Estimated reading time: 7 minutes
- Grensdrade hou nie net die regte goed binne en verkeerde goed buite nie, maar sorg ook dat ’n produsent aan die regte kant van sy buurman en die gereg bly.
- Landbouers het bepaalde regte en daarom het hy/sy bepaalde verpligtinge wat met die reg verband hou.
- Oor die algemeen is dit belangrik dat produsente mooi moet dink wat hulle met heinings wil beheer.
- Daar is basies drie tipes heinings – tydelike, semi-permanente en permanente omheinings en elkeen se instandhouding sal verskil.
- Produsente kan slim tegnologie soos rekenaartoepassings inspan om te help met die instandhouding van heinings.
Nes die vel ’n grens vorm om goeie goed binne en slegte goed buite te hou, is heinings nodig vir enige sinvolle boerdery. En soos ’n vel soms pleister en verbande benodig, moet ’n heining gereeld in stand gehou word, anders sal dit tot ’n groot finansiële en arbeidsintensiewe kopseer lei.
Grensdrade hou nie net die regte goed binne en verkeerde goed buite nie, maar sorg ook dat ’n produsent aan die regte kant van sy buurman en die gereg bly.
Lees meer oor wat die reg sê oor grensheinings hier.
Heinings en wetgewing
“Landbouers het bepaalde regte en daarom het hy/sy bepaalde verpligtinge wat met die reg verband hou,” sê Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO). “Met ander woorde – jy het die reg om beeste aan te hou, maar daarom is dit jou plig om jou grensdrade in stand te hou.”
Omheining kan beskou word as ’n maatskaplike bestuursinstrument met verskillende doelwitte, soos die afbakening van eiendom, beskerming van grondgebruik tussen gewasse en vee, asook die bestuur van konflik tussen mense en wilde diere.
“In Suid-Afrika is omheining só ’n belangrike saak, dat dit ingesluit is in die Grondwet van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996),” sê Willie en voeg by dat ’n reeks ander wetgewing op verskeie regeringsvlakke oor heinings handel.
Slegs op nasionale vlak sluit wetgewing oor heinings in: Die Wilddiefstalwet, 1991 (Wet 105 van 1991), die Omheiningswet, 1963 (Wet 31 van 1963), die Veediefstalwet, 1959 (Wet 57 van 1959), die Dieregesondheidswet, 1984 (Wet 35 van 1984), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit, 2004 (Wet 10 van 2004), die Nasionale Omgewingsbestuurswet, 1998 (Wet 107 van 1998), die Wet op Nasionale Parke, 1976 (Wet 57 van 1976) en die Wet op die Suid-Afrikaanse Padagentskap Beperk en Nasionale Paaie, 1998 (Wet 7 van 1998).
Lees meer wat die wet sê oor oortreding hier.
Die ware toedrag van sake
Ten spyte van al hierdie wetgewing moet ‘n mens wonder of grondeienaars dan hul grensdrade genoegsaam in stand hou?
“Ry net op enige pad in die land en jy sal sien wat ’n probleem vervalle grensdrade is,” sê James Faber, voorsitter van die RPO (en Veeplaas se 2022 Klimaatslim Ambassadeur). “Rondlopervee kan orals langs die pad gesien word en dit lyk asof daar ’n traak-my-nie-agtige kultuur rondom die instandhouding van heinings posgevat het.”
Natuurlik moet ‘n mens noem dat die staat self nie al die vereistes, soos uiteengesit in wetgewing, nakom nie.
Daar is groot onsekerheid oor ander kwessies, soos wie verantwoordelik is vir die omheining van kommunale gebiede. Hierdie onsekerhede bedreig op hul beurt biosekuriteit. “Sonder behoorlike heinings is dit onmoontlik om biosekuriteit te bewerkstelling en gevolglik sal ons nooit siektes, soos besmetlike misgeboorte (BM) of bek-en-klouseer, kan bekamp nie,” sê James.
Oor die algemeen is dit belangrik dat produsente mooi moet dink wat hulle met heinings wil beheer. “Vir ongediertes gebruik jy ‘n totaal ander taktiek as om bloot diere in ’n kraal te hou,” sê James. “Dit bly egter belangrik om heinings volledig te herstel – ongeag of dit krag- of ogiesdraad is.”
Grensdrade hou nie net die regte goed binne en verkeerde goed buite nie, maar sorg ook dat ’n produsent aan die regte kant van sy buurman en die gereg bly.
Koste van staal
“ ’n Heining is ’n strategiese, kapitale bate en daarom moet ’n produsent dit tydig in stand hou,” sê James en voeg by dat stygende produksiekoste nie as ’n verskoning gebruik moet word om nie tydige heiningherstelwerk te doen nie.
