Spuit die wond met wondsproei.
  • Verbind wonde met parafiengaas en pleister en vervang elke drie dae.
  • Hou aangetaste skape op ’n skoon, droë plek en weg van gesonde skape.
  • As wonde nie genees nie, moet die dier van kant gemaak word.

Voorkoming:

  • Gebruik gereeld ʼn voetbad met ’n bosluisbeheermiddel en 10%-sinksulfaatoplossing en ook Kerol Veterinary Fluid (1ml per liter water).
  • Wend ’n opgiet-bosluismiddel tussen die kloue aan.
  • Vermy weidingskampe met skerp klippe, duwweltjies en dorings in weiding.
  • Doen gereelde bosluisbeheer.
  • Besproeide weiding kan ook ’n oorsaak wees dat die vel van pote sag word en verswak.
  • Jaag diere gereeld deur ’n 5% formalien-voetbad sodat dit die kloue en vel sterker maak.
  • Moenie swaar diere te ver laat loop nie.

Benodighede vir sweerklou:

  • Antibiotika (oksitetrasiklien)
  • Wondsproei
  • Waterstofperoksied
  • Parafiengaas en pleister
  • Ontsmettingsmiddel
  • Hoefskêr
  • Bosluisbeheermiddels (opgiet of dip)

Algemeen:

Mankheid by skape word kan ook weens siektes soos bloutong, voet-absesse, sogenaamde aarbei-vrotpootjie (veroorsaak deur swamagtige Dermatophilus congolensis-kiem), na-dip mankheid, seleniumtekorte (veral by lammers), asidose (suurpens) en laminitis (as gevolg van verkeerde byvoeding) wees. As jy nie weet wat mankheid veroorsaak nie, kontak jou veearts. – Jannie Fourie, NWKV

 

 

 

 

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY