Vrotpootjie: Moenie gras onder jou voete laat groei nie

Estimated reading time: 4 minutes

  • Vrotpootjie kom algemeen onder skape, beeste en bokke voor en is een van die hoofoorsake van mankheid by diere, veral wanneer nat areas op ’n plaas na goeie reën besmet word.
  • Volgens dr Dedré Nel van die Weltevrede Dierekliniek in Excelsior is die toepassing van voorkomende bestuurspraktyke op ’n plaas ’n belangrike verdedigingsmeganisme om vrotpootjie en die uitwerking daarvan op diere se produksie en voortplanting, te beperk.
  • Vrotpootjie word deur die Dichelobacter nodosus-bakterie veroorsaak. Dit leef in die grond en is hoogs aansteeklik, anaërobies (leef in die afwesigheid van suurstof) en floreer in warm, nat en modderige toestande.
  • Dr Nel beveel aan dat ingekoopte diere eers vir langer as ’n maand in kwarantyn geplaas word. Die gebruik van ’n voetbad word ook aanbeveel voordat ingekoopte diere by ’n bestaande kudde aansluit.
  • Dit is ook tot die produsent se voordeel om streng vir vrotpootjie te selekteer en probleemdiere uit te skot.

Vrotpootjie kom algemeen onder skape, beeste en bokke voor en is een van die hoofoorsake van mankheid by diere, veral wanneer nat areas op ’n plaas na goeie reën besmet word. Dit is ’n klippie in die skoen van talle produsente, aangesien baie tyd en geld jaarliks verlore gaan in pogings om dié siekte te beheer.

Dit verg moeite en arbeid om siektesimptome te beheer en uit te skakel, terwyl dié toestand betyds deur middel van goeie bestuurspraktyke in groot- en kleinveeproduksie-eenhede voorkom kan word.

Volgens dr Dedré Nel van die Weltevrede Dierekliniek in Excelsior is die toepassing van voorkomende bestuurspraktyke op ’n plaas ’n belangrike verdedigingsmeganisme om vrotpootjie en die uitwerking daarvan op diere se produksie en voortplanting, te beperk. Omgewingsbestuur en goeie bestuurspraktyke is egter ’n langtermynproses wat toewyding verg. Desnieteenstaande is dit ’n noodsaaklike stap wat tot voordeel van die dier se gesondheid geneem moet word. Dr Nel deel ’n paar van hierdie bestuurspraktyke met lesers.

Leer die verskil tussen vrotpootjie en sweerklou.

Oorsake en omgewingstoestande

Vrotpootjie word deur die Dichelobacter nodosus-bakterie veroorsaak. Dit leef in die grond en is hoogs aansteeklik, anaërobies (leef in die afwesigheid van suurstof) en floreer in warm, nat en modderige toestande. Wanneer die bakterie beskadigde vel binnedring, veroorsaak dit infeksie in die weefsel in die omgewing van die dier se klou. Die organismes kan die vel deur skrape, krake, gate of bosluisbytplekke binnedring. Bronne wat beserings in ’n kraal en in die veld kan veroorsaak, moet daarom beperk word. Die kloue moet droog en skoon gehou word.

Die bakterieë kan vir ’n paar weke in die omgewing en vir maande in die draerdier oorleef. Juis daarom is dit noodsaaklik dat diere van ’n betroubare bron en vrotpootjie-veilige gebiede aangekoop word. Dit is ’n belangrike voorkomende maatreël om te verhoed dat besmette diere in ’n onbesmette kudde ingebring word.

Voorkoming en behandeling

Dr Nel beveel aan dat ingekoopte diere eers vir langer as ’n maand in kwarantyn geplaas word. Die gebruik van ’n voetbad word ook aanbeveel voordat ingekoopte diere by ’n bestaande kudde aansluit. Daarmee saam is dit ook voordelig om skape en beeste twee keer ’n jaar deur ’n voetbad met 10% sink- of kopersulfaat te laat loop. Ingekoopte diere se kloue moet nagegaan en geknip word om bakterieë uit te skakel en toe te laat dat lug die hoef bereik.

Hoewe moet deurlopend in ’n goeie kondisie gehou word. Onder normale omstandighede kan skaapkloue een tot twee keer ’n jaar gesny word vir ’n plat sooloppervlakte, en om modder en mis in die hoef te verminder.

Daar moet ook gelet word op omgewingstoestande. ’n Droë, skoon omgewing kan help om die risiko van bakteriële infeksies by skape en beeste te verminder. Ekstra sorg moet veral tydens ’n nat seisoen getref word met higiëniese toestande wat gehandhaaf word om uitbrekings in intensiewe en ekstensiewe stelsels te verminder. Besoedelde sementblokke of beton moet ook gereeld skoongemaak en mis verwyder word. Voerkrale kan met landboukalk behandel word; die bakterieë oorleef nie in ’n alkaliese omgewing nie.

Vertrapte, modderige en oorbeweide weiveld hou ook ’n gevaar in. Diere moet eerder op droë plekke staan of, indien moontlik, in hoërliggende gebiede op die plaas wei. In nat toestande moet voer- en waterkrippe na droër gedeeltes verskuif word.

Algemene gesondheid

Dr Nel raai produsente aan om deurlopend op diere se bene en kloue te let. Indien mankheid voorkom, is dit wys om ’n veearts in te roep vir ’n korrekte diagnose.

Dit is ook tot die produsent se voordeel om streng vir vrotpootjie te selekteer en probleemdiere uit te skot. ’n Gebalanseerde dieet en goeie-gehalte voer is noodsaaklik. Produsente moet verseker dat hul diere genoegsame vitamiene en minerale soos sink en koper deur middel van lekaanvullings inkry. Dit sal hulle hoewe gesond hou en hul immuunstelsels versterk, sodat die bakterieë beveg kan word. Skape kan twee keer per jaar met vitamien A gespuit word. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Dedré Nel by dedre.nel24@gmail.com.

Popular stories