Dit is egter ’n realiteit dat staalpryse sedert Covid-19 sterk gestyg het en die Suid-Afrikaanse staalvervaardiger, ArcelorMittal, voorspel dat pryse verder sal styg danksy ‘n internasionale verhoging in die vraag en die verswakte Rand.
Mark Smit, verkoopsbestuurder by Gallagher, sê in onlangse jare het verhoogde staalpryse veral groot prysverhogings by groter pale en losstaande heinings tot gevolg gehad.
Lees meer oor die waarde van bye in die herstel van plantasies hier.
Hou jou bate in stand
Daar is basies drie tipes heinings – tydelike, semi-permanente en permanente omheinings en elkeen se instandhouding sal verskil. Mark sê al hierdie heinings moet op ’n gereelde basis geïnspekteer en in stand gehou word. “Loop elke drie tot ses maande om jou groot heinings om inspeksie te doen en te verseker dat die heining steeds werk. Kleiner heinings, soos dié rondom die plaasopstal, hoef slegs elke halfjaar gediens te word.”
Mark sê instandhouding is vir verskeie redes belangrik, soos lewensveiligheid en biosekuriteit. “Heinings kan ’n vroegtydige waarskuwing aan eienaars stuur indien iets verkeerd loop, maar as dit nie in stand gehou word nie gaan die heining nie dié doel dien nie.”
Dit geld veral vir moderne, geëlektrifiseerde heinings en eienaars moet hulself vergewis van hoe hierdie heinings – veral sonkragheinings – se instandhouding van tradisionele heinings s’n verskil.
“Wanneer dit by sonkragheinings kom, is die grootste uitdaging dat die battery gereeld hersien moet word om te verseker dat dit steeds doeltreffend is. Dit is belangrik dat die sonkragstelsel se regulerende battery en omsetter (inverter) ten alle tye moet werk, anders gaan die heining nie werk nie.”
Omhein slimmer
Mark sê produsente kan slim tegnologie soos rekenaartoepassings inspan om te help met die instandhouding van heinings. “Hierdie tipe tegnologie kan grondeienaars help om self hul heinings te inspekteer en vinnig te verseker dat al die koppelings steeds netjies en funksioneel is. Tegnologie kan help om te verseker dat geen isoleerders intussen gekraak het nie.”
“Hierdie tipe tegnologie hou uiteindelik jou kostes laag, omdat niemand ’n fisiese inspeksie hoef te doen nie,” verduidelik Mark.
Omheiningsraad uit Verenigde State
Die Universiteit van Tennessee in Amerika het riglyne ontwikkel waarin enkele punte uitgelig is wat produsente kan help om hul heinings in stand te hou.
- Sorg dat die spanning op die heiningdraad stewig bly. Heinings sal natuurlikerwys met verloop van tyd slap word. Indien draadverstywings (tighteners) gebruik word, moet dié versterkers minstens twee keer per jaar nagegaan word. Ander heinings kan stywer vasgedraai word of klein verstellings kan gemaak word deur klein kinkels of voue met behulp van ’n tang, ’n hamer of spesiale doelmatige gereedskap in die draad te maak. Splits gebreekte drade wanneer nodig.
- Herstel of vervang hoekpale sodra swak plekke voorkom. Enige los drade moet geheg word.
- Verweerde ogiesdraad kan herstel word en nog ’n paar jaar hou deur ’n geëlektrifiseerde draad aan een of albei kante van die heining te laat loop. Maak dit met lusdrade (offset brackets) aan die ou heining vas. Hierdie lusdrade word van gegalvaniseerde hoëtrekdraad gemaak en word maklik aan die bestaande heining geheg. Dit moet op twee derdes van die hoogte van die diere wat beheer moet word, vasgemaak word. Maak dit verkieslik vas langs pale wat dit meer stabiel sal hou.
- Gebruik onkruiddoders of meganiese metodes om van onkruid en rankplante om grensdrade ontslae te raak. Grasse en onkruid wat met die draad in kontak kom kan die heining se doeltreffendheid affekteer. ’n Goedkoop draadtoetser moet gereeld gebruik word om te verseker dat die heining steeds funksioneel is.
- ’n Skrynwerkersvoorskoot is handig om spykers, krammetjies en klein gereedskap te stoor terwyl jy werk. ’n Goeie paar handskoene is natuurlik baie belangrik, asook ’n gespesialiseerde draadtang wat ’n uitstekende belegging is vir enigiemand wat heinings oprig of in stand moet hou.
James raai produsente aan om ag te slaan op die Engelse spreekwoord: “A stich in time often saves nine.” Maak seker jy doen jou heining-onderhoud regoor die hele plaas. – Susan Marais, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Mark Smit by 083 297 6079, Willie Clack by 082 574 2653 of James Faber by 083 292 2556.
